Category Archives: Josua

Jos 21 (8 Jun)

Ons het gister van die Asielstede gelees en vandag lees ons van die Levitiese stede. Die interessante is dat die stede waar die Leviete sou tuisgaan, dieselfde stede was waar mense asiel kon gaan vind.

Dit is nie toevallig dat daar waar mense genade (asiel) gevind het, die Here baie tasbaar beliggaam was (die Leviete) nie. Die teenwoordigheid van die Leviete moes iets uitbeeld van die genade wat God beskik.

Sou ek nie so kon leef dat my blote teenwoordigheid by mense, ook iets van Jesus se genade vir hulle beliggaam nie?

Josua 20 (7 Jun)

Die Asielstede was ‘n konsep wat geskep is om bloedwraak te keer. As dit nie daar was nie, sou die land in wanorde en chaos kon verval omdat elkeen soos hy self goed dink, reg in eie hande kon neem. Deur 6 Asielstede te versprei oor die hele land, was daar ‘n buffer geskep teen wraak.

Daar is iets aan die verskynsel van Asielstede wat my sterk herinner aan die woorde van Jesus. Dit is ons natuur om wraak te wil neem. Maar Jesus ontmoedig die gebruik van “‘n oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand”. Hy propageer vergifnis. Hy wil ook sien dat daar ‘n einde aan wraak kom.

Dit is presies die gesindheid wat agter die Asielstede sit. Laat ons dus nooit sê die God van die Nuwe Testament is genadig en die God van die Ou Testament is wraakgierig nie. Reeds in die Ou Testament vind ons die spore van Jesus.

Josua 19 (6 Junie)

In hoofstuk 18 het ons gesien dat daar nog 7 stamme was wat nie grond ontvang het nie. Hier vind ons die voltooing van die opdrag toe hierdie 7 stamme ook hulle grond in ontvangs neem. Die manier waarop hulle die grond toegedeel het, was deur loting.

Die mooi lê vir my daarin dat hulle hierdie verdeling en loting “in die teenwoordigheid van die Here, by die ingang van die tent van ontmoeting” gedoen het. Die taak was oënskynlik prakties van aard, maar vir hulle was dit ‘n geestelike handeling.

Wat sou gebeur as ek al my take wat oënskynlik “alledaags” is, beskou as aksies wat geestelike betekenis het? Skielik sou my werk, my roeping word. My verhouding met my gesin, sou my Godgegewe verantwoordelikheid word. Dit klink vir my of dit is hoe dit hoort.

Josua 18 (5 Jun)

Josua het vir die Israeliete gesê:”Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here julle God van julle voorvaders vir julle gegee het?” (Vers 3)

Is dit nie wat ons probleem ook so dikwels is nie? Dat ons passief is nie? Die beloofde land wat ek en jy moet inneem is die oorwinningslewe in Christus. ‘n Lewe waarin daar deurbrake plaasvind in die terreine waar sondes ons vashou. Ons moet dit oorwin, maar ons talm.

Die Here het ook vir ons reeds die land gegee. Al wat ons moet doen is om dit in besit te neem. Ons moet intensioneel daaroor wees.

Josua 17 (4 Jun)

Ons het almal iemand nodig wat vir ons kan help met ‘n vars perspektief op ons probleme.

So kry ons die nakomelinge van Josef wat vir Josua vir groter grond kom vra. Hulle rede is “Ons is baie mense” (vers14).

Josua gee hulle gelyk en staan aan hulle ‘n groter grondgebied toe. Hulle is egter nie tevrede nie en vra ‘n nóg groter gedeelte. Hulle probleem met die gedeelte wat hy vir hulle toestaan is dat daar Kanaäniete is wat ysterstrydwaens het.

Maar hierdie keer gee Josua nie in nie. Die rede wat hy aanvoer is: “Julle is baie mense. Julle sal die Kanaäniete verdryf”.

Interessant dat wat hulle gedink het hulle probleem is, volgens Josua juis hulle sterkpunt is. Wat sou gebeur as ek vandag so na my uitdagings kyk?

Josua 15 (3 Junie)

Otniël sou nie die vrymoedigheid gehad het om vir Kaleb ‘n vrugbare stuk grond te vra nie. Was dit nie vir Kaleb se dogter Aksa wat hom aangemoedig het (vers 18) om te vra nie -en toe later sommer self gevra het nie (vers 19), sou hy tevrede moes bly met wat hy ontvang het.

Interessant watter verskil dit gemaak het die oomblik toe Otniël ‘n emosionele band met Kaleb verkry het (sy dogter as vrou).

Is ons nie maar ook so met die Here nie? Voel ons nie ook maar dikwels of ons ‘n gebrek aan vrymoedigheid het om te vra nie? Ek hoor soveel keer mense se: “Ek vra nie baie vir die Here nie, hierdie en hierdie” en dan noem hulle iets klein wat hulle na aan die hart le. Dink ons dit is vroom om nie die Here lastig te val nie?

Ons het ook ‘n emosionele band met die Skepper wat ons op ‘n unieke manier bind aan Hom en wat maak dat ons vrymoedigheid kan neem om enige iets te vra: Daardie band met die Vader is sy Seun, Jesus Christus.

Moenie terughou vandag nie. Vra die Here dit wat op jou hart is.

Jos 14 (2 Jun)

Vandag se hoofstuk skep die gevoel van “afsluiting”. Die laaste dele van die land word verdeel, en so gehoorsaam die Israeliete die opdrag wat destyds aan Moses gegee was. Die opdrag word voltooi, en daarom is die laaste vers so gepas: “Die oorlog was verby, die land het gerus”.

Die mooi vir my is in Kaleb se verhaal. Hy was destyds een van die verkenners wat saam met Joshua, positiewe terugvoer oor die land aan Moses gegee het. Vandag kom ontvang hy die gebied in Hebron wat aan hom beloof is. Op hierdie stadium is hy 85 jaar oud en in sy eie woorde: net so sterk as wat hy 40 jaar gelede was. Volgens hom sien hy nog kans om oorlog te maak en behoue terug te kom. Daarom vra hy dat Hebron nou aan hom gegee word. Hoewel daar nog Enakiete in die omgewing is, sien hy kans om met hulle af te reken.

Sy dapperheid sit ‘n glimlag op my gesig. Ek admireer dit van hom dat hy nog vir soveel kans sien op sy ouderdom.

Ons mag ook vir die Here vra om mooi oud te word. Ons mag Hom om sy guns vra vir gesondheid en krag tot op ons oudag.

Jos 13 (1 Jun)

Die heel eerste opdrag aan Josua was ook die opdrag wat sy lewe lank ge-eggo het: Neem die land in besit. Dit was ‘n baie groot taak en inderdaad ‘n lewenslange proses. Nou aan die einde van Josua se lewe moet hierdie opdrag voltooi word en kom die opvolgopdrag: Verdeel die land tussen die stamme.

Ek wonder of ons ook ‘n opdrag van die Here het wat ‘n lewenslange roeping is? Wat sou dit wees? Miskien om as kind van God Hom te eer en dien met ons hele lewe. Of miskien om sy koninkryk hier op aarde te laat seevier. Of om meer en meer ‘n oorwinningslewe te voer en op ‘n geestelike manier die “beloofde land” in besit te neem.

Wat dit ook al is wat jy geroep voel om met jou lewe te doen, mag ons enduit die Here dien met deursettingsvermoe, toewyding en liefde.

Josua 12 (7 Mei)

Mens lees maklik oor die lys van name van almal wat oorwin is. Vir ons voel dit soos ‘n sinnelose opeenstapeling van name. Ons vergeet dat agter elkeen van hierdie veldslae ‘n gebed sit. Hierdie oorwinnings is die resultaat van geloof. Die inname van die beloofde land was ‘n geloofsdaad.

Kom ons onthou dat daar ook krag agter ons gebede sit.

Josua 11 (6 Mei)

Josua 11 lees moeilik. Dit is moeilik om opgewonde te raak oor soveel mense wat in die naam van die Here doodgemaak is. Mens moet egter onthou dat ons hier deels ook met ‘n hiperbool te make kry. As dit sê dat almal uitgeroei is, bedoel dit nie letterlik dat ieder en elkeen doodgemaak is nie. Ons weet dit, want later sien ons dat Israel dieselfde volke weer teëkom. Dit is dus eerder ‘n skryftegniek om aan te toon dat Israel ‘n volslae oorwinning behaal het.

Ten spyte van die frank smaak wat die baie oorlog in jou mond laat, is daar tog baie lesse uit hierdie gedeelte te haal. Een daarvan is dat wanneer jy volledig gehoorsaam is, daar ook ‘n tyd van rus kom. Hoofstuk 11 sluit hiermee af. Nadat die Israeliete gedoen het wat hulle moes, het die Here vir hulle ‘n tyd van rus gegee.

Het jy ook al gevoel hoe probleme in sarsies kom? Het jy al ervaar hoe daar na ‘n tyd van beproewing, ook ‘n tyd van rus kom? Hou gerus dit in gedagte die volgende keer wanneer jy vorentoe beur.