Category Archives: Job

Job 37

Elihu is in hierdie voorlaaste hoofstuk van die boek Job aan die woord. Sy hoofargument is om Job te herinner aan God soewereiniteit – bedoelende die feit dat God ontsagwekkend groot is en die finale seggenskap in ons lewens het. Hy sê aan Job dat mens veral onder die indruk van God se grootheid kom as mens na die natuur kyk:

“Luister hierna, Job, staan stil en dink na oor die wonderdade van God. Weet jy hoe Hy dit alles voorberei, hoe Hy die lig deur die wolke laat breek? Weet jy hoe die wolke sweef? Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is.”

Dit is alles retoriese vrae waarop die antwoord vir Job natuurlik “nee” was, maar vir ons “ja”. Die mense in die Bybelse tyd het nog presies geweet hoe werk die natuur nie. Ons het vandag beslis ‘n beter greep op die wetenskap.

Maar iets wat by ons vandag ontbreek, is wat filosowe “enchantment” noem – kom ons sê “betowering” of “verwondering”. Die kenmerk van ons tyd is in teendeel “disenchantment”. Ons kan alles verklaar. Ons het ‘n rede vir alles. En tog is ons armer in ons menswees. Niks fassineer ons tot die mate dat dit ons betower of verwonderd laat nie.

Nie eers die gedagte dat daar ‘n God is, verwonder ons meer nie. Al ons “kennis” het ons so afgestomp dat die lewe nou afgeplat is.

Kennis is uiteraard goed. Die wetenskap is beslis ‘n pluspunt en iets om na te jaag. Maar as meerdere kennis nie groter ontsag by ons vir God opwek nie, dan gebruik ons dit verkeerd.

Kom ons gebruik vandag om êrens te gaan stilstaan en net weer die wolke te bewonder, of ‘n voëltjie se sang, of die oë van ons geliefdes…en dan onthou ons daar sit ‘n Skepper agter dit alles wat soewerein is.

Job 35

Elihu het ‘n baie interessante beskouing van sonde. Van ál Job se vriende voel dit vir my het hý meeste sin gepraat. Alles wat hy gesê het is natuurlik nie goeie raad gewees nie, maar baie van dit was.

In hoofstuk 35 lewer Elihu repliek op Job se mismoedigheid. Job sê aan die een kant dat sy saak voor God skoon is en dat hy dat hy verwag om geregtigheid van God te ontvang. Maar in dieselfde asem vra Job of dit regtig die moeite werd is om nie te sondig nie (vers 2 en 3). Daarop sê Elihu vir hom:

“Kyk op, kyk na die hemel,
kyk na die wolke hoog bokant jou:
as jy sondig, wat doen dit aan God,
as jy baie keer oortree,
hoe raak dit Hom,
as jy sonder sonde is,
wat baat dit Hom,
wat kry Hy van jou?
Jou sonde raak jou medemens
en jou onskuld raak jou medemens.” (Job 35:5-8)

Dit is ‘n baie goeie waarneming van Elihu. Party mense dink mos hulle kan God “terugkry” as hulle sonde doen. Hulle is om een of ander rede kwaad vir die Here, en nou wil hulle hul oorgee aan sonde om Hom as’t ware seer te maak. Job het byna-byna in hierdie kategorie beland.

Maar daardie sonde wat ons doen, maak niks aan God nie. Dit verwoes wel die mense rondom ons. Dit vernietig op die ou einde onsself. Maar dit maak niks aan God nie.

Dit is belangrik om dit te onthou in ons eie lewe ook. My sonde doen afbreek aan die feit dat ek na die beeld van God geskep is. As ek sonde doen, is ek nie ‘n getroue weerspieeling van hoe God regtig is nie. Die Here neem daardie wanvoorstelling van Hom nie ligtelik op nie. Maar die uiteinde is dat dit die mense rondom my en ekself is, wat vernietig word deur sonde.

Job 29

Die hele hoofstuk 29 van Job besing Job sy goeie eienskappe. Ek lig net so 2 verse uit:

“Ek was oë vir die blindes
en voete vir die kreupeles,
ek was ’n vader vir die armes,
ek het selfs onbekendes se regsaak
behartig.
Ek het die mag van dié
wat onreg doen, gebreek,
ek het die prooi uit hulle tande
weggeruk.”

Dit maak mens eintlik ongemaklik om te hoor hoe Job vir ‘n hele hoofstuk lank sy eie lof besing. Dit grens vir ons aan onbeskaamde spog…

Mens moet hierdie hoofstuk teen die res van die groter boek se teologie verstaan. Die groter boek Job probeer wegkom van die heersende gedagte van sy tyd (en ons s’n) dat dit altyd goed gaan met goeie mense – en as dit met jou sleg gaan is dit omdat jy sonde gedoen het.

Om daardie rede noem Job vir ‘n hele hoofstuk lank al sy goeie punte op. Dit vorm as’t ware sy verdediging. Niemand moet meer kan sê dat Job swaarkry omdat hy sonde het nie, want hy het waarlik Godvresend geleef.

Aan die ander kant is dit dalk ook goed om vir ‘n oomblik stil te staan by die emosie wat ons beleef wanneer ons hierdie lees. Dalk is ons ongemaklik met Job se spoggery omdat ons onsself in sy spoggery raaksien.

Dikwels probeer ek immers my goeie dade vir die Here aanbied as “rede” hoekom Hy my mag (of moet) seën. Bewustelik of onbewustelik maak die gedagte van genade ons heeltemal onseker. Ons wil die Here se guns verdien. Dit voel vir ons as ons iets kan aanbied as verdienste, dan kan ons groter sekerheid hê dat ons God se guns gaan beleef.

Maar soos jy weet werk dit glad nie so nie. Dit is die grootste gevoel van ontmagtiging wat oor jou kom as jy besef dat jy niks vir die Here kan aanbied om méér van jou te hou nie. Maar dit is gelykertyd ook die grootste gevoel van vryheid.

Kom ons vat vandag ons lysies van goeie eienskappe, en ons gooi dit in die asblik. En dan kom ons na die Here toe net soos ons is: met leë hande.

Job 20

In hierdie hoofstuk is dit weer Sofar, een van Job se vriende, wat in die boek aan die woord is. Job het homself in die vorige hoofstuk verontskuldig en gesê dit is nie sonde wat aanleiding gegee het tot hierdie lyding van hom nie. Nou is Sofar ontsteld dat iemand kan voorgee dat lyding hom oorkom, sonder dat sy sonde die oorsaak daarvan is.

Onthou: Die Ou Testamentiese mens het geglo as daar iets tragies met jou gebeur, dan is dit omdat daar sonde in jou lewe is (ongelukkig dink baie óns dit nog steeds!). En die héle boek Job word geskryf om hierdie wanpersepsie reg te stel. Sofar weet nie wat “agter die skerms” in die hemel (in die eerste paar hoofstukke) gebeur het tussen God en Satan nie. Daarom hou hy in sy onkunde vol dat Job sekerlik armes verdruk het (vers 19), gulsig was (vers 20) of teen God in verset gekom het (vers 29). Waarom anders kom hierdie vreeslike dinge oor Job?

Die les wat ek hieruit leer is dus om nóóít in die strik te trap en verklarings te gee oor hoekom trauma en swaarkry iemand tref nie. Mense doen dit mos dikwels:Jy kry kanker en dink dit is omdat God vir my kwaad is oor iets. Jou lewensmaat kom in ‘n ongeluk en jy dink dit is omdat ek die persoon liewer het as vir God. Jou kind verdrink en jy dink dit is omdat die Here my wil louter. Sofar was verkeerd in sy aannames, en ons is ook.

Sofar se woorde is betekenisloos en sonder nut vir Job. Hy sou soveel meer vir Job beteken het as hy net by sy vriend gesit het en saam gehuil het oor sy verlies. Mag dit eerder ons benadering wees teenoor iemand wees in hartseer – eerder as om goedkoop antwoorde te gee waarom hartseer plaasvind.

Job 19

Job is in hierdie hoofstuk van die boek aan die woord. Hy sê: “weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen en in sy net gevange hou” (Job 19:6)

Nou moet ons sy woorde mooi bedink: Onthou in die eerste plek dat hy dit sê in teenreaksie op sy vriende wat hom daarvan beskuldig dat al die lyding hom oorkom omdat hy sonde gedoen het. Ons en Job weet dit is nie waar nie. Maar Job is nie bewus van die ooreenkoms wat God met Satan het nie nie. Daarom is Job in hierdie verse net so verkeerd soos sy vriende deur lyding aan God toe te skryf! Op ‘n soortgelyke wyse loop óns die gevaar wanneer ons foutiewelik leed en smart aan ‘n liefdevolle God toeskryf – dít terwyl ons so beperkte perspektief (net soos Job) op die realiteit het.

Job het wél te midde van sy beperkte perspektief, besonderse geloof openbaar. Hy gaan voort om te sê:

“Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.” (Job 19:25-27)

‘n Losser is iemand wat ‘n slaaf vrykoop of uitkoms vir ‘n weduwee gebring het. Job verklaar dat God sy Losser is. Heimlik wéét hy dat God aan sy kant is en vir hom uitkoms sal bring. In ag genome die feit dat Job eintlik nog onder die indruk is dat dit God is wat hom pynig, is hierdie hunkering van Job merkwaardig. Dit is eintlik geloof wat ons sou verwag by ‘n Nuwe Testamentiese gelowige. Veral omdat Job hier praat van lewe na die dood – iets wat die Ou Testamentiese mens op hierdie stadium nog nie aan geglo het nie. Hulle het geglo almal gaan na “hades” die doderyk wanneer jy te sterwe kom.

Óns as Nuwe Testamentiese gelowiges sou met ander woorde Job 19:25-27 in ‘n voller lig kon beskou teen die agtergrond van ons “Losser”, Jesus Christus. Mag ons ook midde in ons beproewinge wéét dat God vír ons is. Wie kan teen ons wees?

Job 15

Dit is altyd vir my interessant as mens Job lees, wat in jou gemoed gebeur. Neem byvoorbeeld vandag se gedeelte waar Elifas aan die woord is.

Met ‘n eerste oogopslag klink alles wat Elifas sê so mooi en so reg. Dit is vreeslik vroom – jy wil dit amper “highlight” vanweë die mooiheid en dan onthou jy dat Elifas eintlik verkeerd was…

Elifas was immers een van Job se vriende wat al die tradisionele antwoorde, vroom, godsdienstige antwoorde op lyding gee. Hy het aanvaar sy antwoorde was só waar, dat God dit eintlik self kon sê. 

En tog was hy verkeerd. Hy was nie net verkeerd in sy verstaan nie, maar ook hengse hoogmoedig.

So vandag se stuk waarsku ons om nie so selfversekerd en eiewys op te tree oor dinge wat ek dink “voor die handliggend” is, en in die proses handel ek ongevoelig met mense se seer nie.

Elifas sou vir Job van groter waarde gewees het as hy net by hom gesit het en saam getreur het.