Category Archives: Jesaja

Jesaja 51

Oe, vandag se stuk raak my weer diep…

Die Here sit sy belofte van herstel en terugkeer uit die ballingskap in hierdie gedeelte voort. Om die volk te laat moed skep, neem Hy hulle terug op die spoor van hulle geskiedenis. Hy sê: “Luister na My, julle wat wil reg doen, julle wat na die wil van die Here vra: Dink aan die rots waaruit julle gekap is, aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is.” (Jes 51:1)

Hy noem dan die name van die geloofshelde waaruit die volk spruit: Abraham en Sara. Daar was ‘n uitsiglose toekoms, maar die Here het deur hierdie geloofshelde ‘n volk totstand gebring. Omdat hulle uit dieselfde rots gekap is as die geloofshelde, is dit wat waar is van Abraham en Sara noodwendig ook waar van die volk.

Ek en jy sou ook vandag kon vra: “Wie is die rots waaruit ons gekap is? Wie is die klilgroef waaruit ons gegrawe is?” Jesus Christus is die rots waaruit ons gekap is! Ons het ook ‘n uitsiglose toekoms gehad. Maar Jesus het dit alles verander. Wat waar is van Hom, is nou ook waar van ons: Hy is God se seuns, en ons kan ook nou God se kinders genoem word. Hy het die dood oorwin, en ons sal ook die ewige lewe beërwe. Jesus is vlekkeloos voor die Vader. Daardie selfde reinheid het Hy aan ons bemaak. Soos wat Jesus vrymoedig voor die Vader staan, so kan ons nou vrymoedig in die Here se teenwoordigheid staan.

Jesus is die rots waaruit ons gekap is!

Jesaja 50

“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.” (Jes 50:4-6)

Die eerste persoonsvertelling wat hier aan die praat is, verteenwoordig die stem van die deel van die volk wat in die ballingskapstyd getrou gebly het aan die Here. In moeilike tye luister hulle steeds na sy stem en doen hulle die regte ding.

Jy sou verwag dat dit lafenis sou bring vir die mense rondom hulle, en dat hulle daarom gewaardeer word. Maar die teendeel gebeur. Hulle regte optrede word begroet met lyding en vervolging. Tog kry mens nie die idee dat dit die getroue dienaars afskrik nie. Lewe, vir húlle, is om die wil van die Here te doen.

Mag die Here ook in my lewe die dapperheid gee om die régte ding in moeilike tye aanhou te bly doen.

Jesaja 49

In hoofstuk 49 kom die wending in die Jesajaboek. Die Here kondig aan dat daar ‘n einde aan die ballingskap gemaak sal word en dat die volk sal terugkeer na hulle land. Hoe onmoontlik dit ook mag klink, dit is die waarheid! Die Here sê…

“Kan ‘n soldaat se buit afgeneem word? Sal ‘n gevangene sommer vrygelaat word as hy onder bewaking van ‘n betroubare persoon is? So sê die Here: ‘n Soldaat se gevangene kan ontset word, selfs ‘n man met baie mag se buit kan afgeneem word. Ek is ‘n vyand van jou vyand en Ek sal jou kinders red. Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet, hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn. Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is, jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob.” (Jes 49:24-26)

Dikwels voel dit ook vir ons of uitkoms in ons lewens ‘n onmoontlike saak is. Uitkoms is egter altyd moontlik want uitkoms is iets wat in die hand van die Here lê.

Jesaja 19

Aarde, dit is vir my mooi!

Die oordeel oor die nasies gaan voort en vandag is ons by Egipte. Egipte was die ander wêreldmoondheid van sy tyd. Egipte is nie ‘n land waaroor Israel besonder positief voel nie. Egiptenare was hulle slawedrywers!

Mens sou dus kon verwag dat die volk graag sou wou hoor watter straf vir Egipte wag. Daar wás straf wat sou kom. Die stad Heliopolis waar die son aanbid is, sou oa verwoes word. Maar dan kom die absoluut skokkende:

Jesaja 19:23-25 “Daardie dag sal daar ‘n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assiriërs sal Egipte besoek, en die Egiptenaars Assirië, en hulle sal saam die Here dien. Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot ‘n seën wees. Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.”

Hoe sou die Hebreërs daaroor voel dat die 2 wêreldmoondhede (Egipte en Assirië) beide ook nou sáám met Israel God se volk sou wees en Hom sou dien? Nie te gelukkig nie, vermoed ek!

Is daar mense – selfs vyande van my – wat ek soms beskou as iemand wat buite die bereik van God se liefde en genade staan? Hoe maak dit my voel as ek daaraan dink dat ook húlle eendag langs my kan kniel in aanbidding van die Here?

Jesaja 18

Ons is steeds by die oordeel oor die nasies. Die mense van Etiopië het angstig by God se volk kom aanklop vir hulp teen die Assiriërs. Hul het gehoop om ‘n bondgenootskap te smee.

Dieselfde vrees wat die Etiopiërs gedryf het, kon natuurlik ook die gelowiges oorweldig om uit “beangsheid” ‘n besluit te maak. Maar dit wat mense beangs maak, maak nie God beangs nie. Die prentjie wat van God voorgehou word is een wat rustig en kalm as’t ware op die stoep sit en tuur oor die horison:

Jesaja 18:4 “So het die Here vir my gesê: Ek sal rustig uit my woonplek ondertoe kyk, ongestoord soos die hittegolwe op ‘n warm dag, soos ‘n miswolk in die somerhitte“.

Mag ek ook dit onthou. Die dinge waaroor ek bang is, veroorsaak vir my God geen paniek nie!

Jesaja 17

Jesaja 17 wys vir my hoe maklik dit is om “misplaaste” hoop te hê.

God se oordeel oor die nasies vervolg in vandag se stuk. Nou trek ons by Damaskus – hoewel die onderskeid tussen Damaskus en Israel moeilik herkenbaar is omdat hulle noue bondgenote was.

Damaskus se probleem is dat hulle hul hoop op alles behalwe God geplaas het. Daar word 3 voorbeelde opeen gestapel:

Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare, die werk van sy eie hande nie. Hy sal nie hulp verwag van die gewyde pale en die wierookaltare wat hy self gemaak het nie.” (vers 8)

Dit is alles religieuse dinge waarop Damaskus vertrou het. Welliswaar dinge wat hulle met hulle eie hande gebou het, maar dit was deel van die spirituele lewe. Geleidelik het hulle soeke na die geestelike, hulle op ‘n dwaalspoor laat beland.

Loop ek nie ook dieselfde gevaar om ‘n “god” vir myself te skep nie? Dit kan uit edel motiewe gebeur – maar dit bly ‘n afgod. Is ek nie ook soms besig om my vertroue – dalk op die Kerk of op geestelike leiers – te plaas, eerder as op God nie?

Jesaja 15 & 16

Wat my vandag tref is die geskeurdheid waarmee God die oordeel voltrek.

Die aankondiging van straf beweeg nou na Moab. Moab wat ook Israel se vyande. Dalk sou jy verwag dat die Bybel God beskryf asof Hy Hom daarin verlekker terwyl Hy hierdie heidense volk straf.

Maar ons sien presies die teenoorgestelde:

  • My hart brand oor Moab. Sy mense het gevlug tot by Soar (vers 5)
  • Ek huil saam met Jaser oor die wingerde van Sibma, my trane vloei oor julle, Gesbon en Elale… (Vers 9)
  • Dit kerm in My oor Moab, dit kerm soos ’n lier, my binneste kerm oor Kir-Geres (Vers 11)

Is die beeld van God wat ek in my gedagtes het, een van ‘n bloeddorstige, wraaklustige God? Want die Here is dit beslis nie.

Hierdie hoofstuk wys vir ons hoe God se liefde en sy regverdigheid Hom verskeurd laat. Hy moet straf – maar Hy wil nie. Op die kruis van Golgota sien ons hoe daar ‘n ewige oplossing kom vir die vereiste wat God se heiligheid stel, en sy begeerte om genadig te wees.

Jesaja 14

Die vorige hoofstuk het die aankondiging van oordeel oor die volke ingelui. Interessant genoeg is daar begin met Babel (omdat hulle die verpersoonliking van boosheid was), en in hierdie hoofstuk word die Assiriërs bygekom – al was die Assiriërs voor Babel op die toneel.

Daar is 2 dinge wat my opval in die gedeelte: Eerstens, die boodskap van troos vir Israel. Die aankondiging van oordeel oor Babel (H13) impliseer ‘n aankondiging van vrylating vir God se volk (H14:1-4). Dit is die Here wat sy volk bevry. Self kon hulle dit nie doen nie.

Wat my juis by die tweede punt bring: Die kortstondigheid van die mens se lewe. Wanneer Israel verlos gaan word, gaan hulle ‘n spotlied oor hulle verdrukker sing.

Onthou, dit is ondenkbaar waar Israel hul bevind, om te dink dat die onderdrukkers wat nou gekroon is met soveel mag dat hulle kan besluit oor wie lewe en wie sterwe, ook op ‘n dag kan kom waar hulle gaan sterf. Maar Jesaja profeteer dat daar ‘n dag gaan kom wat die maaiers hulle lyke gaan opeet (vers 11).

Teenoor die onderdrukkers se kortstondigheid van hulle lewe, staan God se ewigdurendheid dus. In vergelyking met God se ewigdurendheid, is die probleme waarvoor ons te staan kom weglaatbaar klein.

Persoonlik verwens ek niemand nie, en wens ek ook niemand die “dag van die Here” toe nie. Ek kan dus net met myself praat in hierdie stuk. Onthou ek dat ek ook eendag gaan sterf? Weerspieël my huidige lewe iets van daardie bewustheid? Leef ek met nederigheid teenoor die Here?

Jesaja 13

Die gevoel wat ek kry as ek Jesaja 13 lees, is dat God beheer oor die dinge het wat buite my beheer is.

Dink jou dit in: Israel beleef die opkoms van Assirië en die dreigende onheil. Uiteindelik word hulle oorval en weggevoer in 722vC. Maar die rampe hou nie op nie. In 597vC kom Babel en verower hulle Jerusalem. Babel sou voortaan altyd die verpersoonliking van boosheid wees, omdat hulle God se tempel verwoes het.

Al hierdie politieke skommelinge was veel groter as wat een persoon kan keer of beheer. Tog is dit nie buite die beheer van God nie.

In hoofstuk 13 word Babel se straf aangekondig. Daar wag ‘n verskriklike dag op hulle: Die dag van die Here. Dit is die dag van afrekening. En Hy gaan die mediërs gebruik om met Babel af te reken.

Drie wêreldmoondhede van die tyd word dus geïmpliseer: Assirië, Babilonië en die Mediërs – en al drie is God se skoothondjies!!!

Dikwels voel dit vir my of Suid Afrika se probleme ook te groot is vir my om te keer of te beheer. Dan word ek herinner deur gedeeltes soos Jesaja 13, dat dit nie buite beheer vir God is nie.

Jesaja 12

“Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.” (Jes 12:3)

Laat ek net gou “recap”: Gister het ons gesien dat die Here beloof dat Hy nuwe lewe uit die dooie, verbrande stomp Isai sal laat ontspring. Vandag sien ons die loflied wat by die mense onstaan vanweë hierdie uitkoms wat die Here bring.

En dan gebruik Jesaja ‘n baie mooi metafoor: Hy sê dat die volk “water sal skep uit die fonteine van redding”. Hy gebruik ‘n beeld waarmee almal van sy tyd mee bekend was:Dors en die verkryging van water

Hy sê hulle was dors na uitkoms. Maar soos wat jy jou emmer laat sak en vanuit ‘n put water skep en nuwe krag kry, so is die redding wat die Here vir hulle bewerk, water wat hulle dors les. Hulle verlossing is die BRON waaruit alles verder vorentoe vloei.

Mag die feit dat die Here ook mý verlos het, vir my die krag gee om die lewe hier en nou in die oë te kyk! Mag die redding wat Hy vir my aan die kruis bewerk het, die water wees wat vir my krag gee vir elke dag! Mag my identiteit as “verloste”, die bron wees waaruit ek leef.