Category Archives: Handelinge

Handelinge 15

Die fout om iemand af te skryf, sal vir altyd teen die naam van Paulus gehou word.

Johannes Markus het vir Paulus en Barnabas op hul eerste sendingreis in die steek gelaat. Noudat dit tyd is vir die tweede reis, wil Paulus nie weer vir Johannes Markus saamneem nie. Barnabas is egter nie bereid om hom net so af te skryf nie. Ja, Johannes Markus het foute gemaak. Maar hy sien potensiaal in die jong man raak.

En ook maar goed so. Te danke aan Barnabas se belegging in hierdie man se lewe, het Johannes Markus op die ou end die evangelie van Markus geskryf! Dit was die heel eerste evangelie wat neergepen was, en die ander evangelies het dit ook as bron gebruik.

Kom ons sê dit maar net vir mekaar: Paulus was verkeerd. Paulus was te hard. Paulus was verkeerd om Markus af te skryf. Jesus gooi nie ‘n geknakte riet weg nie, en Paulus was ook nie veronderstel om dit te doen nie. Gelukkig het Paulus later sy eie fout ook agtegekom. Ons sien bv in Kol 4:10 dat Johannes Markus later in Paulus se lewe ‘n belangrike rol gespeel het. Daar het dus vergifnis en versoening gekom.

Mag ek daarteen waak om nie mense af te skryf nie. Mag ek ook soos Barnabas aanhou belê in mense wat my in die steek laat.

Handelinge 14

Ek sit baie keer en wonder “tot hoe vêr” moet mens opstaan vir wat reg is? 

Die maklike antwoord is dat mens onverbiddelik daarin moet wees al kos dit wat. Maar in praktyk is dit nie altyd so eenvoudig nie. 

  • Jy glo dalk die pad wat jou tienerdogter inslaan is verkeerd. As jy aanhou hamer daarop bring dit nog verder verwydering tussen julle.
  • Jy glo dalk jou ouers/skoonouers het verkeerd teenoor julle gesin opgetree. As jy die saak bly ophaal omdat jy wil hê dat geregtigheid moet seevier, verloor jy op die ou end gesindheid en kry familiebande seer.

Mens kan nog vele sulke voorbeelde opnoem. Dit is net nie so eenvoudig om te sê dat jy altyd onverbiddelik moet staan vir dat wat jy glo reg is nie.

Een so voorbeeld sien ek in vandag se hoofstuk in Handelinge. Daar onststaan ‘n reuse oproerigheid in die stad Ikonium. Die stad is erg in twee verdeel. Party was vír die Jode, ander was vir die apostels. Dit was ‘n drukpot wat gedreig het om oor te kook (vers 5 en 6).

En toe neem die apostels die besluit om die stad te verlaat. Let wel: die saak waarvoor hulle gestaan het, was nie eens iets soos familieverhoudinge nie. Die saak het gehandel oor die evangelie. As daar al ooit iets was om voor op ste staan, dan was dit dít. 

Hulle besluit om die stad te verlaat, was ook nie ter wille van selfbelang of persoonlike veiligheid nie. Hulle het immers al keer op keer bewys dat hulle bereid is om selfs hulle eie lewe neer te lê vir die evangelie – soos hulle inderdaad weer bereid was om te doen nét in die volgende stad (vers 19).

Die besluit om Ikonium te verlaat, was dus ‘n besluit net ter wille van vrede. Hulle was bereid om die saak waaroor hulle passievol gevoel het, “te laat gaan”, sodat die stad tot bedaring kan kom.

Ek heriner my aan Jesus se woorde: “Geseënd is die vredemakers, want julle sal kinders van God genoem word”.

Hoe sal die verhoudinge met ons huweliksmaats, kinders, kollegas en landsburgers lyk, as ons bereid is om “ter wille van die vrede” net van ‘n saak “af te stap”?

Handelinge 13

As ek so vinnig uitwerk het ek so 11/12 jaar gelede vir die eerste keer “genade” gesnap. Tot op daardie stadium was ek beslis “onder die wet” soos ons sal sê. Ek was ‘n Christen. Ek was selfs al ‘n predikant. Maar my boodskappe het meer gehandel oor wat ons moes doen as oor wat Jesus gedoen het. 

Ek was maar net ‘n “sedebewaarder”. Ja, ek het geglo Jesus het vir my sondes gesterf en dat ek vergifnis daarvoor  ontvang het. Maar as jy na my boodskappe sou luister sou jy dink dat ek geglo het dat my volgehoue vergisfnis in die weegskaal was en dat ek verantwoordelik was om verder vorentoe my verlossing “in stand te hou”, deur ‘n lang lys moets en moenies na te kom.

En toe “drop die pennie” soos ons sal sê. Ek snap toe eendag genade. Dit was seker nog ‘n goeie tyd van 2 jaar voor ek die konsekwensies van genade alles kon insien en my eie maak. Maar iets dramaties het in my gebeur. Ek wat eens wetties was, was nou in genade. Ek sal nooit vergeet hoe “soet” die water van die Woord vir my geproe het nie. Ek het net gesmag na nóg. Seker omdat dit so ánders was as die boodskap van selfverdienste waaraan ek tot op daardie stadium gewoond was.

En daarom glimlag ek vanoggend. Ek sien die apostels verkondig die boodskap van genade in Handelinge 13. En nadat hulle dit in die sinagoge gedoen het en die byeenkoms verdaag het, kom die mense na hulle toe. Die woord sê: “Díe het met hulle (Paulus en Barnabas) gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou” (vers 43)

Jy sien in hierdie opmerking hoe soet, hoe vars, hoe anders die boodskap van genade vir die mense was. Jy sien hoe hulle daarna gesmag het. 

Jy sien ook hoe diep dit in mense resoneer. Die volgende Sabbat was die hele stad in die sinagoge. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, dit het die genade gedoen. Die wet het dit nie reggekry om mense meer toegewyd te kry nie. Die genade het. Dit is die boodskap van genade wat mense se harte transformeer.

Jy sien ook hoe wet en genade in die daaropvolgende gebeure nog meer teen mekaar afgespeel word. Die Jode se jaloesie en hoe hulle invloedryke mense opmaak teen die apostels.

Maar ek sien ook in die opmerking van vers 43, die aanmaning om nie van hierdie boodskap afvallig te word nie. Dit is baie maklik om weer wetties te raak. Ek het selfs al gesien dat jy wetties oor genade kan raak! Dit is ons harte se “default setting”. As ons nie pasop nie, word die saad – soos in die gelykenis van die saaier – uit ons harte opgepik. Om daardie rede moet mens aktief daarteen waak om nie die boodskap van genade te verloor nie.

Handelinge 12

Ons is lief daarvoor om te sê dat vir ‘n gebed om beantwoord te word, dit met geloof gebid moet word. Sonder geloof is dit tevergeefs. Daar is beslis baie Skrifgetuienis wat dit bevestig.

Maar soos soveel keer in die Skrif is daar ook ‘n ander kant van die waarheid – sonder om bogenoemde te weerspreek. In vandag se gedeelte sien ons byvoorbeeld dat die geloofsgemeenskap vir Petrus gebid het, sonder dat hulle regtig geglo het dat daar salf aan die situasie te smeer is.

Jakobus, die broer van Johannes is immers reeds doodgemaak. Dit was net ‘n kwessie van tyd voor Herodus vir Petrus ook sou doodmaak. Dalk het die gemeentetjie maar net gebid dat Petrus “warm” sal slaap in hierdie laaste paar dae van hom. Maar hulle het beslis nie geglo dat hy bevry sal word nie. Ons sien dit in hul reaksie toe hy wel bevry word en aan die deur klop: Hulle glo dit nie. Hulle dink dit is ‘n spook!

Die onstabiliteit van ons land vang my die afgelope ruk. Ek weet ek moet bid, maar ek betrap my dat ek nie eintlik glo dit ‘n verskil gaan maak nie. Ten minste nie in die afsienbare toekoms nie. Dikwels dink ek “ons kan maar bid, maar dinge gaan nog eers erger word voor dit beter word“. Vandag se gedeelte beteken dus woes baie vir my. Dit wys vir my dat die blote feit om aan te hou bid, genoeg is om ‘n deurbraak te bewerkstellig. Ek wil dus sê: “Ek gaan aanhou bid. Ek glo Here, help my in my ongeloof“.

Handelinge 11

Petrus het in gister se hoofstuk met “onrein” mense kontak gehad en selfs met hulle geëet! Hy het so gedoen omdat hy geglo het dat die Here vir hom sê om so te doen. Die uiteinde was dat hulle almal met die Heilige Gees vervul is.

Maar nie almal is ewe gelukkig hieroor nie. In vandag se hoofstuk sien ons Petrus word opgeroep om homself aan ‘n groep gelowiges te kom verduidelik.

Ek lees dit en dit is asof ek die stryd tussen Wet en Genade hier sien afspeel. As jy genade aan mense bewys, sal daar altyd ander mense wees wat voel dat jy “sag raak” op dit wat reg en verkeerd is. Baie gelowiges dink dat jy jou toewyding aan die Here bewys deur “wetties” te wees. Vandag se stuk wys eerder vir my dat jy jou toewyding aan Jesus wys deur genade en liefde aan ander mense te bewys.

Handelinge 10

Ek is gek oor die eerlike manier waarop die Bybel die dissipels skets. Neem maar byvoorbeeld vir Petrus. Jy sou verwag dat hulle so ‘n belangrike leier in die Kerk sou skets as iemand sonder foute. Maar nee, Petrus verloën vir Jesus. Drie keer. Jesus verskyn aan Petrus en gee aan hom die kans om 3 keer sy liefde aan Jesus te bevestig.

Maar o weë. Petrus neem hom nou voor om nie weer Jesus te faal nie. Toe die Here vir hom in ‘n gesig wys dat hy “onrein” nou “rein” verklaar, moes die gesig 3 keer aan hom verskyn omdat Petrus volstrek weier om gehoor te gee. Jy kan eintlik nie anders as om van die arme drommel te hou nie. Hy probeer so hard om die Here te behaag, maar is so kapabel en misluk elke keer liederlik.

Toe hy uiteindelik die boodskap van die Here reg verstaan, sê hy die volgende: “maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie“. (Hand 10:28)

Hoe sou dit wees as dit alle Christene se lewenuitkyk ook kon wees? Sou ons nie dalk minder veroordelend deur die wêreld beleef word nie?

Ek kies om deur die bril van Jesus se bloed na mense te kyk! Al is almal nie noodwendig gelowiges nie, is elkeen – te danke aan Jesus se offer aan die kruis – wáárdig.

Hand 9 (16 Mei)

“In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ’n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.” (Hand 9:31)

Ek het niks om hierby te voeg nie. Elke woord hiervan is my gebed vir vandag se Kerk.

Hand 8 (15 Mei)

Interessant dat vervolging – iets inherent negatief – juis gelei het tot die verstrooing van die gelowiges en gevolglik die verspreiding van die evangelie (iets inherent positief).

Here, mag U alles wat negatief is in my lewe gebruik tot U voordeel.

Hand 7 (14 Mei)

Stefanus is nie net die eerste martelaar nie. Hy is ook vir ons die bewys van iemand in wie die Heilige Gees so “ingetrek” het, dat sy lewe Christus begin weerspieel het. Toe hy gestenig word, het hy dieselfde gesindheid geopenbaar, as wat Jesus op die kruis gehad het. Hy het selfs dieselfde gebed van vergifnis asook oorgawe van sy gees gebid, as wat Jesus gebid het.

Heilige Gees, mag U in my lewe ook vrye teuels verkry en Jesus laat sigbaar word.

Hand 6 (13 Mei)

Handelinge 6 is altyd merkwaardig omdat dit die plek is waar die gemeente as liggaam van Christus begin funksioneer (elkeen met sy doel) – nog lank voordat Paulus die beeld van die liggaam gebruik het.

Here, help ons gemeente dat elke lidmaat sy/haar plek en funksie kan ontdek.