Category Archives: Habakuk

Habakuk 3

Die boek Habakuk sluit af met ‘n absolute hoogtepunt van ongekwalifiseerde vertrouensuitspraak teenoor die Here…

Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee
in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié
van ’n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Hab 3:17–19)

Habakuk dien nie die Here omdat hy iets daaruit kry nie. Hy dien die Here omdat die Here dit waardig is. Habakuk is nie ‘n “mooi-weers-gelowige” nie. Selfs al hou dit vir Habakuk niks in om die Here te bly glo en te vertrou nie, sal hy aanhou om dit te doen.

Habakuk 2

Jy sal onthou dat Habakuk God verwyt het oor dit vir hom voel asof God passief sit en toekyk terwyl onheil seevier. Nou sien ons verwag Habakuk ‘n antwoord van die Here…

Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem
wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord
wanneer mense my verwyt. (Hab 2:1)

Dit spreek nogal van ‘n diep vertroue wat Habakuk in God het. Hy wéét die Here gaan hom antwoord. Hy wag daarvoor.

Ek kon nie anders as hom Habakuk te beny nie. Hoe sal my lewe lyk as ek met soveel vertroue op antwoorde van die Here gaan wag?

In ieder geval, die antwoord wat Habakuk ontvang is net so treffend soos sy afwagting vir dit…

Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis,
dit sal nie uitbly nie.
Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie,
sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe
omdat hy getrou bly. (Hab 2:3–4)

Die Here sê as’t ware vir Habakuk om geduldig te bly wag. As dit vir hom lyk asof boosheid net toeneem en toeneem asof daar geen keer is aan die onheil nie, moet hy nie dink dinge is vir die Here buite beheer nie – of nog erger – dat dit God nie traak nie.

Die Here sê hierdie een ding staan vas: die onregverdige gaan sy rieme styfloop. Op ‘n stadium gaan hy homself vasdraai in sy eie boosheid.

In ‘n land soos ons s’n is dit ‘n belangrike ding om te onthou. Ons kan maklik moedeloos voel wanneer ons van een na die ander korrupte regeringsamptenaar hoor wat die hele land in diskrediet plaas. Die Here sê, elke persoon wat lief is vir onreg, draai homself een of ander tyd vas. Dalk nie vandag nie. Dalk nie more. Maar hou maar dop, sê die Here.

Habakuk 1

Ek dink ons gaan hierdie profetiese boek baie geniet! Dit voel soos ‘n baie aktuele onderwerp wat aangespreek word. Soos ek vir jou in die maandelikse inleiding vertel het, handel hierdie boek oor die vraag waarom daar slegte dinge met mense gebeur. Dit vra die diepgaande vraag: “Waarom, as God heilig, regverdig en almagtig is, het die goddeloses in hierdie wêreld ‘n vrye hand en triomfeer boosheid?”

Treffender kan Habakuk dit nie stel nie. Hy sê…

“U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is?” (Hab 1:13)

Voel jy ook soms so? Ek het so gedink, want ek voel beslis so.

Die Galdeërs waarvan daar in hierdie hoofstuk gepraat word is die Babiloniërs. Die Babiloniërs het in 625vC totstand gekom, Habakuk het rondom 608vC in die Suidryk opgetree, en 586vC is die Suidryk deur die Babiloniërs weggevoer. Kom ons sê min of meer 20 jaar na Habakuk hierdie bekommernisse uitgespreek het. Hy was dus nie verniet bekommerd nie. Hy het oral rondom hom gesien wat die Babiloniërs met hulle buurnasies doen. Hulle is met die aller vreeslike geweld gemartel, doodgemaak of weggevoer as slawe. Habakuk het geweet wat kom. Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat dieselfde lot ook met die Suidryk sou gebeur.

En daarom kla Hy as’t ware God aan. Hy sê dit voel vir Hom asof God ‘n passiewe toeskouer op hierdie gebeure is.

En wat is die les wat ons uit hierdie hoofstuk kan neem? Die hoofstuk gee nog nie ‘n antwoord oor die “theodisee-probleem” – oftewel oor die lydingvraagstuk nie. Wat wel vir my van betekenis is, is dat die Here die een is wat Habakuk as profeet oprig. Die Here is die een wat Habakuk as verteenwoordiger of segsman van die mens aanstel. Vers 1 van die boek sê: “‘n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het“.

Ons moet met ander woorde nie voel dat Habakuk ons probleem verstaan en mooi verwoord nie. Dit is die Here wat ons probleem verstaan. Vreemd genoeg is dit Hý wat ons worstelstryd verwoord (in die vorm van ‘n aanklag teen Homself). Hy is soos ‘n ouer wat rustig by sy kind gaan sit (wat nog te jonk is om emosies te verwoord), en dan vir die kind sê: “Dit lyk vir my jy voel ek is onregverdig met jou oor jou sussie. Is ek reg?” of “Dit lyk vir my jy dink ek trek jou boetie voor. Is dit hoe jy voel? Kom ek verduidelik vir jou ek hoekom doen wat ek doen…

Sulke optrede van ‘n ouer sou baie wys en volwasse wees, omdat hy/sy sélf die saak aanroer wat die kind ontstig. En op ‘n soortgelyke wyse neem die Here die inisiatief om ons worsteling aan te spreek. Die les is dus my God begrip het vir die situasie waarin ek is.