Category Archives: Genesis

Genesis 17

Partykeer dink ek maak ons verhouding met die Here te ingewikkeld. Die eenvoud van vanoggend se gedeelte spreek my geweldig aan. Die Here smee met Abraham ‘n verbond en sê:

“Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!”

Wat as verhouding met die Here nie so kompleks was soos wat godsdiens dit dikwels afmaak om te wees nie? Ál wat dit regtig behels, is die volgende:

  1. Leef met die besef dat daar ‘n almagtige Skepper van hemel en aarde bestaan.
  2. Leef met die wete dat jou hele bestaan voor hierdie Skepper se aangesig afspeel. Ons noem dit Coram Deo.
  3. Leef daarom opreg teenoor Hom en jou medemens, want Hy kan buitendien deur enige en elke geveinsdheid in jou hart kan sien.

Dit lyk vir my verhouding met die Here regtig so eenvoudig.

Genesis 7

Ons het gister gewaarsku dat mens nie te vinnig by genade moet uitkom nie. Dit is soms goed om met ons sonde gekonfronteer te word en dit in die oë te kyk.

Vandag staan ons egter stil by genade.

Ons sien hoewel die Here straf, bewerk die Here ook uitkoms. Sy heiligheid vereis dat Hy nie sonde net kan laat begaan nie. Daarom móét Hy straf, en stuur Hy in Genesis 7 se geval, die sondvloed.

Maar sy hart is eintlik om te red. Daarom bewerk Hy ‘n plan sodat Noag en sy familie gered sou kon word. Hy gee opdrag dat daar ‘n ark gebou moet word.

In die Nuwe Testament herhaal hierdie tema homself weer. Ons sonde word gestraf – maar dit word gestraf in Jesus.

Net soos wat mense beskerming binne die ark gevind het, net so vind ons wat “in Christus” ons heenkome soek, ‘n veilige vesting. In Jesus is ons veilig.

Genesis 6

“Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.”

Hierdie is ernstige woorde. Die Here is as’t ware spyt dat Hy die mens gemaak het. Dit is amper so erg soos om te sê dat my eie kind wat ek verwek het, vir my soveel hartseer besorg, dat ek wens dat ek hom/haar nooit gekry het nie.

Vir meeste van ons klink dit onmoontlik om so oor jou eie kind te voel – selfs al stel hulle ons soms teleur. Maar daar ís mense wie se kinders vir hulle soveel herhaaldelike pyn veroorsaak, dat hulle al so gevoel het.

Voel die Here soms so oor my?

Ek wil keer dat ons vanoggend te vinnig by genade uitkom. Mens kan te vinnig oor hierdie vraag beweeg en ‘n antwoord uit jou kop gee “Jesus maak my darem aanvaarbaar vir die Here”, sonder dat die vraag ons hart gepenetreer het.

Dit is goed om vir ‘n oomblik langer op die vraag te vertoef: “Maak dit my hartseer, dat ek soms my Vader hartseer maak?”. Want as dit my nie meer raak nie, dan neem ek sy onvoorwaardelike liefde as vanselfsprekend aan. Dan het ek gewoond geraak aan genade. Dan toon ek psigopatiese neigings. Net ‘n Psigopaat kan willens en wetens iemand in doen en te na kom sonder om eers daaroor sleg te voel. Só wil ek tog nie wees teenoor die Here nie.

So, die evangelie het definitief ‘n boodskap van aanvaarding aan my. Maar vanoggend beklemtoon hierdie stuk aan my die erns van sonde en selfs die emosie wat my sonde by God opwek. Mag dit in my hart ‘n begeerte skep om nie langer my Vader meer te bedroef nie.

Genesis 2

Hier is die skakel na ons nuwe leesrooster vir die jaar: KLIK HIER OM AF TE LAAI

Ons vind in Genesis 2 die tweede skeppingsverhaal. In Gen 2:4 eindig die eerste skeppingsverhaal en in Gen 2:5 begin die tweede.

Vir party mense skep die 2 skeppingsverhale wat langs mekaar staan, ‘n probleem omdat die volgorde so van mekaar verskil. Party sceptici voer aan dat dit selfs teenstrydig met mekaar is en dat ‘n menslike redakteur wat die Pentateug (die eerste 5 boeke vd Bybel) gefinaliseer het, bloot die 2 weergawes van die oorsprong van die aarde langs mekaar geplaas het sonder enige nadenke daaroor.

Maar die verskille skep nie vir my ‘n probleem nie. Ek dink nie die een is “reg” en die ander een is “verkeerd” nie. Dit is vir my bloot soos 2 verskillende foto’s: Die eerste uit ‘n wye hoek aansig en by die tweede vind ons ‘n makro (“in zoom”) van die skepping van die mens spesifiek.

Die tafel is besig om gedek te word vir die tragedie wat in hoofstuk 3 gaan afspeel. Let op dat die outeur nie minder as 11 keer in hoofstuk 2 alleen, na “Here God” verwys nie.

Hierdie verskynsel is om verskeie redes baie belangrik: As jy kyk na die skakel Wat is die JEDP-teorie, dan sal jy sien dat die Jahwis-priester se skrywershand moontlik in hierdie gedeelte swaar lê, omdat hy baie lief was vir die eienaam “Jahwe” (Here).

Maar dit is nie om dowe neute dat God se eienaam in hoofstuk 2 elf keer genoem word nie…

Wanneer die slang in hoofstuk 3 opdaag, vermy die slang die eienaam “Here”. Dan verdwyn die uitdrukking “Here God“, en praat die slang slegs van “God“. Die verduideliking hiervoor, is dat die Bybel vir ons probeer wys dat die Satan se strategie altyd is om die persoonlike aard van God, onpersoonlik vir ons te maak. In hoofstuk 2 ken ons God op sy naam (Jahwe), maar in hoofstuk 3 met die sondeval word Hy vir ons net ‘n dowwe prentjie van ‘n naamlose God.

Dit is vandag nog die duiwel se strategie. Hoe meer hy die Here se selfopenbaring in Jesus kan teëwerk, hoe meer slaag hy daarin om ‘n denkbeeldige afstand te skep tussen ons en God – en hoe makliker word dit vir ons om sonde te doen.

So, vanoggend wil ek intensioneel die Here op sy naam noem wanneer ek bid:

  • U, Here, is my God.
  • U, Here, staan naby.
  • U, Here, is kenbaar.
  • As ek U, Here, sou vergeet, sou ek sonde doen.

Genesis 1

Hier is die skakel na ons nuwe leesrooster vir die jaar: KLIK HIER OM AF TE LAAI

Ons is op die oomblik in ons gemeente met ‘n reeks oor “Roeping” besig. Daarom kan ek nie help om in die openingsverse van Genesis raak te sien dat die Here met doel geskep het nie…

Veronderstel ek hou ‘n polshorlosie op en sê: “Hierdie is ‘n goeie horlosie”. Ek bedoel nie daarmee die horlosie is goed in alles nie. Die horlosie is byvoorbeeld nie goed om te eet nie. Dit is ook nie ‘n goeie selfverdedigingswapen nie. Dit is slegs “goed” waarvoor dit gemaak is, naamlik om tyd te hou.

As ons dus sê iets is “goed”, verklap dit “doel”. Iets is “goed” vir die “doel” waarvoor dit gemaak is.

En dit is wat ons stom laat as ons sien dat die Here van Genesis 1:1 tot 1:31 presies 7 keer (die Goddelike getal) sien dat sy skepping “goed” is. Die laaste vers lui:

“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” Gen 1:31

Die implikasie hiervan is geweldig. Ook jý is goed. Ook jý is gemaak vir doel. Dit beteken ‘n doellose lewe is die grootste mors wat mens kan oorkom.

Mag ek en jy leef met intensie.

Genesis 35 (Jul 18)

Ek voel aangeraak deur vandag se verhaal wat afspeel tussen vers 16 en 18… Ragel gee geboorte aan nog ‘n seun. Maar hierdie keer was dit ‘n baie moeilike bevalling. Ragel se liggaam kry seer. Die vroedvrou probeer Ragel moed inpraat en sê dat die babatjie gelukkig ‘n seuntjie is. Maar Ragel is aan die sterf. Met haar laaste asem noem sy die babatjie “Ben-Oni”. Dit beteken “seun van my ellende”.

Kan jy dink hoe dit vir hierdie kind sou wees om met so ‘n naam deur die lewe te gaan? Tesame met die wete dat hy verantwoordelik is vir die dood van sy eie ma…

Jakob was baie lief vir Ragel. Sy was mos Jakob se “high school sweetheart” van die begin af. Dit sou seker baie natuurlik vir Jakob gewees het om ook hierdie seun te verwerp – die een wat die dood van sy geliefde vrou veroorsaak het. Maar Jakob weet hoe dit voel om te leef sonder die seën van jou pa.

Daarom gee Jabob vir Ben-Oni ‘n nuwe naam. Hy noem hom “Benjamin” – wat beteken “Die seun van my”. Maar dit het spesifiek ‘n baie warm liefdes konnotasie aan die naam.

Doen die Here nie dieselfde met ons nie? Dikwels is ons ook aandadig aan baie seer in ons familie se lewens. Met reg sou daar ook neerhalend na ons verwys kon word. Maar gelukkig is daar vergifnis by ons Vader. Hy ettiketteer nie ons nie met die sleg nie. Hy gee ons ‘n nuwe identiteit in Christus.

Gen 31 (14 Julie)

Wie sou kon dink dat die bankrot verhouding tussen Jakob en Laban ooit kan herstel?

Die vertroue was laag tussen hierdie pa en skoonseun. Toe Jakob besluit om met Laban se dogters en kleinkinders te verdwyn, het dit amper op nog ‘n verdere konfrontasie uitgeloop. Maar die Here doen ‘n wonderwerk in hulle midde en bring die 2 sterk karakters tot versoening.

Ek sien wel dat dit steeds vir Jakob nodig was om weg van Laban te tree. Partykeer is dit tog nodig om arm verhoudings ietwat verder van jou eie lyf weg te hou. Maar hulle is nie kwaai vriende uitmekaar nie. Die Here het versoening bewerk.

Mag dit ons ook aanspoor om altyd versoening met onwaarskynlike kandidate op te soek.

Gen 30 (13 Julie)

Die tragiese verhaal van wedywering tussen die 2 sussies Lea en Ragel word in hierdie hoofstuk voortgesit. Sodra die een ‘n kind vir Jakob baar, probeer die ander een haar dit nadoen. Selfs slavinne word nader getrek omdat die verhoudings in hierdie familie in ‘n toksiese maalkolk ingesluk is.

Ek wonder of ek ook in verhoudings is waar ek nie onvoorwaardelik geliefd is nie? Is daar sekere mense in wie se teenwoordigheid ek nooit genoeg voel nie?

Nog belangriker: Doen ek dit nie dalk aan ander mense nie? Kommunikeer ek nie dalk aan iemand met my gedrag, dat indien hy/sy nie “presteer” nie, jy nie my liefde waardig is nie?

Mag die Here ons help om nooit mense objekte te maak nie.

Gen 29 (12 Jul)

Dikwels hoor ek kritici sê dat ons nie die Bybel moet gebruik om vir ons raad oor ons huwelike en menseverhoudinge te gee nie. Die argument is dat die lewe van die Bybel te ver verwyderd staan van die lewe van vandag. “Die mans in die Bybel was dan in poligame huwelike“, sal die kritici sê, “moet ons dit ook doen?” vra hulle sarkasties.

Maar ek dink daardie soort arguementvoering mis die punt. In vandag se hoofstuk lees ons bv hoe Jakob die bedrieër, bedrieg word en opeindig met 2 vrouens. Maar ver daarvan om dit as die norm of die voorbeeld voor te hou, skilder die Bybel dan vir ons ‘n prentjie van hoe die emosionele wroeging in ‘n huwelik lyk wat nie kerngesond is nie. Gevoelens van vergelyking en verwerping vier hoogty. As daar een boodskap in hierdie gedeelte is, dan is dit hoe om dit nie te doen nie.

Die Bybel bly dus steeds geldig vir vandag. Mag ons nooit mense – en veral nie huweliksmaats – teen mekaar afspeel en manipuleer nie.

Gen 28 (11 Jul)

Ons lees van die pragtige verhaal waar Jakob vlug en dan in ‘n droom beleef hoe die Here aan hom verskyn. Tot nou toe was daar baie min gesê oor die Here in Jakob se lewe – en hy het ook so geleef. Hy sou goedskiks kon dink dat hy stoksiel alleen as vlugteling is. Maar die Here stel Homself in die droom bekend as die Een wat nog altyd daar was, in sy lewe en die lewe van sy ouers en voorouers.

In vers 20 gaan Jakob ‘n ooreenkoms met die Here aan: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees“. Dit is eintlik nogal verwaand as mens daaraan dink. Dit lyk of Jakob die Here net wil gebruik vir sy eie gewin.

En tog verdelg die Here nie vir Jakob nie. Die Here is genadig. Dit is asof Hy weet dat Jakob nog ‘n jong en onervare gelowige is. Hy moet nog groei. Jakob sal later besef dat die Here nie daar is om ons storielyn aan te vul nie, maar dat ons daar is om die Here se storielyn aan te vul.