Category Archives: Galasiërs

Gal 2 (5 Jul)

Hoofstuk 2 is rou evangelie. Sodra ek dink ek moet iets doen om Jesus se verlossingsdaad “meer volkome” te maak, dan trap ek in die slaggat van die wet. Volgens daardie redenasie hoef Jesus dan net sowel nie te gesterf het nie (v21).

Dit sny diep hierdie woorde. Want dit is ons “default setting” om te probeer presteer. Neem godsdienstige prestasie weg van ons en ons voel magteloos. Skielik het ons niks in die hand om vir God aan te bied nie. Dit is dan wanneer ons tot die besef kom ons werklik Jesus vertrou vir ons redding of net in naam so bely.

Gal 1 (4 Julie)

Ek sit en speel met die gedagte wat Paulus in vers 16-18 noem. Nadat hy bewus geword het van die roeping op sy lewe, het hy nie dadelik ander volgelinge van Jesus daaroor gaan raadpleeg nie. Hy het eers 3jaar later vir Petrus ontmoet en daarna Jakobus.

Hierdie punt van Paulus maak my op die oomblik ongemaklik. Waarskynlik omdat ek so baie met mense te doen kry wat dink dat hulle nie ander medegelowiges nodig het nie. Hulle ploeter net voort op hul eie.

Maar kom ons hou perspektief wat Paulus met hierdie punt bedoel: Sy verhouding met die Here het hy nie geskoei op wat ander oor die Here se nie. Hy het self gaan ondervind. Dit is die punt wat hy maak en dit is ook geldig. Dit is vir ons makliker om ‘n boek oor gebed te lees wat iemand anders skryf, as wat dit is om self te bid. Mag ons nooit ons verhouding met die Here so aanpak nie.