Category Archives: Esegiël

Eseg 26 (11 Jun)

“Die een se dood is die ander se brood”, of so sal ons in Afrikaans sê. Wel, dit is onaanvaarbaar om so oor die lewe te dink, sê Esegiel se strafaankondiging.

Tirus is ‘n bondgenoot van Israel. Hulle het baie goeie betrekkinge gehad. Toe Israel val en in ballingskap weggevoer word, het Tirus egter gedink dit sal vir hom handelsvoordele inhou as hy die die een is wat oorbly. Maar die Here kondig gevolglik nou ook Tirus se straf aan.

Mag ek nooit my verlekker in ‘n vriend se terugslag nie. Mag ek nooit heimlik dink: “Jy verdien dit” of “Jy wou mos” nie. Mag my medelye opreg en sonder bybedoelings wees.

Eseg 25 (10 Jun)

Die oordeel oor 4 volke word hier aangekondig:

  • Ammoniete: Omdat hulle hul verlekker in die ramp wat Israel getref het.
  • Moab & Edom: Omdat hulle Israel gelykstel met enige ander nasie, en daardeur God se eer aantas.
  • Fillistyne: Omdat daar eeuelange konflik en haat tussen die Fillistyne en Israel bestaan.

Ek leer hieruit dat die Here nie wil hê dat ek my in die terugslae van ander moet verlekker nie, die sy roeping op mense in twyfel moet trek nie, en nie met onvergewinsgesindheid moet loop nie.

Eseg 24 (30 Mei)

Aarde! Wat ‘n treffende gedeelte is vandag s’n darem nie.

Esegiel moes dikwels simboliese dade verrig, maar hierdie een moes sekerlik die moeilikste van almal gewees het. Sy vrou wat Hom soveel vreugde gee, sou sterf en hy mag nie daaroor gehuil het nie.

Dit moes ‘n “prentjie” van Israel wees as die Here die tempel verlaat (vers21). Hoewel Hy hulle vreugdebron is, is hulle so afgestomp deur die sonde, dat hulle nie eens toepaslik sal kan rou nie.

Dit is nou vir jou ‘n treffende vergelyking en een waaraan mens kan kou. Watter emosie maak dit in my hart wakker as ek dink dat ek die Here sou kon “verloor”? Teologies weet ek kan dit nie met ons gebeur nie. Maar dit lyk my die Here probeer deur hierdie gedeelte iets uitlig van ‘n “hartsliefde” wat daar tussen ons en Hom moet wees. Nie net kopkennis nie.

Eseg 21 (27 Mei)

Dit tref my altyd dat die profetiese literatuur glo aan die allesbeskikking van God.

Die profete se wereldbeskouing was dit God vir alles verantwoordelik is. Ja, selfs teenspoed.

Met die uitbreiding van die Skrif, kom daar ook ontwikkeling in die gedagtes hoe God in beheer is. Gevolglik sal ons miskien nie alles so verwoord soos die profete van destyds dit verwoord het nie. Maar wat ons kan wegneem vir ons, is hulle onwrikbare vertroue in God. Omdat God in beheer is, ervaar hulle geborgenheid selfs in die teenspoed.

Ons kan miskien ander aksente in vandag se tyd laat val, maar ons sal goed doen as ons hierdie vertroue in God kan behou.

Eseg 19 (Mei 25)

Eseg 19 is die eerste van ‘n rits treurliedere in die boek. In hierdie treurlied handel dit oor die konings van Israel.

Die konings was soos ‘n leeuwyfie – ‘n trotse koninklike dier. Maar die leeu wat soveel diere gevang het, het uiteindelik self ‘n prooi geword.

Paulus se woorde kom vandag by my op: “Wie meen dat hy staan moet pasop dat hy nie val nie.” Die hoogmoed en eiewaan het die konings van Israel verswelg en hulle tot ‘n val laat kom. Die tragiek is dat dit ook tot ‘n klomp ander mense se dood gelei het.

Hierdie gedeelte herinner my aan die reuse verantwoordelikheid wat op die skouers rus van mense wat in leiersposisies is. Mag ons deurgaans met die grootste erns op ons knieë bly.

Eseg 20 (Mei 26)

Sjoe, Esegiel 20 laat my diep dink.

Aanvanklik wonder mens hoekom die Here nie wil toelaat dat die mense Hom raadpleeg nie. Maar soos wat die hoofstuk vorder, kom jy agter dat die mense nie regtig van harte die Here wil raadpleeg nie. In hulle hart wil eintlik maar soos die ander nasies wees wat “hout en klip dien” (vers 32).

So, die volk het een ding met hulle mond gesê en iets anders met hulle hart bedoel.

Ek wonder of ek nie ook dit baie doen nie? Ek sê ek wil Jesus volg en ‘n dissipel van Hom wees. Maar tog wens ek ook heimlik dat ek gewild en suksesvol in die oë van die wêreld sal wees. Dit lyk my die Here soek mense wat Hom met hul hele hart wil dien.

Here, help my om U met my hele hart te dien.

Eseg 18 (23 Mei)

Ek weet Esegiel 18 is ingebed in ‘n sekere historiese konteks. Maar ek kan nie help om dit ook teen die lig van die nuwe verbond te lees nie.

Die oproep aan die einde van die hoofstuk vra vir bekering en dat ons ‘n “nuwe gees” sal kry.

Skielik handel die Here nie meer met my, op grond van my buurman se sondes nie. Vaders staan nie meer tereg op die oortredinge van hulle kinders nie. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie optrede.

Dit is opmerklik hoe min van ons hierdie gedeelte ter harte neem. Die afgelope droogte het ek weer male sonder tal gehoor dat die rede vir die droogte, die baie sondes is. Ja, oral is daar korrupsie en misdaad en ongeregtigheid. Maar moet ek nou ook onder die droogte ly selfs as ek my nie skuldig hieraan maak nie?

Volgens Esegiel 18 staan elkeen voortaan tereg vir sy eie aksies. Dit voel vir my ook meer regverdig so. Dit pas vir my by ‘n regverdige God.

Eseg 17 (Mei 22)

Toe ons oor die genres in die profetiese literatuur gepraat het, het ons genoem dat mens ook soms fabels of stories kry, wat net soos Jesus se gelykenisse ‘n dieper betekenis dra. Eseg 17 bevat so ‘n fabel oor ‘n wingerdstok en arende.

Die fabel sinspeel op die koning van Babel wat die toplaag van die samelewing wegvoer. Koning Sedekia kom in opstand en wend hom na Egipte – iets wat die Here grief want duidelik is sy vertroue nie in die regte plek nie. Die ontsluiting en betekenis van die fabel vind ons vanaf vers 22, wanneer die Here ‘n takkie pluk, dit op die berg plant sodat dit groei en saad skiet. En dan die selfopenbaring: “Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droe bome bot”. Die betekenis is dat die Here soewerein is. Hoewel mense besluite kan neem, vang niks vir die Here onverhoeds nie. Hy is in beheer.

Mag my besluite daarvan spreek dat ek die Here vertrou. En wanneer alles dol gaan rondom my, mag ek onthou dat die Here in beheer is.

Eseg 16 (Mei 21)

Oe-oe-oe!!! Hierdie is een van my gunsteling gedeeltes in die hele Bybel!!

Die Here word beskryf aan die hand van die werk van ‘n vroudvrou en die rol van ‘n Vader tydens geboorte.

Die vroedvrouens het altyd ‘n pasgebore babatjie se naelstring geknip en die kind sout ingevryf om te keer teen infeksie. Die Here sê dat hy daardie rol vervul in die jong lewe van Israel.

Verder is ‘n kind nie beskou dat hy/sy gelewe het, alvorens die Pa van die kind sê: “Lewe!” nie. As die Pa dit nie sê nie, is die kind so goed soos dood. Israel het sy lewe te danke daaraan dat die Here oor Israel gesê het: “Lewe!” (vers 6)

Dankie Here dat U, U ook oor my ontferm het en vir my geestelike LEWE bied.

Eseg 14 en 15 (20 Mei)

As ek hierdie gedeelte lees, kom ek diep onder die indruk dat niemand bestand is teen die Here nie.

As die Here regtig wou, kon Hy alles en almal in ‘n oogwink wegvee. Nie eers die godvresende mense – soos Noag, Daniel en Job (vers 14), sal kan bly staan voor die Here nie.

Gelukkig wil die Here dit nie doen nie, maar die vraag bly staan hoe lyk my optrede teenoor so ‘n God. Al waaraan ek kan dink is eerbied, ontsag, respek…

Here, help my asb om opregte respek vir U te hê.