Category Archives: Esegiël

Eseg 37 (4 Aug)

Ha-ha-ha. Kyk ek nou op my eie neus neer.

Die afgelope paar dae loop en tob ek oor ‘n situasie. In my gedagtes kom ek op ‘n punt waar ek daaraan dink om op die spesifieke mense/situasie “op te gee”. Dit voel so vasgeloop en onoplosbaar. Ek is steeds besig met hulle in my gedagtes toe ek my Bybel oopmaak. “Daar is vir party mense/situasies nie hoop nie”, dink ek by myself…

…en toe lees ek Eseg 37 … waar die Gees van die Here self doodsbeendere lewend maak.

Nou kry ek skaam oor my eie ongeloof. Ek kies om my vertroue in die Heilige Gees te plaas.

Eseg 36 (3 Aug)

Die hoofgedagte wat vir my in Eseg 36 uitkom, is dat hoewel die Here uitkoms vir sy volk beloof, Hy nie gaan optree omdat hulle dit so verdien nie maar omdat sy Heilige Naam so daaronder ly. Hulle skandelike gedrag plaas die Here in diskrediet. Hulle gedrag laat ander volke die karakter van die Here in twyfel trek.

Dit is miskien ‘n harde waarskuwing vir ons as gelowiges om weer te hoor. Ons sonde benadeel ons, ja. Maar op ‘n nog ernstiger vlak benadeel ons sonde die Here. Dit tas sy eer aan. Dit is ‘n slegte getuienis.

Mag niks wat ek dink en doen die Here in diskrediet bring nie. Mag niemand wat my dophou, se dink van die Here daal nie.

Eseg 34 (2 Aug)

Heng, niemand wat ‘n geestelike leier is kan hierdie gedeelte klassifiseer as ‘n lekker “voel-goed-gedeelte” nie.

Die gedeelte roep mens op tot diepe selfondersoek: Neem ek my roeping nog ernstig op? Doen ek my beste? Doen ek my taak met liefde of gaan ek maar net meganies deur die gewoontes?

Gelukkig is daar ook ‘n trooswoord. Niemand van ons kan ooit die opperherder se plek inneem nie – en daarom moet ons ook loskom van daardie “Messias-kompleks” van ons. Ons rol is om getrou te wees aan die taak wat die Here vir ons gegee het – totdat die die opperherder weer sy verskyning maak.

Eseg 33 (1 Aug)

Die rol wat iemand op die wagtoring vertolk, is ‘n baie treffende manier om die rol van die profeet te verduidelik. As die persoon op die wagtoring gevaar sien aankom maar swyg, is hy/sy aandadig daaraan as mens hulle lewens sou verloor. Op soortgelyke manier is ons skuldig as ons dinge sien wat verkeerd is, maar nie daaroor praat nie.

Dit is hier waar dit moeilik raak…Party mense vind soveel vreugde daarin om ander op hul sonde te wys, dat hul glad nie meer ernstig opgeneem word nie. In teenreaksie hierteen het dit gebruiklik geword om te sê: “Moenie oordeel nie”. Tot so ‘n mate dat dit in ons dag en tyd ongehoord is om iemand oor sonde aan te spreek.

So hoe maak ons met hierdie gedeelte? Kom ons vra vir die Here wysheid en sensitiwiteit om met takt met mense oor sonde te praat – maar ons vra ook vir dapperheid om nie daarvan af weg te skram nie.

Eseg 32 (17 Jun)

Die hele Eseg 32 handel oor die leier van Egipte – die Farao. Dit is ‘n treurlied wat aanvanklik positief begin en hom as ‘n “leeu” beskryf, maar dit eindig tragies wanneer hy tot ‘n val kom. Dit is die Here wat ingryp en sy val bewerk.

Vir die Farao het leierskap gegaan oor selfverryking en oor jou eie mag en heerlikheid. Die Here sien leierskap eerder as om te dien en lewens te beskerm.

Ons land het op die oomblik ‘n groot probleem met leierskap. Maar dit help nie om vinger te wys na ander nie. Goeie leierskap begin met myself.

Eseg 31 (16 Jun)

In hierdie hoofstuk word Egipte beskryf as ‘n pragtige sederboom in die godetuin – wat tot ‘n val kom. Die belangrike punt is dat Egipte so groot en kragtig geword het, omdat God dit so behaag het: “Ek het hom ’n mooi boom gemaak met sy baie takke, en al die bome in die godetuin Eden was jaloers op die seder.” (Eseg 31:9). Egipte se grootheidswaan lei egter tot sy ondergang – wat ook God bewerk het.

Dit herinner sterk aan die Psalm 75:8 “Nee, dit is God wat verneder of verhef, Hy is die regter!

Mag ek altyd onthou dat wat ek het en wie ek is, te danke is aan die Here.

Eseg 30 (15 Jun)

As jy hoor wat die Here by monde van sy profeet sê, dan kom jy diep onder die indruk dat ons nie hier met ‘n klein streeks-god te doen het nie. In die antieke tyd is daar geglo dat die gode se mag beperk was tot die gebied waar hulle aanbid is. As jy egter luister na wat die Here sê, dan sien jy dat sy heerskappy vêr oor die grense van Israel strek: Hy is die een wat Egipte se arms breek en Babel s’ n sterk maak. Hy is ook die een wat mag het oor my probleempies.

Eseg 29 (14 Jun)

Ek kan nie help om te glimlag as ek hierdie gedeelte lees nie: “Ek gaan teen jou optree, farao, koning van Egipte, groot krokodil wat rustig in jou rivier lê en sê ‘dit is my rivier, ek het hom gemaak!'”

Sjoe, die Bybel het darem ‘n mooi manier van ‘n ding sê. Esegiël sinspeel op die Nylkrokodil wat sinoniem met Egipte was. Hy sê die farao is soos hierdie dier wat ewe selfvoldaan glo dat hy die skepper van sy eie voorspoed is.

Hoeveel keer het ek nie bykans dieselfde woorde die afgelope ruk gehoor nie: “Wat ek het, het ek met my eie 2 hande verdien”. Wel, dit mag waar wees op een vlak, maar op ‘n ander vlak is alles wat ons het en bereik te danke aan die Here.

Here, help my onthou aan wie ek my geluk verskuldig is.

Eseg 28 (13 Jun)

Al die rykdom en mag van die koning van Tirus, het na sy kop toe begin gaan. Hy het homself as ‘n god begin beskou.

Dink klink belaglik dat ‘n mens dink hy is ‘n god. Maar doen ek nie onbewustelik dieselfde nie? Verkondig my gebrek aan gebed nie dat ek eintlik dink ek sonder God kan klaarkom nie? Sê die manier waarop ek besluite neem sonder om die Here te raadpleeg, nie dat ek eintlik dink ek heerser van my eie lewe is nie?

Tirus se koning se selfvergoddeliking het nie gemaak dat hy ‘n god word nie. Dit het eintlik net gewys watter patetiese figuur hy is. Mag ek nie dieselfde doen nie.

Eseg 27 (12 Jun)

Vanuit ‘n literêre oogpunt, is hoofstuk 27 een van die hoogtepunte in die boek. In die oorspronklike Hebreeus is dit van die mooiste poësie wat in ‘n treurlied verwerk is.

Wat die betekenis van dit vir my betref, staan dit vir my net uit dat die Here nie net die God van Israel is nie, maar die God van nasies. Hy het mag oor alles en almal – selfs Tirus wat lyk asof hulle onaantasbaar is. Dit skep in my hart die gevoel van kleinheid voor die Here en gelykertyd oor geborgenheid in sy sorg.