Category Archives: Eksodus

Eksodus 9 (19 Feb)

Eksodus 9:19 Dikwels dink ons verkeerdelik dat God (volgens die Ou Testament) nie geskroom het om te straf nie – en selfs genot daaruit geput het. Vers 18 is een val vele voorbeelde wat egter vir ons wys op God se onwilligheid om mens en dier seer te maak. Hy waarsku hulle vooraf en sê dat hulle mens en dier moet beveilig teen die hael. Wat sê dit vir jou oor God se karakter en wat doen dit in jou hart teenoor Hom?

Eksodus 2

Sjoe vandag se hoofstuk het baie diamante. 

Dit vertel die verhaal van hoe Moses ‘n Egiptenaar doodslaan, dit eers probeer stilhou en dan daarna moet vlug.

Dit word eintlik ‘n wonderlike verhaal om te illustreer hoe sonde sneeubal – hoe een sonde na die volgende sonde lei. Dit werk vandag nog so met ons ook. Die verhaal beeld ook vir ons uit oor sonde floreer op die leuen van geheimhouding. Ons glo altyd niemand sal weet nie, of niemand mag uitvind nie. En dit is presies hier waar die kake van die sonde op die sterkste is. Die verhaal dien egter ook as ‘n voorbeeldverhaal van hoe die Here jou einste foute tot sy eer kan gebruik. Dit was juis Moses se weersin in die slawerny van sy volk, wat uiteindelik hom ‘n roeping van die Here besorg het.

Eksodus 1

Die Farao beveel vir die vroedvroue, Sifra & Pua, om die kinders van die Hebreërs om die lewe te bring (Eks 1:15).

Daar word egter uitdruklik gesê dat omdat die vrouens vir God gedien het, hulle hul nie gesteur het aan die bevel van die Farao nie (vers 17).

Ons sien in hierdie verhaal hoe dit lyk as ‘n gelowige moet kies of jy mense of God gaan gehoorsaam. Sifra en Pua wys vir ons dat hulle hoër waarde aan gehoorsaamheid aan God as aan gehoorsaamheid aan mense geheg het – selfs al sou dit hulle dood kon beteken.

Ek vra myself af aan wie ek meer gehoorsaam is: Aan die verwagtinge van mense, my kultuur, strukture, regerings – of aan God?