Category Archives: Eksodus

Eksodus 30 (7 April)

Ek lees deur vandag se stuk en word sommer getref deur hoe ryk en hoe diep die Bybel se storielyn is.

In Eksodus 30 lees ons in byvoorbeeld vers 26-29 van die “toebehore” wat gesalf moet word en dan sal dit gewyd wees. Dit sal met ander woorde heilig wees. Dit is nou instrumente soos die tafel, die kandelaar, die wierookaltaar – en dan natuurlik al die gepaardgaande grawe en tange om die vuur te hanteer ens.

Waar ons nou in Eksodus trek, het ons al gesien dat daar in die ou verbond 4 heilige dinge is:

  • Heilige tyd (die Sabbat)
  • Heilige persone (die priesters)
  • Heilige plekke (die verbondstent en later die tempel)
  • Heilige voorwerpe (instrumente soos genoem in oa Eks 30)

Hierdie 4 heilige kategorieë moes eenkant gehou word om altyd te verseker dat daar ‘n skerp verskil tussen die alledaagse en die heilige was. God is heilig en kan nie meng met die “profane” nie.

Maar dan kom Jesus. En Jesus kom krap alles om. Na sy dood – wat versoening bewerk – begin die nuwe testament ‘n klomp begrippe herinterpreteer.

  • Skielik kry jy nie meer die onderskeid tussen “heilige tyd” en “alledaagse tyd” nie. Hebreërs 4:1-11 se boodskap is dat “vandag” ‘n Sabbat is. Elke dag is nou heilige tyd.
  • Skielik kry jy nie in die nuwe verbond sekere mense wat meer heilig is as ander nie. Dit was juis wat so treffend was van die uitstorting van die Heilige Gees. Naamlik dat Hy uitgestort is op mans sowel as vrouens. Volwassenes sowel as kinders. Leiers sowel as Jan-alleman.
  • Jy kry ook nie meer heilige plekke nie. Paulus benadruk dit mos: “Weet julle dan nie dat die tempel nou julle liggame is nie?
  • En die heilige voorwerpe waarvan ons in vandag se stuk lees? Hoe word dit geherinterpreteer? In 2 Tim 2:21 vergelyk Paulus voorwerpe wat vir alledaagde gebruik is, met voorwerpe vir “besondere gebruik” (hoor “heilig“). Hy sê: “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees” (2 Tim 2:21)

Dit is vir my wonderlik hoe die ou testament se heilige tyd, plek, persone en voorwerpe in en deur Jesus – en die uitstorting van die Heilige Gees – vervul word.

Gebed: Vra die Here om vir jou die grootsheid te laat besef dat ook jy ‘n instrument in sy koninkryk is vir “besondere gebruik”.

Eksodus 29 (6 April)

Eks 29:5-9 Dit is vir my opvallend wie in hierdie gedeelte aktief en wie passief is. Dalk sou ons verwag dat die nuwe priesters wat gewy word, die aktiewes moet wees. Maar dit is presies andersom. Moses neem as’t ware God se rol in en hy trek vir hulle die priesterlike klere aan. Hy bind die tulband om hulle. Hy salf hulle met olie. Hulle is passief in die rol.

Dit skets met ander woorde ‘n prentjie waar God die inisiatief neem. Die mens moes nooit dink dat die middelaars tussen God en mens, ‘n vindingryke plan van die mens was nie. Dit was God se idee, en Hy neem die inisiatief om die gebroke verhouding te herstel. Dit kom van Hom af.

As kinders van die Nuwe Verbond is ek en jy mos ook eintlik ook koning, priester en profeet. Ons sou dus kon sê dat die Here dieselfde patroon met ons gevolg het. Dink ‘n oomblik na aan wat die Here alles in jou lewe gedoen het, om jou te bring op die plek waar jy vandag is.

Gebed: Dank die Here dat verlossing altyd van sy kant af kom.

Eksodus 28 (4 April)

Jinne, maar dit is mooi!

Vir my is die hoofgedagte van die stuk dat die volk waarlik pal op die hoëpriester se gedagtes moes wees. Daar was twee stene op sy skouers vasgewerk met die name van al 12 stamme. En dan was daar nog 12 stene – een vir elke stam – op die borssak van die hoëpriester vasgewerk. Hy het simbolies die volk op sy skouers en op sy hart rondgedra. ‘n Beter uitbeelding kan jy nie kry van die rol van ‘n middelaar nie.

Dit stel dit nogal in perspektief wat Jesus se rol is en hoe Hy ons aan die hart dra…

Gebed: Dank die Here dat jy op sy hart en skouers gedra word.

Eksodus 27 (3 April)

In die tent van ontmoeting, net voor jy die allerheiligste sou bereik, staan die wierookaltaar. Die wierook wat daar in die teenwoordigheid van die Here gebrand het, was ‘n simboliese uitdrukking van die rol wat gebed speel.

Hierdie beeld sou later ook in die boek Openbaring opgeneem word (Openb 8). Ons gebedslewe is van uiterste belang en baie mense sê dat die kwaliteit van jou gebedslewe eintlik die gesondheid van jou verhouding met die Here verklap.

Gebed: Ironies genoeg, kom ons bid vandag vir ons gebedslewe. Sê vir die Here wat geniet jy daarvan om te bid, en ook waarmee jy sukkel. Vra Hom om jou daarmee te help.

Eksodus 26 (2 April)

So, nou moet ons begin kophou!

  • Eerstens (Eks 26:7) is daar ‘n tent van bokhaarmateriaal oor die tabernakel geplaas (wit)
  • Tweedens (Eks 26:14) kom daar dan rooi gekleurde ramsvelle bo-oor die wit bokhaarmateriaal
  • Derdens (Eks 26:14) kom daar ‘n seil van gebreide vel oor die gekleurde ramsvelle.

In ons Bybelskoolsessie het ons gesê dat die tent van ontmoeting ‘n uitbeelding is van hoe God se teenwoordigheid in die paradys gelyk het. En hier sien ons iets daarvan: As jy na die tabernakel kyk, sien jy die storie van die sondeval. Met ‘n eerste oogopslag sien jy diervelle. Dit is dieselfde beskutting wat God gebruik het om die mens mee te beklee na die sondeval (dit is nou na hulle powere poging om hulleself te beklee met blare). Maar as diervelle gebruik is om hulle te klee, beteken dit dat iets moes sterf as gevolg van die mens se sonde. Die “toemaak” van die mens, word met ander woorde simbolies gesien as die “toemaak van sonde”. Dit lei jou tot die volgende laag, naamlik die rooi ramsvelle. Die rooi kleur herinner dat daar onmoontlik versoening kan kom as daar nie bloed vloei nie. Die onderste laag simboliseer die uiteinde van die rite: die wit bokhaarmateriaal dui op reinheid.

Dit is die prentjie wat die volk altyd voor hulle gesien het.

En dit is ook die prentjie wat vir ons op die kruis afgespeel het: Die lam word geslag, en sy bloed was ons skoon.

Gebed: Vra vir die Here dat net soos wat Hy hierdie prentjie in die harte van die volk inge-ets het, Hy dit ook in jou hart sal in ets.

 

Eksodus 25 (1 April)

Ai man, ek het gisteraand se sessie so geniet. Dankie vir elkeen wat daar kon wees!

Eks 25:9 Ons het gisteraand baie gepraat oor die betekenis van die verbondstent en elkeen van die items. Miskien moet mens hier net volstaan met vers 9 se opmerking: “Hulle moet vir My ’n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon.” Dit was die hart van die tabernakel. En Johannes sou later sê dat dit die hart was wat agter Jesus se koms was – dat Hy onder ons wou kom “tabernakel”. En nou betree ons die tyd van die kerklike jaar waarin ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. En dit is ook hiermee nogmaals die hart van die Here: Om teenwoordig te wees tussen sy kinders.

Gebed: Wees bewus van die Here se teenwoordigheid en geniet Hom nie.

Eksodus 24 (10 Mrt)

Eks 24:10-11 Hier is ‘n voorbeeld van ‘n Ou Testamentiese “teofanie”, oftewel “Godsverskyning”. Wat treffend is van hierdie voorbeeld, is dat dit gevolg word deur ‘n maaltyd.

Levitikus 3 se maaltydoffer (waaroor ons later hierdie maand gaan lees) bevat dieselfde gedagte, naamlik dat verhouding met die Here uitgebeeld word deur saam te eet in sy teenwoordigheid. Dit verwoord ‘n diepe intimiteit – die soort verhouding wat onder lede van dieselfde gesin bestaan.

Om dit prakties te maak, kan jy vir ‘n oomblik jou oë toemaak en visualiseer hoe Jesus langs jou sit en met jou praat – en jy met Hom. Ons verhouding met God is nie een van afstand nie, maar intimiteit. Kuier gewoon met die Here soos jy met iemand sou doen aan etenstafel.

Gebed: Word bewus van die teenwoordigheid van die Here net daar waar jy nou is – en geniet bloot verhouding met Hom.

Eksodus 23 (Mrt 9)

Ons almal hou van vinnige oplossings. Daarom wens ons so dikwels dat die Here ons gebede gouer antwoord.

Dalk sou die volk ook graag wou hoor dat die Here die ander volke in ‘n japtrap voor hulle gaan uit verdryf. Maar die Here sê:”Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie” (vers 29). Dit lyk my die Here dink ook aan alles! Hy sien die groter prentjie. En om daardie rede bepaal Hy die tempo waarteen die inname/oorwinning moet plaasvind. Hy sê: “Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” As die Here ‘n kits-inname bewerk het, het die volk net met ‘n ander probleem gesit.

As iemand wat obsessief daaroor is om in beheer te wees, kry ek moeilik reg wat ek nou gaan aanbeveel: Maar kom ons vertrou die Here dat Hy beter weet. Ons kan steeds net so passievol bid soos altyd. Maar kom ons los die uitkoms in die Here se hand. Hy sien die groter prentjie. Hy neem ander goed in ag wat ek en jy nie eers aan dink nie.

Gebed: Spreek vandag net weer jou vertroue teenoor die Here uit. Sê vir Hom dat jy weet dat jóú tyd nie sý tyd is nie. Maar dat jy nogtans jou vertroue op Hom plaas omdat jy glo dat Hy beter weet.

Eksodus 22 (8 Maart)

Die rits sosiaal-maatskaplike bepalings van hoofstuk 21, vervolg in hierdie hoofstuk. Dit is uiteenlopende regulasies. As ons egter een gemeenskaplike punt soek, sal dit wees dat al die regulasies oor horisontale verhoudings handel. In die volgende hoofstuk sal daar weer oor ons vertikale verhouding met God gepraat word. Maar in hierdie hoofstuk handel dit geheel en al oor my interaksie met ander mense. Laat niemand sê dat menseverhoudinge nie vir die Here belangrik is nie.

Kom ek gaan vandag met hierdie wete my dag tegemoet: Die Here is begaan oor hoe ek die mense behandel wat vandag my pad kruis…

Gebed: Dankie Here dat U my vandag herinner dat my menseverhoudings vir U belangrik is.

Eksodus 21 (Maart 7)

Na die einde van Eksodus 21 vind ons ‘n hele rits  sosiaal-maatskaplike bepalings, waaruit ons eintlik wonderlike beginsels kan haal. Neem byvoorbeeld die bepalings wat handel oor beeste wat ander mense kan beseer. Op die oog af lyk dit glad nie van toepassing op ons nie. Tog is die implisiete beginsel dat ons verantwoordelik moet optree – en dat ons ‘n verpligting het om toe te sien dat ons optrede niemand anders benadeel nie.

Meer onstellend is die eerste deel van die hoofstuk. Dit handel oor slawe en selfs as jy jou dogter as slavin sou verkoop. Ons eerste reaksie is een van walging. Ons dink: “Hoe kan die Bybel sulke goed sê?!”

Miskien is dit goed om in gedagte te hou dat die Bybel nie die gebruike propageer nie. Dit probeer dus nie iemand aanmoedig om sulke goed te doen nie. Dit speel eerder in op aanvaarde praktyke van die dag. Dat mense dus soms hulle dogters as slavinne verkoop het, was die gebruik van die dag. Wat nie die norm was nie, was om toe te sien dat die dogter ongedeerd kan terugkom as haar eienaar haar nie meer wil hê nie.

Waar die Bybel eers gelyk het of dit meedoen aan wanpraktyke, blyk dit nou dat die Bybel eintlik kontra die kultuur van sy tyd uitsprake maak – en as’ t ware ‘n baie vroeë kampvegter vir medemenslikheid en selfs vroueregte is.

Gebed: Kom ons vra die Here om ons te help om altyd met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid teenoor ander mense op te tree.