Category Archives: Eksodus

Eskodus 40 (19 April)

Geluk met die deurlees van Eksodus!!

Die boek sluit af op ‘n besonders vreemde manier. Dit is nogal bitter-soet en die leser weet nie presies hoe om daaroor te voel nie.

Die boek sluit af op ‘n hoogtepunt in die sin dat die Here se teenwoordigheid neerdaal op die tent van ontmoeting. Die sleg daarvan is dat Moses nie daarin kan deel nie. Was al die moeite om toegang tot God te verkry verniet? Gelukkig nie.

Waar Eksodus afsluit met Moses “buite” die tent van ontmoeting, begin Numeri met Moses “binne” die tent van ontmoeting. Jy sal vra wat het veroorsaak dat Moses nou kon ingaan? Levitikus! Die offers!

Ons staan ook nie buite die teenwoordigheid van die Here nie. Daar is ook voorsiening gemaak vir ons dat ons toegang tot Hom mag hê. Jesus het die offer gebring. Die Gees is uitgestort…

Eksodus 39 (18 April)

Die Bybel leer ons nie net dinge oor ons verhouding met die Here nie, maar ook ons verhoudings met mense. So leer die laaste vers van hoofstuk 39 vir my die belangrikheid om dankie te sê.

Moses kon sekerlik aangeneem het dat die vakmanne hulle werk gedoen het omdat hulle móés. Die Here het die opdrag gegee. Die vakmanne het geen keuse gehad nie. Hulle móés eenvoudig gehoorsaam wees.

En tog kies Moses om vir hulle dankie te sê. Hy, die leier, bedank die volgelinge…

Moses was verseker ‘n uitnememde leier.

Wie is daar in my lewe wat ek oorsien en van vergeet? Is daar iemand wat met ‘n dankie sou kon doen?

Eksodus 38 (17 April)

In letterlik een vers word daar net vlugtig verwys na die bronswaskom. Vers 8 sê gewoon dat dit gemaak was van die bronsspieëls van die vrouens.

Ons het genoem dat brons – of dit kon ook koper gewees het – die simbool van oordeel was. Dit moes nogal ‘n effek op jou gehad het as jy weet die betekenis van die simboliek is, en jy dan jou eie gesig in die koperspieël sien weerkaats.

Op die kruis gebeur dieselfde. In die weerkaatsing van die Seun, sien ons onsself daar hang. Dank die Here vandag dat Hy jou straf gedra het.

Eksodus 37 (16 April)

Ek lees hoofstuk 37 en dink aan hoe baie Openbaring by die beelde van die tabernakel aansluit. In hierdie hoofstuk word daar byvoorbeeld baie gemaak van die kandelaar met 7 lampies. Ons het reeds gesê dat die kandelaar na God se teenwoordigheid deur sy Gees – oftewel na die Heilige Gees verwys.

Dink nou aan hoeveel keer jy in Openbaring lees van die “sewe geeste voor God se troon” (Goddelike getal wat dui op die volheid van die Gees). Of dink aan al die waarskuwings wat in Openbaring gerig word dat die Here die “lamp” van die onderskeie gemeentes gaan wegneem.

In hierdie tyd wat oploop na Pinkster, kan ons gerus onsself afvra wat ons kan doen om meer bewus van die Heilige Gees te leef.

Eksodus 36 (14 April)

Jy gaan wonder of jy vandag se hoofstuk nie vroeër gelees het nie, omdat dit so bekend klink. Maar die vorige keer was dit die opdrag. Nou is dit die uitvoering daarvan. Die vorige keer was die vraag. Nou is dit die antwoord. Deur die uitvoer net so verhalend soos die opdrag te vertel, kommunikeer die outeur aan ons dat Moses, die vakmanne en die volk baie nougeset die Here se opdragte gehoorsaam het.

Wat ons bring by ‘n vraag oor gehoorsaamheid. Is ek gehoorsaam aan die vroeëre opdragte wat die Here vir my gegee het? Voer ek dit nougeset uit?

Eksodus 35 (13 April)

Die woord wat vir my uitstaan in vandag se gedeelte is “vrywillig”. Ek het ophou tel hoeveel keer dit in hoofstuk 35 gebruik word. Alles van vrywillig ‘n offergawe bring tot vrouens wat vrywillig wou weef.

Dit maak darem maar ‘n reuse verskil: As jy iets móét doen teenoor iets wíl doen. Geykte godsdiens manipuleer met “móét”. Maar ware verhouding word gedryf deur “vrywillig”.

Ek gaan vandag probeer onthou dat niks wat ek vir die Here doen, doen ek omdat Hy my forseer nie. Ek doen dit omdat ek “vrywillig” wíl. Nie uit vrees nie, maar uit verhouding.

Eksodus 34 (12 April)

Wanneer mens die Ou Testamentiese verhale lees, kan mens nogal maklik dink “Wow!” dit moes wonderlik wees om in daardie tyd te leef en die dinge te sien wat hulle beleef het. Neem nou maar as voorbeeld die feit dat Moses se gesig geskitter het elke keer as hy klaar met die Here gepraat het.

Maar dit is wat dit so interessant maak om die Bybel in sy geheel te lees. Paulus sal byvoorbeeld heeltemal met daardie indruk dat die “ou tyd” beter was, verskil. In 2 Kor 3 skryf hy dat die rede hoekom Moses sy gesig moes toemaak, was omdat hy nie wou hê dat die mense moes sien dat die skynsel aan die afneem was nie (2 Kor 3:13)

Dan kontrasteer Paulus die ou verbond met die verbond waarin ek en jy nou staan, en hy maak die punt dat hierdie verbond soveel beter is. Waar Moses se se heerlikheid afgeneem het, is die heerlikheid waaraan ons deel het besig om toe te neem en toe te neem (2 Kor 3:18)

Ek het dikwels nodig om hierdie weer en weer te hoor: Die toegang wat ons nou tot die Here het (deur die Heilige Gees), is baie meer as wat Moses of enige iemand anders ooit onder die ou verbond gehad het. Ons moenie die ou verbond ophemel nie. Ons moet die nuwe verbond ontdek…

Gebed: Kom ons vra die Here dat Hy ons sal onderrig in die dinge aangaande die Heilige Gees.

Eksodus 33 (11 April)

In hierdie hoofstuk 33 van Eksodus is daar so baie pitkos om mee te werk. Het jy gesien dat Moses die tent van ontmoeting nie in die middel nie maar “ver buite” die kamp gaan opslaan het na die goue kalf episode? Dit dui natuurlik daarop dat die Here heilig is en nie met sonde kan heel nie.

Het jy gesien wat Josua gedoen het nadat Moses uit die tent van ontmoeting gegaan het? (ver 12). Die outeur begin Josua vir ons skets as een van Moses se handlangers. Iemand in wie se lewe Moses as mentor optree. Op die regte tyd sou Moses uittree en sou Josua ryp wees om die leier te wees. Deur hierdie klein opmerkings nou al oor Josua te noem, berei die outeur die leser voor om ontvanklik te wees vir die nuwe leier wanneer hy wel op die toneel kom. En Josua is werklik ‘n voorbeeld. Hy verlaat nie die tent van ontmoeting nie. Lank nadat Moses uit is, bly Josua nog agter omdat hy smag na die teenwoordigheid van die Here.

Wat sou gebeur as ek my eie lewe met die van Josua sou vergelyk? Het ek dieselfde begeerte om die teenwoordigheid van die Here te beleef?

Gebed: Kom ons praat vandag met die Here oor die feit dat ons harte na Hom smag.

Eksodus 32 (9 April)

Hierdie bly darem altyd vir my ‘n mooi stuk met soveel ironie. Die volk probeer goue bul maak – maar die Bybel noem dit ‘n bul-kalf (natuurlik om ‘n bespotting te maak van hul poging voor die Here). Verder neem Aaron ‘n duidelike leidende rol in die maak van die kalf. Maar wanneer daar rekenskap gevra word, noem hy dat hulle die goud net in die vuur gegooi het en dat die kalf vanself daaruit gekom het (v25).

Daat laat my baie aan my eie onwilligheid dink om eienaarskap vir my sonde te neem.

Maar hierdie gedeelte word ook weer later in die Nuwe Testament baie belangrik. Paulus was baie lief daarvoor om die ou verbond en die nuwe verbond teen mekaar af te speel. Hy vergelyk in heelwat van sy briewe die bedeling van die wet met die bedeling van genade.

So noem hy dan ook in 2 Kor 3:6 dat die wet doodmaak maar die Gees lewend maak. Wat bedoel hy daarmee?

Hy verwys na die feit dat die dag toe wet gegee is, moes die leviete 3000 mense doodmaak (Eks 32:28). Maar die dag toe die Heilige Gees uitgestort is, het 3000 mense tot bekering gekom.

Gebed: Vra die Here om jou te help om nie soos Aaron jou sonde te ontken nie, maar dank die Here dat jy nou in ‘n nuwe bedeling mag staan wat lewe gee!

Eksodus 31 (8 April)

Dit is wonderlik om te sien hoe die Here hierdie vakmanne se talente om met hul hande te werk, in sy diens neem. Mens sou dink om te saag en te kap kan niks verband hou met die dien van die Here nie. Maar die Here benut hierdie mense tot sy eer.

Gebed: Kom ons vra die Here dat hy ons uiteenlopende gawes ook tot sy eer sal aanwend.