Category Archives: Efesiërs

Efesiërs 5 (14 Sept)

Het dit jou al ooit opgeval hoe groot klem daar in Efesiërs is – en spesifiek in hierdie hoofstuk – op dit wat uit mens se mond kom?

Die negatiewe wat daar nie moet wees nie is dinge soos growwe praatjies, vuil taal – en selfs net om te praat oor die dinge wat mense in die geheim doen.

Die positiewe wat teenwoordig moet wees is dank aan die Here, om waarheid te spreek en om die Here te loof en te prys.

Miskien moet ons stadiger wees om te sê dat lippetaal nie vir die Here belangrik is nie en dat dissipelskap oor daadwerklike dade handel. Ons tong is dalk belangriker as wat ons besef.