Category Archives: Deuteronomium

Deuteronomium 26

Vandag se gedeelte handel oor die tiendes wat die volk moes bring. Dit is vir my interessant hoe verskillend die beweegredes is vir die gee van tiendes, tussen ons vandag en die volk van ouds.

Vandag is mense geneig om dankoffer te gee as ons voel die gemeente hou hulle besig met verdienstelike sake. Dit is dan ook baie maklik om kop uit te trek uit dankoffer gee, as jy voel die gemeente fokus nie op dit wat jy wil hê daar op gefokus moet word nie. Die punt is: In vandag se tyd is óns die weldoeners as ons besluit om te gee en die gemeente is die “bevoorregte-begunstigde”.

Maar die volk van ouds het dinge anders verstaan. Hulle het gegee, nie tot voordeel van die kultus nie, maar omdat dit goed was vir hulleself. Deut 26:9 lui…

“Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’” (Deut 26:9)

Die gee van dankoffers – of dit nou die opbrengs van die eerste oes of tiendes was – was om jouself as’t ware te herinner aan die feit dat jy tot hier gekom het nie op jou eie stoom nie. Dit was die Here wat jou gedra het, guns gegee het, beskerm het, ‘n weg gemaak het waar daar nie ‘n weg is nie.

En die gee van dankoffer het ten doel gehad om jou te herinner dat alles eintlik in die eerste plek aan God behoort. Dit het jou beskerm teen die gevaar om vir jouself te begin leef.

Ons het almal nodig om dit te onthou, want ons is almal geneig om onsself op die skouer te klop . . . vir die materiële besittings wat ons al bymekaar gemaak het . . . vir die mooi gesin wat ons het . . . vir die gesondheid wat ons beleef . . . terwyl dit álles in der waarheid uit die Here se hand kom.

Deut 4

Die groot gedagte in Deut 4 wat herhaaldelik na vore kom, is dat die mense nie ‘n afbeelding van God mag maak nie. Vanoggend vra ek myself af hoekom hierdie punt vir die Here so belangrik was dat Hy dit nodig geag het om soveel keer – net in hierdie hoofstuk alleen – te herhaal?

Ek word herinner aan die woorde van Johannes Calvyn: “The human heart is an idol factory”.

Wat beteken dit vir my vandag? Ek het immers geen behoefte om ‘n stomp te kerf en te aanbid nie!

Die betekenis vir my is dat ook my hart uiters vatbaar is om God te verplaas met ‘n substituut. Enige iets – selfs goeie dinge – kan afgode word. Vanoggend voel ek bv aangespreek oor die rol van die Kerk in my lewe. Het die Kerk nie dalk in my lewe ‘n afbeelding van God geword nie? Verplaas ek nie dalk God met hierdie substituut nie?

Dit is wel so dat die Kerk Jesus se “liggaam” op aarde is. Maar dit metaforiese taal. Dit kan tog nooit self God wees nie! Of het dit dalk god geword in my lewe?

Mag die Here die eerste plek in my lewe wees.

Deut 2

Ek leer weer uit vandag se gedeelte dat mens nie met ‘n “chip” op die skouer moet leef nie.

Die volk Israel is besig om weg van Egipte, al deur die woestyn te trek op pad na die beloofde land. Toe hulle in die land van die Edomiete kom, sê die Here vir hulle dat die Edomiete vir hulle bang is, maar dat hulle hulself moet “bedwing” (Deut 2:4). Hulle mag nie teen Edom oorlog maak nie. Hulle moet selfs die kos en water wat hulle gebruik terwyl hulle daar is, koop (Deut 2:6).

Die volk kon sekerlik maklik hulleself aangematig het om te dink: “Óns is God se volk. Dit kom my toe. Hierdie mense is buitendien heidene”. Maar die Here verbied hulle om met so ‘n gesindheid te leef. Hy wil hê hulle moet in vrede – en met ‘n sin vir geregtigheid – tussen hulle buurvolke leef.

Hierdie gedeelte inspireer my vanoggend om self ook met so ‘n gesindheid in ons land wat vol diversiteit is, te leef. Leef, en laat leef. Leef beskeie en leef met ‘n sin van regverdigheid.