Category Archives: Daniël

Dan 4 (23 Jul)

Hierdie hoofstuk bevat ‘n belydenis van koning Nebukadneser. Op ‘n stadium roep hy in herinnering die woorde wat Daniël vir hom gesê het: “Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is.”

Ek sien in my geestesoog hierdie klein Daniëltjie wat voor die groot en magtige koning Nebukadneser te staan kom. Sy broek moes gebewe het – en sowaar daar gaan hy voort en spreek hy die koning aan oor die sondes…

Dit laat my baie dink aan wat die Ou Testamentikus Walter Brueggemann noem: “speaking up to power”. Brueggemann is lief daarvoor om uit te wys hoeveel keer Ou Testamentiese figure teen gesag moes uitvaar. Hy lig uit dat die Farao’s van vandag waarteen Moses moes opstaan – oftewel die Nebukadnesers waarteen vandag se Daniëls moet opstaan – enige vorm van onderdrukking en uitbuiting is (wat byna altyd gepaardgaan met die misbruik van ‘n magsposisie).

Mag ons dieselfde dapperheid vertoon om op te staan waar mense van outoriteit hulle mag misbruik.

Dan 3 (22 Jul)

Ons lees vandag die gedeelte waar Daniël se drie vriende in die brandende oond ingegooi word. Die volgende sin is vir my so treffend: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie” (vers 17-18).

Ek dink terug aan my kollega Gerrie se woorde oor ‘n tyd in sy lewe toe sy vrou met kanker gediagnoseer is. Hy sê hy het geweet dat omdat Jesus “Immanuel” oftewel “God-met-ons” is, kan ‘n wonderwerk op enige oomblik plaasvind. Maar aan die ander kant omdat Jesus “Immanuel” of “God-met-ons” is, hoef ‘n wonderwerk nie noodwendig plaas te vind nie, want ek is veilig in sy teenwoordigheid.

Met nog groter selfvertroue as Daniël se 3 vriende kan ons vir ons krisisse sê: “Selfs as die Here nie uitkoms gee nie, buig ek nie die knie voor enige ander God nie“.

Dan 2 (21 Jul)

Koning Nebukadneser wil hê sy droom moet uitgelê word – maar hy weier om te vertel wat die droom is! Die sterrekykers en wyse manne is almal dit eens dat dit ‘n onmoontlike versoek is.

Behalwe Daniël – hy vra uitstel en gaan raadpleeg die Here. Dan kom hy terug en gee die droom en die uitleg aan die koning. Maar hy gee skaamteloos eer aan die Here dat dit die Here is wat dit aan Daniël geopenbaar het.

Ek wonder sommer of hierdie stuk nie vir ons kan help met die rol van die gelowige in vandag se werksplek nie? Daar is baie eise aan vandag se mense. Baie van die probleme voel dikwels te moeilik om te hanteer. Hoe sou dit wees as ons die Here in hierdie sake ken en vir sy leiding en wysheid vra? Hoe sou dit lyk as die gehalte van gelowiges se werk, sommer kop en skouers uitstaan bo die gehalte werk van ander? Watter getuienis sou dit wees as ons erkenning ontvang, dit toeskryf aan die Here se hulp?

Dan 1 (20 Jul)

Daar is druk op Daniël en sy vriende om te konformeer. Die druk kom van die koning af en hy wil hê hulle moet “inpas”. Hierdie tipe druk klink bekend. Van oraloor is daar druk op gelowiges om nie so “volksvreemd” in vandag se tyd te wees nie – selfs om kernwaardes te laat gaan – en dit word oor die boeg van “verdraagsaamheid” gegooi.

Wat ek by Daniël sien is sy rotsvaste beginsels. Maar ook sy beleefde manier van praat met Aspenas – wat vir alle praktiese doeleindes die vergestalting van die onderdrukking is.

Mag die Here ons ook volgelinge maak met rotsvaste beginsels – maar ons die wysheid gee hoe om hierdie beginsels met die grootste respek te kommunikeer aan mense wat anders dink as ons.