59.) Jakobus

now browsing by category

 

Jakobus 3

As ons Jakobus se gedagtestroom volg, sien ons dat hy eers pleit vir ‘n geloof wat tot dade oorgaan (hoofstuk 1), dan brei hy uit oor hoe dit sal lyk as mens die dade integreer met alledaagse lewe (hoofstuk 2). In hoostuk 3 is Jakobus besig om ‘n ander faset van ons menswees met ons geloofslewe te integreer, en dit is ons tong.

Jakobus 3:9-11 Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie?

Sy pleidooi dat ons tong ‘n varswater fontein sal wees wat konstante varswater lewer, sonder om ook brakwater te laat uitborrel, spreek my baie aan.

Die maklikste fout wat ons natuurlik kan maak, is om die simptoom aan te spreek. Ons probeer harder om nie lelik te praat nie.

Maar as die fontein brak is, gaan die water ook brak wees. Ons het nodig om die plek waar die fontein in ons binneste ontspring, gesond te hou.

Ons fokus moet nie op ons tong wees nie, maar op Jesus.

Jakobus 2

Die tweede hoofstuk van Jakobus gee vir ons ‘n fassinerende kykie na hoe oordeel werk.

Jakobus sê dat indien ons 2 mense verskillend behandel, is ons besig om onbewustelik in te speel op vooroordele. Vooroordeel is net so skadelik as oordeel opsigself, wat dit takseer iemand op die uiterlike sonder dat jy die persoon se hart ken.

Jakobus sê dat sulke optrede sonde is, en ironies genoeg net so skadelik is as “groot” sondes wat vir ons almal sigbaar is. As jy immers net 1 van God se Wette breek, dan het jy God se Wet gebreek.

Jakobus nooi ons uit om met sagter oë na mense te kyk. Wanneer ons met harde oë vol oordeel na mense kyk, is die oordeel oor ons ook sonder ontferming. Maar as ons dit kan regkry om met sagter oë vol ontferming na mense te kyk, kan ons verwag dat God ook met ontferming oor ons sal oordeel. Nou gee ons uiting aan die wet van vryheid.

Teen hierdie lig is dit nogal besonders om vers 1 oor ons lippe te neem en dit te prewel…

Jakobus 2:1 “My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie.”

Jakobus 1

Hier is soveel jewele in die eerste hoofstuk van Jakobus. As ek net een moet uitlig, dan sal dit seker vers 9 wees.

Jakobus 1:9 “Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n veldblom sal hy vergaan”

Wat my hier tref is die gedagte daar 2 identiteitsverklarings oor ons bestaan, wat gelyktydig waar is maar oënskynlik teenstrydig met mekaar is.

Aan die een kant is ek en jy kind van die Allerhoogste. Hoe bevoorreg is ons nie om direkte toegang tot die troonkamer van die SkepperGod te hê, en dat Hy luister die oomblik wat ons praat nie? Die gedagte laat mens nogal waardevol voel, want ons is inderdaad waardevol vir God.

Aan die ander kant is ek en jy ook niks en onbenullig voor hierdie selfde Heilige God. Ons is so ontsettend klein voor sy Majesteit, dat ons eintlik weglaatbaar is. Die blote feit dat Hy ons in die lewe geroep het en lewendig hou, is alles loutere genade.

Nou moet ons soos goeie dokters onderskei watter een van hierdie waarhede as medisyne nodig is vir ons siel, hier en nou.

Aan die hand van Jakobus 1 sou ons aanvoer dat indien jy minderwaardig en onseker van jouself voel, dan is dit nodig om jou aansien as “kind van God” vir jouself toe te eien.

Indien jy tans in ‘n grootheidswaan leef of geneig is om hoogmoedig neer te kyk op ander rondom jou, dan is dit nodig om ons eie onbenulligheid voor God opnuut te besef.