Category Archives: 41.) Markus

Markus 12

In hierdie hoofstuk kom een na die ander groep geestelike leiers na Jesus toe, en elkeen probeer Hom vasvra. Jesus word behoorlik gepeper met al die vrae.

Op ‘n stadium skets een van die groeperinge wat nie in die hiernamaals glo nie, ‘n bisarre scenario waar ‘n vrou 7 keer op aarde trou, en dan het die uiteindelike vraag betrekking op met wie sy dan nou eintlik in die hiernamaals getroud gaan wees.

Die vraag is aspris. Dit is bedoel om absurd te wees, want hulle wil die geloof in ‘n hiernamaals probeer belaglik maak.

Ons kry hierdie gedrag vandag nog wanneer mense met mekaar verskil. Baie gou sal jy sien dat iemand ‘n ekstreme voorbeeld noem in ‘n poging om die ander persoon se argument skade te berokken.

Maar Jesus se reaksie op hierdie voorbeeld van hulle is legendaries!

Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? (Mark 12:24)

Ek dink baie na oor hierdie opmerking van Jesus. Ek wonder of dit nie presies is wat met vandag se Christene verkeerd is nie.

Ons sit met ‘n groep gelowiges wat “oop is vir die krag van God”. Hulle beperk nie sy vermoë nie. Hulle glo God kan enige iets doen.

Die probleem is dat hierdie oortuiging nie altyd geanker is in die sekerhede van God se Woord nie. In ‘n poging om God nie te beperk nie, word daar baie van mistiek gemaak. God kon netsowel ‘n naamlose skeppende-krag gewees het. Ons moet die onbegrensbaarheid van God bewonder – en verkieslik oor Hom bly wonder. Mag ons in hemelsnaam daarvan behoed word om ooit met te groot sekerheid te praat oor hoe God is. Ons kan Hom nooit “vasvang” nie. Of so voel hierdie groep gelowiges.

Dan is daar die ander groep gelowiges. Hulle ken die Skrif. Hulle teologie is goed en suiwer. Hulle opleiding is moeilik. God se geskrewe Woord, het vir hulle ‘n kliniese oefening geword. Daar is min ruimte vir God om te beweeg, buite die verstaansveld van die hoogere teoloog.

Dit lyk vir my Jesus wou hê dat altwee hierdie fasette in die lewe van die gelowige in ewewig moet wees. ‘n Diepe kennis van God se Woord – asook ‘n groot openheid vir ‘n beweging van Sy Gees.

Markus 11

Ek is in ‘n Gereformeerde kerktradisie en het baie waardering vir die kerkgroepering waarin ek staan. Maar ek dink geensins dat ons die enigste groepie Christene is wat die Here reg hoor nie.

Ek het al baie by Christene uit ander kerktradisies geleer. Die manier hoe hulle oor God nadink – asook dit wat hulle in die Bybel raaklees.

Neem byvoorbeeld die Charismatici se klem wat hulle lê op die belangrikheid om geloof te spreek. Dit maak dikwels vir Gereformeerdes soos myself ongemaklik – die byna astrante houding waarmee “lewe gespreek” word.

Ons ken dit nie. Ons is meer gewoond daaraan om ‘n diepe afhanklikheid teenoor die Here uit te spreek. Ek dink dit is ook reg so – daar is immers vele Skrifgedeeltes wat ‘n nederige, eerbiedige houding aanmoedig.

Maar dit beteken nie dat my Charismatiese broers en susters verkeerd is nie. Daar is ook Skrifgedeeltes wat hulle onwrikbare vertroue uitbeeld.

Neem byvoorbeeld Markus 11:22-24

Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Charismatici is heeltemal reg as hulle ons daarop wys hoe belangrik dit wat jy sê, in hierdie gedeelte word. Jou woorde word as’t ware die eerste plek waar jou geloof sigbaar word.

Natuurlik is daar gevaar in hierdie teologie. Die bekendste dwaling is sekerlik die “name it & claim it” beweging, wat gekenmerk word deur welvaartsteologie. Hiervolgens hoef jy net die regte woorde te spreek om ryk en gesond te word.

Bogenoemde is natuurlik vals. Dit is ‘n gevaarlike dwaling.

Maar kanselleer dit die waarheid van die teks, om te let op dit wat uit jou mond kom? Nee glad nie. Daar is inderdaad krag in ons woorde. Selfs Gereformeerdes soos ekself weet dit, want dit is hoekom ons mense aan die einde van elke erediens “seën”.

Ek word dus deur my Charismatiese broers en susters gesensitiseer vir die belangrikheid om geloof te spreek. Hierdie teks is maar een van vele wat daardie waarheid onderstreep.