25.) Klaagliedere

now browsing by category

 

Klaagliedere 3

Sjoe, dit is ‘n pragtige hoofstuk hierdie. Eintlik is die mooi te vinde in die struktuur.

Die derde hoofstuk is die middelste gedeelte van die boek Klaagliedere. En in die middel van hierdie gedig vind ons ‘n gedeelte wat totaal afwyk van die res van die boek.

Dit is die enigste gedeelte in die boek waarin die outeur sy hoop uitdruk. Dit is natuurlik doelbewus in die middelste deel van die bundel geplaas om strategies “omarm” te word deur wanhoop.

Wat die digter meld, is egter net so pragtig:

Klaagliedere 3:22 “Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.”

Wat beteken dit dat die Here jou erfdeel is?

Dit het eintlik nie iets te make met “erf” soos wanneer iemand doodgaan nie. Die woord beklemtoon eintlik “deel” en sinspeel op grondgebied.

Dit is die woord gebruik word om die grondverdelingsproses te beskryf toe die Israeliete die beloofde land ingeneem het. Grond was baie belangrik. Dit was jou bron van voorsiening en sekuriteit.

Elke stam het ‘n “gronddeel” gekry, behalwe die Leviete. Omdat die Leviete in die tabernakel en later in die tempel gewerk het, was die Here hulle “deel”.

Die Leviete was ‘n “tipe” van elke Israeliet. Elke Israeliet moes onthou dat hulle voorsien en sekuriteit nie in iets le nie, maar in Iemand.

Klaagliedere 2

Daar is 2 dinge wat my opval in hierdie gedeelte – een wat betekenis dra vir die onmiddelike en een wat belangrik is om te sien omdat dit eers later vir ons gaan sin maak…

Die opvallendheid wat eers later in die boek gaan begin sin maak, is die feit dat die eerste 4 hoofstukke van klaagliedere telkens akrostiese gedigte is. Dit beteken mos dat elke volgende strofe van die gedig, telkens met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin.

Dit is ‘n poging van die outeur om – ten spyte van die donker onderwerp van lyding – ‘n stuk rigiditeit en voorspelbaarheid in die teks te behou. Hierdie metode wat hy inspan, laat vaar hy in die laaste hoofstuk om presies die teenoorgestelde te bereik, maar meer daaroor later.

Die ander opvallendheid is die feit dat die outeur die tragedie van Jerusalem se val en verowering aan God toedig. Elke strofe begin die outeur deur te meld dat dit God is wat…sy boog gespan het, die vyand geword het, sy eie woonplek afgebreek het, sy altaar verwerp het ens.

Dit is vir die outeur belangrik om te wys dat Jerusalem se verowering ‘n direkte gevolg is op die sonde van die volk. Dit is nie toevallig dat Babel sterk genoeg is en Jerusalem inval nie. Dit is omdat die volk vir lank hulle nie aan God se verbond gehou het nie. Dit is die konsekwensie op afvalligheid.

Dit beteken natuurlik glad nie dat ons vandag alle lyding vandag aan God se straf moet toedig nie. Dit is belangrik in hierdie geval omdat die outeur vir die volk die verband tussen hulle sonde en die gebeure wil uitwys. Maar dit is allermins die geval in vandag se tyd.

As jou kind verdrink is dit nie omdat God jou straf omdat jy oor iets gelieg het nie. Moet asseblief nooit daardie denkfout maak nie.

Hoewel lyding in Klaagliedere se geval die gevolg van God se straf op sonde is, is daar tog ook iets wat bemoedigend aan daardie feit is. Dit impliseer God is in beheer. En dit impliseer op sy beurt dat God ook daaraan ‘n einde kan maak op sy tyd.

In ons geval is lyding nie die gevolg op sonde nie. Maar God regeer steeds. Hy kan ook in ons geval ‘n einde maak op sy tyd, sy manier – of dit gebruik soos Hy wou.