24.) Jeremia

now browsing by category

 

Jeremia 41

Ons sien in hierdie hoofstuk iets van die onversadigbare drang van die sonde – en hoe dit altyd sneeubal en al groter en groter word…

Ismael vermoor Gedalja. Dit is opsigself was afskuwelik, maar wat dit soveel meer gruwelik maak is dat hy Gedalja se goedgunstigheid uitbuit. Gedalja nooi Ismael om saam te eet – ‘n gebaar wat welwillendheid sou kommunikeer.

Op ‘n onbewaakte oomblik spring Ismael egter op en vermoor Gedalja. Dit lyk vir ons of dit in die geheim gebeur het want 2 dae na die tyd kon Ismael nog Gedalja se dood wegsteek vir die mense.

Toe van Gedalja se soldate na die stad terugkeer, het Ismael egter geweet hy sou dit nie vir veel langer kon wegsteek nie. Hy gaan toe die soldate tegemoet onder die voorwendsel dat hy saam met hulle wil deelneem aan hulle godsdienstige rite (hulle baarde was geskeer en lywe was gekerf, en hy het huilend hulle tegemoet gegaan).

Doodluiters volg hulle hom tot in die stad, waar hy hulle in ‘n lokval doodmaak – 70 soldate in totaal.

Maar nou weet die stad se mense wat aangaan. Om al die ooggetuies uit die weg te ruim, moet Ismael nou almal wegvoer.

Dit is asof die regverdiging van die eerste misdryf, die pad plavei vir die tweede en die vir die derde. Dit is asof daar geen keer aan hom is nie.

Dit is ‘n wekroep vir ons om nooit die krag van sonde se sneeubaleffek te onderskat nie. Sonde wek in ons ‘n onversadigbare drang na meer en na nog, en naderhand ontsien ons niks en niemand nie.

Jeremia 40

Hierdie is ‘n moeilike een. Gedalja word deur die Babiloniese koning as ‘n goewerneur aangestel om die mense wat nie weggevoer is nie, te regeer.

Een van die soldate wat nie in die geveg gedood is nie, Joganan, keer ook terug na die verwoeste stad en waarsku vir Gedalja. Hy het gehoor dat Ismael (‘n lid van die koningsfamilie), daarop uit is om Gedalja te kom vermoor. Joganan is so seker van hierdie feit, dat hy selfs in ‘n privaatgesprek met Gedalja aanbied om Ismael in die geheim te gaan doodmaak.

En dan die moeilike deel…Gedalja wil nie vir Joganan glo nie. Hy kies om die beste van Ismael te glo. Dit is vir my ‘n moeilike gedeelte om te interpreteer omdat Gedalja se gedrag eintlik so prysenswaardig is. Hy weier om iets slegs van sy volksgenoot te glo. Die tragiek is egter dat hierdie prysenswaardige gedrag uiteindelik tot sy dood in die volgende hoofstuk lei.

Mens sou dus kon sê dat die les wat ons hieruit leer, is om altyd na goeie raadgewers te luister. Mens moet nie te vinnig wees om mense wat aan jou lojaal is, se opinies en indrukke in die wind te slaan nie.

As Gedalja na Joganan geluister het, sou hy baie kon doen om die oorblywende deel van die volk op te hef. Dit sou dalk nie nodig wees om Joganan se plan te volg – naamlik om Ismael in die geheim te vermoor nie – maar hy sou goed doen om ten minste na die waarskuwing te luister.

Jeremia 34

Hier speel ‘n interessante stukkie ironie in Jeremia 34 uit. Die hoofstuk begin deur te sê dat Jeremia die boodskap aan Koning Sedekia oordra dat Jerusalem ingeval sal word – na sy dood.

Vanaf vers 8 word die agtergrond gegee waarteen die verrigtinge afspeel: Die volk het ingestem om vir die eerste keer in jare, hulle mede Joodse volksgenote wat as slawe gewerk het kwyt te skeld en vry te laat.

Ongelukkig het die volk baie gou van gedagte verander. Toe hulle agterkom hoe swaar die werk is wat hulle nou self moes verrig, het hulle hul besluit omgekeer en hulle volksgenote weer onder ‘n slawejuk ingedwing.

Die profetiese woord van die Here kom dan by monde van Jeremia. Die Here sê Hy gaan die volk “vrylaat” omdat hulle van hulle volksgenote “slawe” maak. Die “vrylaat” is natuurlik “oorgee” in die hande van die vyand.

Daar is ‘n pragtige omgekeerde waarheid wat in die teks geïmpliseer word: As hulle “vrygelaat” word omdat hulle van hulle volksgenote “slawe” maak – dan impliseer dit dat toe hulle besluit het om hulle volksgenote “vry te laat”, hulle “slawe/diensknegte” van die Here was.

Die gedagte herinner sterk aan wat Martin Luther gesê het: “‘n Mens is altyd ‘n slaaf. Jy is of God se slaaf of sonde s’n”.

Met die ommekeer laat die Here die volk kwansuis “vry” – maar daardie “vrylating” is in die hande van ‘n baie wrede vyand, by wie hulle slawe gaan wees.

Die teks impliseer dus dat wanneer ons God se beskerming wil geniet, ons onsself aan sy wil moet onderwerp. Ons kan nie ons eie “baas” wil wees maar tog ook nog aanspraak maak op die beskerming en voorsiening van die Here nie.

Ek sien in my geestesoog hoe God se wil met ‘n sambreel uitgebeeld word. As ons teen die reën beskut wil wees, moet ons onder die sambreel bly. As ons onder die sambreel uitbeweeg (onsself nie aan God se wil hou nie), moet ons nie verbaas wees as ons natreën nie.

Jeremia 7

As daar al ooit ‘n Skrifgedeelte was wat die mens teen vormgodsdiens waarsku, dan is dit hierdie een…

Die Judeërs het houtgerus met hulle lewens voortgegaan. Hulle het gedink Jerusalem sal nooit kan val nie. Hoekom nie? Want God se tempel is in Jerusalem!

God se tempel het vir hulle iets soos ‘n “gelukbringer” geword. God sou tog sekerlik nie toelaat dat die stad deur vyande ingeneem word nie? Dan sou die tempel immers in die hande van goddeloses val.

Daar het dus ‘n valse gerustheid by die volk ingetree. Hulle kon leef soos hulle wil, sonder dat daar regtig die gevaar van konsekwensies is. God was immers binne hulle stadsmure ingesluit.

Maar niemand – niemand – hou God gyselaar nie. God is nie gepla met die uiterlike vertoon van godsdiens nie. Hy stel nie belang om ‘n seremoniële plek in ons lewens te beklee nie. Hy begeer om die murg in ons bene te wees, of niks anders nie.

Daarom lei Hy Jeremia om te së…

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring.
JEREMIA 7:3‭-‬6 AFR83

Ons doen dikwels dieselfde vandag. Ons dink God is beskerming aan ons verskuldig, selfs as ons sonde doen. God moet ons seën, selfs as ons lankal nie meer sy koninkryk soek nie, maar ons eie.

Jeremia 1

Daar is baie wat mens in Jeremia 1 opval: Die Here wat die profeet reeds voor geboorte gekies en bestem het. Die profeet se selfkritiek dat hy te jonk is. Die Here se bevestiging dat wat hom bekwaam maak, nie sy bekwaamhede is nie maar die feit dat God hom gekies het.

Wat vanoggend vir my egter baie betekenisvol is, is die gesig van die amandeltak wat die profeet sien. Amandelbome het in die lente begin bot lank voordat ander bome bot. As jy al die ander weerstoestande in aanmerking neem, sou dit vir jou lyk asof dit nog winter is. ‘n Bloeisel op ‘n amandeltak sou vir jou heeltemal verdwaal en uit plek kon lyk – asof hierdie boom homself misgis. Tog is die lente waarlik op pad.

Die Here gebruik hierdie visioen om vir Jeremia te bemoedig: Hy sal nie Jeremia daarvan beskaam laat afkom nie. Hy sal doen wat Hy onderneem het om te doen – al lyk dit vir niemand anders asof dit moontlik is nie.

Vandag nog vind ons dit moeilik om die Here op sy Woord te neem. Hy sê ons is vergewe – maar dit voel nie vir ons so nie. Hy sê Hy sal voorsien – maar dit lyk nie vir ons of daar uitkoms in sig is nie. Hy sê Hy is naby – maar dit voel of Hy ver is. Hy sê Hy sal ons beskerm – maar ons bly bang.

Geloof is om die amandeltak te glo. Geloof is om aktief te wag op die Here. Geloof is om God op sy Woord te neem en in sy beloftes te rus.