Category Archives: 16.) Nehemia

Nehemia 10

Na aanleiding van die gesamentlike gebed wat die volk in die vorige hoofstuk gebid het, gaan hulle dan nou voort om ook ‘n eed af te lê in hierdie hoofstuk.

Dit is ‘n plegtige eed teenoor die Here – wat verseël word en al – waarin onderneem word dat hulle die voortaan die héle Wet sal onderhou.

Dit is ‘n pragtige gebeurtenis wat die klimaks van die boek bevat – maar tog is dit ook gelyktydig die moment voor die groot val kom. Hierdie hoofstuk bevat ‘n prentjie van hoe pragtig hulle toewyding is – maar dit is gelyktydig ook swanger met die onheilspellende. Want ons weet dat ons beste voornemens en al die toewyding in die wêreld, nie genoeg is om die héle Wet van God foutloos te onderhou nie. Esra 10 bevat dan ook die uitbeelding van die onmoontlikheid.

Maar vanoggend is daar iets in die inhoud van hulle eed, wat my aandag opval. Van alles wat die volk belowe om te doen, belowe hulle onder andere om die eerstelinge van al hulle gesaaides en vrugtebome, asook die eersgeborenes van al hulle vee en kleinvee – én selfs die eerste deeg, wyn en olie na afloop van die oes, na die huis van die Here te bring.

Gewoonlik word Skrifgedeeltes soos hierdie gebruik om die meriete van dankoffer aan te toon – en die noodsaak dat ons nie vir die saak van die Here gee wat oorbly na al ons uitgawes betaal is nie, maar dat ons heel eerste vir die Here sal gee. Dit is ook reg so.

Maar ek dink ons mis baie keer iets selfs meer belangrik as dit, in gedeeltes soos hierdie. En dit is die manier waarop gedeeltes soos hierdie swanger was met ‘n Messiaanse verwagting.

Onthou, die rede waarom die eerstelinge of die eerste oes na die tempel gebring is, was nie primêr om dit aan die Here te wy nie, maar omdat dit aan die Here gewy ís.

Die héle oes het aan Hom behoort. Alles was te danke aan Hom, en alles het inderwaarheid Hom toegekom. Die eerstelinge van ‘n oes was bloot die verteenwoordiging van die héle oes. Deurdat die eerstelinge na die tempel toe geneem is, is die volk herinner aan die feit dat hulle héle bestaan eintlik aan God behoort.

Nou die interessante: Wanneer Jesus op die toneel kom, praat die Bybel van Hom as ons “Eersteling”…

Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
ROMEINE 8:29

Jesus is ons oudste broer. Hy is die eersgeborene van ons Vader. Hy is aan ons Vader gewy – maar Hy is ook verteenwoordigend van ons. Wat waar is van Hom, is waar van ons.

As Hy gesterf het vir die sondes, dan het óns. As Hy die dood oorwin het, dan het óns. As Hy nou aan God gewy is en vir Hom leef, dan is dit ook waar van ons.

Nehemia 9

In hierdie hoofstuk word daar ‘n lang gebed weergegee wat die Leviete die volk in gelei het.

Daar is ‘n paar opvallendhede in die gebed. Een van die belangrikste waarnemings is dat die gebed – wat in effek die geskiedenis van die volk oorvertel – ‘n akkurate beskrywing van die gebeure is.

Die vedskillende misdrywe van die volk word nie sagter gestel as wat dit was nie. Dit word nie geregverdig of gerasionaliseer nie.

So dikwels wanneer ons vandag oor ons sonde praat, bied ons saam met ons skulderkenning ‘n verduideliking aan wat poog om ons oortreding te verskoon.

Meer nog as dit, vandag is dit hoogmode om God te blameer. Dikwels hoor ons hoe iemand God vir hulle sonde beskuldig. “U was so stil! Wat was ek veronderstel om te doen?!”

Maar Nehemia 9 se gebed ken niks hiervan nie. Die Leviete lei die volk om volkome eienaarskap te neem vir hulle benarde situasie. Op ‘n stadium lui die gebed selfs:

In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.
NEHEMIA 9:33

Partykeer doen mens ‘n seerplek op, en dan is jou natuurlike instink om die wond toe te hou. Maar as jy wil hê die wond moet gesond word, dan help dit nie jy hou dit net toe nie. Mens moet dit oopmaak en ontsmet. Wie ‘n wond net toehou moet niks goeds te wagte wees nie.

Dit werk op’n soortgelyke wyse ook so met sonde. Dit is nie lekker om te weet dat ons gebroke mense is wat oortree nie. Ons natuurlike instink is om dit te ontken. Ons wil die blaam skuif. Ons wil regverdiging kry vir ons optrede. Ons wil ons oortreding onderspeel.

Maar ware genesing kom eers as ons voor God erken: Alles wat U doen is reg. Alles wat ek doen is verkeerd.

Nehemia 8

Hierdie is ‘n roerende hoofstuk van hoe aangeraak die volk was toe hulle vir die eerste keer weer God se Wet kon aanhoor. Dit was ook nie net ‘n “kultiese-rituele lees” van God se Woord nie. Die Leviete het die implikasie van dit wat gelees word, aan die mense verduidelik en die mense was diep geraak.

Vandag nog sien mens gevalle waar iemand aangeraak word deur die lees of die aanhoor van God se Woord. Dit is nie iets wat ons kunsmatig kan kweek nie. Dit is ‘n bonatuurlike aanraking deur die Heilige Gees.

Ons kan wel bid dat daar altyd by ons dieselfde soort dors vir God se Woord sal wees, soos wat hierdie mense gehad het. Ook ontsag vir God se Woord, mag nie by ons verdwyn nie.

Die geskrewe Woord Van God bly die manier waarop God kies om Homself aan ons te openbaar. Mag ons altyd respek en ‘n liefde vir die Bybel behou.

Nehemia 7

Toe die stadsmuur se deure gehang word, moes Nehemia iemand aanstel wat toegangsbeheer toepas. Dit is interessant watter kriteria Nehemia gebruik om die geskikte kandidaat te kry.

Hy stel Gananja aan, en die rede vir sy aanstelling is interessant genoeg nie Gananja se vaardighede nie. Nehemia sê Gananja is “betroubaar”, en het eerbied vir God.

Die manier waarop aanstellings deesdae gemaak word, is om na iemand se vaardighede te kyk. Vaardighede is egter iets wat mens altyd later ook kan aanleer. Karakter is egter nie iets wat mens aanleer nie.

Ons gaan moeilik vandag in die werksplek daarmee wegkom om aanstellings te maak op grond van karakter. Maar mens kan kies dat jyself altyd iemand sal wees wat – al ontbreek vaardighede – karakter aan die dag sal lê.

Dit gee vandag nog die deurslag in enige werk.

Nehemia 6

Mens leer in hierdie hoofstuk so baie van hoe kritiek werk en hoe leiers dit moet hanteer.

Sanballat en Tobija’hulle probeer om Nehemia bang te maak met ‘n sogenaamde gerug wat kwansuis die rondte doen. Gelukkig val Nehemia nie daarvoor nie. Hy hou hom by sy werk.

Toe daardie strategie nie werk nie, loots hulle ‘n aanval van binne. Hulle koop vir Semaja om, om ‘n valse profetiese uitspraak te lewer. Nehemia sien ook deur hierdie truuk.

Aan die einde van die hoofstuk is daar iets interessant aan die gebeur. Die muur is voltooi, maar in plaas daarvan dat hierdie hooggeplaastes bly is – hulle baat immers daarby – ontstaan daar ‘n oor en weer briewe geskrywery. Die kat is behoorlik in die hoenderhok.

Dit is duidelik waaroor dit hier gaan. Hulle is afgunstig op Nehemia. Hulle was ook in die stad, maar hulle het nie die muur herbou nie. Toe kom Nehemia op die toneel en skielik gebeur dinge. In plaas daarvan om sy sukses te vier, kies hulle om hulle verleentheid te verdoesel.

Hulle was posisionele leiers. Nehemia was die regte leier. Hulle strategie was vrees, kritiek, onmin en verdeeldheid.

Nehemia se kuur vir hierdie gif, was bloot om die regte ding te bly doen. Hulle het alles probeer om hom van die bouperseel af weg te lok en die werk te laat stilstaan. Maar Nehemia het nie energie spandeer om die skindertonge stil te maak nie. Hy het net aangehou werk. Selfs toe sy binnekring (Semaja) teen hom draai, het hy die durf aan die dag gelê en nie skuiling in die tempel gaan soek nie.

Leierskap is ‘n alleenpad. Leierskap ken die frustrasie van kritiek en die pyn van verraad. Goeie leiers benodig antennas om waarheid te meet – soos briewe wat nie geseël is nie en profetiese uitsprake wat nie water hou nie. Goeie leiers het ‘n groter deursettingsvermoë om aan te hou en deur te druk met die visie, terwyl ander al sou moed opgee.