Category Archives: 15.) Esra

Esra 4

Dit is ‘n gemene ding wat in Esra 4 afspeel. Die Noordelike bure van Jerusalem, Samaria, bied hulp aan om te help herbou. Hulle voer aan dat hulle tog ook die Here dien.

Hulle dien inderdaad die Here, maar nie die Here alleen nie. Hulle gedeelde toewyding sal ‘n gevaar vir die volk inhou, en dit is juis oor ‘n gebrek aan onverdeelde trou dat die Here hulle in ballingskap laat wegvoer het.

Die volk weier daarom die hulp van die Samaritane, en toe gaan steek die Samaritane die volk toe, by die Kores. Hulle rig ‘n brief aan hom wat sê dat die volk nie van plan is om belasting te betaal sodra hulle die stad klaar herbou het nie.

Koning Kores gee opdrag dat alle bouwerk dadelik gestaak word, en hierdie opdrag voer die Samaritane smalend met groot vreugde uit. Teleurstellings, teenkanting en terugslae. Dit alles kan ons verwag gaan in hierdie lewe gebeur. Soos ons egter ook in die volgende hoofstukke sal sien, hou mens nie op vorentoe beur omdat jy druk beleef nie. Jy druk terug en hou aan met die goeie.

Esra 3

In Esra 3 begin die klein oorblyfsel van die volk wat teruggekeer het, om die tempeldiens te hervat. Daar is hoofsaaklik 3 dinge wat vir my uitstaan:

Eerstens is dit opmerklik dat hulle die bepalings en stipuleringe van die Wet, so goed as moontlik probeer nakom met betrekking tot offers. God se Woord is hulle rigsnoer hoe om dinge te doen.

Tweedens is dit lekker om die meelewing te sien. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid. Almal is betrokke. Hulle treë soos een man op (3:1). Dit is nie net die priesters wat die “Show run” nie.

Derdens kan mens nie help om die blydskap raak te sien nie. Dit word telkemale herhaal dat hoe bly die mense was.

Ek sit en dink wat mens uit hierdie Skrifgedeelte leer oor die “herbou van die Kerk” in hierdie COVID-19 tyd.

Die Bybel bly ons rigsnoer. Dit is nie ‘n dominee-kerk nie, maar ‘n Liggaam van Christus. Wanneer ons dien, dien ons met blydskap.

Esra 2

Hoofstuk 2 van Esra bevat ‘n gedetailleerde lys van name en getalle van mense wat bereid was om terug te keer na Jerusalem. Voor mens jou kan keer, is jy besig om oor die lys name te vluglees – asof dit onbelangrik is.

Dit mense in die lys mag miskien onbekend wees, maar hulle was nie onbelangrik nie. Dit was die mense wat uit vrye wil gekies het om terug te keer Jerusalem toe. Onthou, baie mense het gekies om eerder te bly waar hulle is. Hulle was nou na soveel jare gevestig in die vreemde. Hulle het begin om geld te maak. Om nou weer wortels te lig en van vooraf te begin, het baie moeilik geklink. Net die reis terug na Jerusalem sou ongeveer 4 maande duur. Jy sou deur onherbergsame terrein met jou familie moes trek, verby naburige volke wat jou nie goedgesind is nie en wat jou op enige stadium sou kon aanval. Tog was die mense in hierdie lys name, bereid om te gaan. Hulle het gevoel die Here roep hulle om ‘n besondere werk te gaan doen: Bou die tempel!

In die Nuwe Testament word gelowiges boustene van die tempel van God genoem. Hulle is lewende stene (1 Pet 2:5).

Ek wonder of ons nie ook vandag geroep word om te “onttrek” uit die wêreld waar ons leef, en terug te keer na ‘n lewe waar God gedien word nie? Die lewe waaruit ons moet kies om te onttrek, is ‘n gesekulariseerde lewe. God roep gelowiges uit daardie lewe, terug na ‘n lewe waar Hy gedien word.

Gehoorsaamheid aan God is ‘n vrye keuse. Dit sal gepaardgaan met opofferings en moeilikhede. Maar die wete dat jy in God se wil is, maak dit alles die moeite werd.

Esra 1

Die eerste hoofstuk van Esra skop af deur te vertel van die proklamasie van Kores, wat Esra en ander in staat gestel het om terug te keer na Juda om die stad te herbou. As mens nie versigtig is nie, mis mens maklik die grootsheid van hierdie inleiding…

Die volk was mos in 586vC deur Nebukadneser van Babel verower en in ballingskap weggevoer. Hulle was 47 jaar in die vreemde, toe die Persiese koning Kores vir Babilonië oorrompel. Skaars een jaar nadat hy die koninkryk oorgeneem het, vaardig hy in 538vC ‘n edik uit dat verowerde volke na hulle lande van herkoms mag terugkeer.

Wat hierdie so besonders maak, is die feit dat die profeet Jeremia dit geprofeteer het (Jer 25:11; 29:10-14). Die eerste ding wat dus hier vir ons uitstaan is dat die Here ‘n waarmaker van sy Woord is. Hy hou sy beloftes aan sy volk. Hy hou ook sy beloftes aan ons.

Die tweede ding wat uitstaan, is dat die Here hierdie ongelowige koning gebruik om uiting aan sy wil te gee. Kores het nie hierdie toegewing gemaak omdat hy die Here wou dien nie – nie eers omdat hy die Jode simpatiek is nie. Dit was bloot ‘n diplomatieke-strategiese skuif. Die volke wat hy toelaat om terug te keer, sou meer lojaal aan hom wees in die toekoms. Terselfdertyd het hulle ‘n “buffer” tussen die vyand en sy koninkryk gevorm. Kores se motiewe was dus skeef en selfgerig.

Tog is die verstommende dat die Here selfs deur hierdie krom stok ‘n reguit hou slaan. Die Here gebruik hierdie ongelowige om ‘n uitkoms vir sy volk te bewerk. Dikwels bring die Here vandag nog uitkoms vir ons uit ‘n oord wat ons nooit verwag nie.

Hierdie is 2 belangrike geloofsoortuigings waaraan elke gelowige kan vashou in moeilike tye.