Category Archives: 1 Timoteus

1 Tim 6 (23 Jun)

1 Tim 6:8-10 “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.”

Sjoe, hierdie woorde beteken vandag vir my so baie. Die afgelope ruk is ek kort-kort in my gedagtes bekommerd oor my en Lindie se oudag. Sit ek genoeg pensioen weg? Gaan ons genoeg hê om van te leef? Hoe kan ek meer geld maak?

Vandag se gedeelte gaan natuurlik nie oor pensioen nie. Dit gaan oor ‘n verknogtheid aan materiele welstand. Mens sou kon redeneer dat ek nie dit doen nie – ek wil immers nie RYK wees nie. My bekommernis is net om GENOEG te hê op ons oudag.

Maar sonder dat ek agterkom, gebeur tog dieselfde in my hart as in die hart van iemand wat rykdom jaag: My vertroue skuif…weg van Jesus…na geld toe. En ek is nie gevrywaar van daardie laaste sin nie: “Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal” As ek nie pasop nie, kan dit ook met my gebeur.

Here, ek is dikwels besorgd oor die toekoms. Vandag kies ek opnuut om my vertroue nie in geld te plaas nie, maar in U.

1 Tim 5 (22 Jun)

Paulus waarsku vir Timoteus om nie “te vinnig” iemand die hande op te lê nie. Duidelik glo Paulus dat dit ‘n baie besonderse gebaar is – dat daar krag in die gebaar is.

Ek sit en wonder wat ons gevaar vandag is met betrekking tot hande oplê? Maak ons vandag te veel daarvan of het ons dalk na die teenpool beweeg en maak ons dalk te min daarvan vandag? Dit voel vir my ons maak te min deesdae daarvan.

Ek besluit sommer nou om wanneer ek vanaand vir my kinders te bid, dit nie net te doen soos ek dit altyd doen nie, maar om hulle die hande op te lê.

1 Tim 4 (21 Jun)

Dit is nou die tweede keer wat Paulus vir Timoteus waarsku om nie in sinnelose argumente met mense betrokke te raak nie. Die eerste waarskuwing was in 1:4 en die tweede in 4:7. As dit by geloofsake kom, kan mense inderdaad oor vreemde dinge baie passievol baklei met mekaar.

Ek sit self dikwels en wonder hoe om sulke dinge te hanteer. Want soveel van die bakleiery vind mos deesdae op Facebook plaas. Maar het jy al ooit enige iemand ontmoet wat van opinie gewysig is oor iemand hom/haar op Facebook tereggewys het? Hierdie raad van Paulus lyk vir my nog net so geldig te wees…

Here, help my om te weet wanneer om my mond oop te maak en wanneer om stil te bly.

1 Tim 2 (20 Jun)

1 Tim 1:2 “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen…”

Kan ‘n mens iets hierby voeg? Veral in ‘n tyd soos hierdie in ons land?

1 Tim 1 (19 Jun)

1 Tim 1:19 ~ Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.

Ek wonder hoeveel keer per dag onderdruk ek my gewete? Die grappe waarvoor ek lag, die facebook posts wat ek snaaks vind, die mense teenoor wie ek nie wil opstaan nie omdat ek bang is ek gee aanstoot…

…as ek nie pasop nie, kom daar ‘n kouefront oor my hart. Dit word net te maklik om die Here te volg op my terme.

Kom ons vra die Here dat Hy ons gewetens sal afstof en ons opnuut sensitief sal maak vir sy stem.