Category Archives: 1 Samuel

1 Sam 23 (7Sept)

Ek sien in vandag se gedeelte Dawid se totale afhanklikheid van die Here. Hy soek letterlik treë vir treë die Here se wil.

Eers raadpleeg hy die Here of hy die stad Keïla moet gaan help teen die Filistyne. As hy daar is hoor hy van Saul se planne om hom aan te val. Dan raadpleeg hy die Here of dit die waarheid is – en op dit of die stad se mense hom gaan beskerm of uitlewer. Op grond van dit wat die Here vir hom sê baseer hy elke besluit.

Dit was waarskynlik nie dat hy die Here in ‘n hoorbare stem gehoor praat het nie. Waarskynlik het hy ook maar soos ons die Here se wil probeer uitpluis deur die indrukke wat hy in sy gees beleef het.

Maar hierdie opregte afhanklikheid van hom inspireer my.

1 Sam 14 (24 Aug)

Kan iemand so uit pas wees soos Saul? As die Here ‘n wonderwerk op die voorpunt van die geveg doen (by Jonatan), dan is Saul op die agterhoede. Wanneer hy die skarrel om die ark nader te bring, is dit te laat. Wat sy manne nodig het is om hulle kragte te herwin, maar hy lê ‘n eed af dat niemand iets mag eet nie. Die enigste held in die storie is Jonatan. Maar dit is ook die einste persoon wat negatief deur Saul se eed geraak word, want hy het nie daarvan geweet nie. Ek wonder weer: Kan iemand so uit pas wees met dit wat rondom hom aangaan?

Kom ons vra die Here dat Hy vir ons ‘n fyn sensitiwiteit sal gee om ons konteks reg op te som.

1 Sam 13 (23 Aug)

Mens kry eintlik vir Saul jammer. Hy was soos die Engelse sê tussen ‘n “rock and a hard place”. Die Filistyne was op die punt om hom en sy manne aan te val. Sy manskappe was doodsbang en het begin dros. Samuel het nie op die ooreengekomde tyd opgedaag om die brandoffer te bring nie. Die geveg sou enige oomblik uitbreek en dan het hy nog nie kans gehad om ‘n offer vir die Here te bring en sy guns af te smeek nie. En daarom gaan Saul voort en bring hy self die brandoffer.

Maar al is daar hoeveel dinge wat ons voel versagtende omstandighede is, bly sy optrede ongehoorsaam. Dit laat my sommer dink aan wat druk/spanning/angs aan ons oordeelsvermoë doen. Die Here verwag van ons om ook in die kookwatertye die regte ding te doen – juis dan.

1 Sam 16 (1 Sept)

Samuel moet ‘n koning salf, maar dit waarna hy soek is nie dit waarna die Here soek nie. Die Here kyk anders – nie na die uitelike nie maar na die innerlike. Dit kom mooi uit in hierdie gedeelte.

Maar die merkwaardige is dat wanneer Samuel God se hart begryp, begin hy ook so na mense kyk. Hy sit sy agenda weg en val in by God s’n. Hy salf nie Eliab nie, maar vir Dawid.

Het ek genoeg karakter om af te sien van my agenda en in te val by God s’n? Of probeer ek altwee van ons s’n máák werk? Daar is nie plek vir so iets nie. Ek moet die gehoorsaamheid hê om my te onderwerp aan God se wil.

1 Sam 7 (30 Julie)

In hierdie hoofstuk wy die Israeliete hulleself opnuut aan die Here. Dit is interessant dat wyding altyd gepaardgaan met afwysing. Dit help nie jy wy jou aan die Here maar jy koester steeds die afgode in jou midde nie. As hulle hul wou wy aan die Here, moes hulle die Astarte afgodsbeeldjies onder hulle verwerp.

In my eie lewe moet ek ook kies. Indien ek Jesus wil volg, is daar nie plek vir ‘n ander “heer” wat ek ook wil dien nie – hetsy geld, verhoudings, besittings, aanvaarding…

1 Sam 6 (29 Julie)

Miskien is die hoofding wat my in vandag se stuk opval, dat die ark – sonder enige hulp van die Israeliete se kant – teruggekeer het. Die Filistyne het 2 koeie ingespan en hulle met die ark weggestuur. Die mense van Bet-Semes was nog besig om in die lande te werk, toe hulle opkyk en die ark sien wat op die wa aangery kom.

Die ark is die vergestalting van die Here se teenwoordigheid. En dit was nie nodig vir die mense om te gaan oorlog maak om dit terug te wen nie. Inteendeel, dit was juis vanwee die inmenging van mense en hul selfsugtige ambisies wat die ark in die eerste plek verlore laat raak het. Maar die Here het nie mense nodig om sy teenwoordigheid te laat manifesteer nie. Die betekenis van die stuk is dat die Here outonoom is: Geen Filistyn of Israeliet het oor Hom beheer nie.

Meng my persoonlike agendas nie partykeer ook in, in die teenwoordigheid van die Here in my lewe nie? Veroorsaak my selfsugtige ambisies nie juis dat ek Hom “wegdryf” nie? Besef ek genoeg dat geen inspanning van my kant, die Here kan manipuleer om “meer” in my lewe betrokke te wees nie? Die feit dat Hy nou by my is, is suiwer genade.

1 Sam 2 (25 Jul)

Sjoe, vandag se hoofstuk is ‘n moeilike een oor die seuns van Eli wat mense uitbuit, korrup en losbandig is. Mens wil eintlik lank oor hierdie gedeelte en sy implikasie dink. Dit lyk my dit handel oor hoe belangrik dit vir die Here is dat mense wat voorloop, mense sal wees wat met integriteit leef en ‘n groot respek teenoor die Here het.

Die vers wat in my hart weerklink is vers 30: “die een wat My eer, sal Ek eer, en die een wat My minag, sal Ek minag“. Dit is goed om te onthou dat die Here nie verleë is oor my nie. Hy het nie my nodig nie. Dit is ek wat Hom nodig het. Mag ek wegkom van die onbewustelike gedagte dat ek die koning van my eie lewe is, en meer en meer onthou om Hom as die Koning van my lewe te kroon.

1 Sam 1 (24 Jul)

Vandag begin ons met die boek 1 Samuel en ek word getref deur die felheid waarmee Eli teenoor Hanna optree. Sy gaan bid in Silo (waarskynlik by die aanbiddingsplek waar die verbondsark gestaan het), maar sy bid saggies sonder om te praat. Eli interpreteer dit heeltemal verkeerd as ‘n teken dat sy dronk is. Totaal onbewus van haar seer en hartverlange om ‘n kind te hê, vreet hy uit en wys hy haar weg.

Ek wonder hoeveel keer het ek al mense so verkeerd opgesom? ‘n Optrede van iemand verkeerd geïnterpreteer? Dit is hoekom dit belangrik is om nie te oordeel nie en altyd te onthou dat selfs die mense met wie ek die meeste verskil, ook ‘n worstelstryd in hierdie lewe mee besig is.

Here, help my om met sagter oë na mense rondom my te kyk.