Category Archives: 1 Kronieke

1 Kronieke 29

Dit is aandoenlik om Dawid se gebed te lees. Jy hoor die warmte van sy liefde vir die Here, sy volk en ook sy seun. Op ‘n stadium bid hy juis vir sy seun Salomo en hy sê:

“Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou” (1 Kron 29:25)

Die hoofstuk vervolg en meld dan dat Salomo tot koning verkies is. Dit is egter opmerklik dat Salomo nêrens in die gedeelte ‘n aktiewe rolspeler word nie. Hy bly passief, in die sin dat daar net oor hom verhaal word en wat met hom gebeur. Nader aan die einde van die hoofstuk staan daar:

“Die Here het Salomo hoë aansien in die oë van die hele Israel laat geniet en hom ’n koninklike verhewenheid geskenk wat nie een van die Israelitiese konings voor hom gehad het nie.” (1 Kron 29:25)

Die Here het gehoor gegee aan Dawid se gebed. Natuurlik het Salomo ook ‘n aandeel in sy lewe gehad – hy het keuses gemaak. Maar die gedeelte van vandag laat dit tog blyk dat ons gebede vir ander mense, groot krag het.

Ook ek is die produk van my ouers en grootouers se gebede – én die Here se genade. Ja, ek maak my eie besluite. Maar ek sal die Here oneer aandoen as ek nie ook erken dat ander vir my gebid het, en dat Hý vir my geweldig goed was nie.

Op ‘n soortgelyke wyse kan ek ook in ander se lewens inbou deur gebed. Ek kan bid vir my kinders, vir kerkleiers, vir ons land se leiers. En vandag se gedeelte sê dat die Here ons gebede, sy genade en hulle eie selfstandigheid, op ‘n misterieuse wyse saamvoeg tot ‘n groot geheel.

Kom ons bid vir ander!

1 Kronieke 25

Ons lees in vandag se hoofstuk hoe Dawid tempelsangers aangewys het. Nadat die gedeelte uitgebrei het oor die seuns van Heman, word daar vertel hoe die indeling plaasgevind het:

“Hulle is vir diens geloot volgens die reël dat oud en jonk gelyk is, of hy nou al opgelei of leerling was.” (1 Kron 25:8)

Dit is ‘n interessante maatstaf. Veral in ag genome die feit dat dit ‘n samelewing was wat baie status aan ouderdom gekoppel het. Tog gee hulle gelyke kans aan mense wat oud en jonk was.

Ek dink ons kan baie leer by die Joodse siening van kinders. As mens byvoorbeeld hulle feeste ondersoek, dan sien jy dat kinders ‘n kritiese belangrike rol speel. Kinders was nie “verdra” nie. Die feeste is eintlik rondom hulle gebou (neem byvoorbeeld die rol van kinders tydens die rite van die paasmaaltyd).

Hier by die tempelsang, sien mens weer iets daarvan. Kinders skuif nie na die agtergrond sodat die groot mense die ding kan doen nie. Hulle is geheel en al deel van alles.

Dink ons kultuur nie dalk verkeerd oor kinders nie? Kyk ons nie dalk te veel na hulle asof hulle “onvolledige volwassenes” is nie? Ons moet altyd onthou dat kinders nie ‘n “mini-Heilige Gees” ontvang het nie. Hulle is nie minderwaardige gelowiges nie. Die Here kyk nie so na hulle nie, en ons behoort ook nie.

1 Kronieke 9

“Hulle en hulle opvolgers was die wagte by die poorte van die huis van die Here, die tenthuis. Daar was wagte by die poorte in elkeen van die vier windrigtings: oos, wes, noord en suid. Hulle ampsgenote het in hulle eie nedersettings gebly en het hulle telkens sewe dae volgens ’n vaste program kom bystaan.” 1Kron 9:23-25

Ons het gesien dat toe die volk nog deur die woestyn getrek het, het hulle die verskillende stamme só geposisioneer dat die verbondstent altyd in die middel van die volk was. Die volk was met ander woorde gesentreer rondom God se teenwoordigheid.

Toe die volk later vestig in Jerusalem, het hulle poortwagte in elke windrigting geplaas om sodoende te kenne te gee dat hulle steeds gesentreer is rondom die tempel.

In vandag se hoofstuk lees ons dat toe die volk terugkeer uit ballingskap, het hulle die nasate van die poortwagte weer opdrag gegee om in die verskillende windrigtings stelling in te neem soos in die dae vantevore.

Mens kan verskeie dinge hieruit leer: Die volk was ontrou aan die Here en daarom was hulle weggevoer. Maar toe hulle terugkeer na Jerusalem het hulle teruggekeer na hulle wortels. As ek verbrou het, is dit die regte ding om terug te keer na die basiese van my geloof. Geen slim “tricks” nie. Mens maak nie ‘n fout reg deur nog ‘n fout te begaan nie. Mens keer terug na die “basics”.

Aan die ander kant sien ons ook in hulle terugkeer na die windrigtings, dat hierdie oorblyfsel van mense wat teruggekeer het, die voortsetting van God se volk is. Hy vergewe hulle en begin weer met hulle ‘n pad stap.

Ons kan ook weet dat daar altyd herstel is by die Here. Selfs as sonde my geskaad of vernietig het, neem die Here dit wat van my oorbly en begin Hy weer van vooraf met my.

1 Kron 7

Vandag se hoofstuk in Kronieke bevat ‘n geslagsregister van die stamme van Issaskar, Benjamin, Naftali, Manasse, Efraim en Aser.

Dit is interessant dat die geslagsregister telkens dui op hoeveel weerbare mans – met ander woorde soldate – daar in die stam was. Ons is geneig om mense se waarde te meet aan die hand van dit wat hulle vir ons kan bied.

Tog lees ons tussen al hierdie name en getalle, van die hartseer van ‘n pa wie se seuns gesterf het toe hulle vee gaan steel het…

“Daar was ook nog Eser en Elad, maar hulle is deur die mense van Gat wat van geboorte af in die Efraimitiese gebied was, doodgemaak. Dit het gebeur toe hulle die mense van Gat se vee gaan steel het. Eser en Elad se vader Efraim het lank oor hulle getreur…” 1 Kron 7:21-22

Kan jy dink hoe seer hierdie pa gehad het? Sy teleurstelling oor sy seuns? Hulle is vermoor toe hulle iets gaan probeer steel het. Asof die seer van die omstandighede van hulle dood nie erg genoeg is nie, is daar nog die vernedering dat dit hulle vyand was wat hulle doodgemaak het.

Op papier lyk Eser en Elad nie goed nie. Hulle was diewe. Maar vir Efraim was hulle sy seuns. Hierin sien ons die hart van ‘n pa. Hy bly lief vir hulle selfs as hulle ‘n teleurstelling is, ‘n vernedering is, hartseer veroorsaak…ongeag.

As ‘n aardse pa daardie soort liefde vir ‘n kind het, hoeveel te meer nie ons hemelse Pa nie?

1 Kronieke 5

“Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorvaders en het oorgeloop na die gode van die landsbevolking wat ter wille van hulle deur God uitgeroei is. Daarom het die God van Israel vir koning Pul van Assirië, dit is Tiglat-Pileser, aangehits, en dié het hulle as krygsgevangenes weggevoer” 1Kron 5:25-26

Ons lees in vandag se hoofstuk van hoe die stam Ruben, Gad en Manasse Oos van die Jordaan geleef het. Ons lees van een oorlog na die ander, ter wille van oorlewing. Die Here help hulle deur elkeen en beskerm hulle. Hy is die behouer van hulle lewe.

En dan aan die einde van die hoofstuk lees ons dat hulle, ten spyte van alles, gaan staan en oorloop het na ander afgode!?

Dit is nie juis lekker om te lees van al die moord en doodslag nie. Mens sou met reg kon vra “Wat maak ons vandag met al die bloedvergieting in die Bybel?”.

Maar vir nou is dit eintlik belangrik om te sien dat hier ‘n storie agter ‘n storie afspeel. Ons lees indirek van God se volgehoue getrouheid (Hy help hulle deurgaans), en dan sien ons sy dienaars se ontrouheid. God se betroubaarheid en die mens se onbetroubaarheid word dus op ‘n baie prominente manier teenoor mekaar gestel.

Wanneer God uiteindelik sy hand terugtrek, neem die Assiriese koning hulle oor. In die proses verloor hulle hul bestaansreg en identiteit.

Ons is maar net soos die volk. Ons gehoorsaamheid laat veel te wense oor. Eintlik verdien ons ook om ons bestaansreg en identiteit te verloor.

Maar God het in ons tyd iets nuuts gedoen! Hy het sy Seun vir ons gestuur. Sy seun sou nie net namens ons sterf vir ons foute nie, maar ook namens ons lewe. Vandag vind ons ons bestaansreg en identiteit in Jesus! Hy het dit alles namens ons verdien.

Ons is swak, maar Hy is sterk. Maar omdat daar ‘n band tussen ons en Jesus bestaan, maak Hy ons deel van sy sirkel. Hy laat toe dat ons in sy oorwinning deel. Ons pluk die vrugte van dit wat Jesus vir ons bereik het.

Anders as die stamme van Ruben, Gad en Manasse, kan ons God die Vader se volgehoue guns en beskerming geniet, níe omdat ons so toegewyd leef nie, maar omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood.

1 Kronieke 4

“Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.”
Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”
God het laat gebeur wat hy gevra het.”

Die afgelope paar dae spandeer ons tyd in die geslagsregisters. Ek weet dit kan partykeer vervelig voel. Dit het immers nie dieselfde prioriteit in óns kultuur, as in die kultuur van die mens in die Ou Nabye Ooste nie.

Maar telkens verras die geslagsregisters my tog. Dan vind mens ‘n juweel wat alles die moeite werd maak. Vandag sien ons die gedeelte oor Jabes wat so tussen alles weggesteek lê.

Jabes het eintlik net 3 dinge van die Here gevra:

  • Dat die Here sy seën oor hom sal uitstort.
  • Die die Here sy grondgebied sal vergroot.
  • Dat die Here hom sal beskerm.

Jabes se gebed is eenvoudig en ongekompliseerd. Die Here het gedoen wat hy gevra het.

Ek is dikwels ietwat versigtig vir Jabes se gebed. Sy gebed maak my ongemaklik omdat dit vir my voel ons hoor die “American dream” daarin: ‘n gróót lewe met baie geld en min weerstand en probleme. Wie wil nie so ‘n lewe hê nie?

Maar werk ek vir God of werk Hy vir my? Ons dink te maklik dat God tot ons diens is. Ek dink nie dat Jabes se gebed in sy tyd bedoel het, wat ons vandag in ons selfgerigte kultuur daarmee hoor nie.

Maar nogtans beteken sy gebed vir ons baie. Die feit dat sy Ma hom met smart in die wêreld gebring het en dit in sy naam verewig het, was ‘n geweldige klad op sy identiteit. Hy moes dit soos ‘n lelike ettiket om sy nek die res van sy lewe saamdra. Dit was eintlik roekeloos en liefdeloos van sy eie Ma.

Maar die Here het daardie wond van verwerping genees en sy lewe op ‘n ander koers geplaas. Die leed wat ander ons aandoen, het nie die laaste sê oor ons uiteinde nie. Die Here hoor ons gebede.

En om daardie rede is Jabes se gebed uiters kosbaar vir ons: As ek my lewe aan die Here toevertrou, het Hý die laaste sê oor die uitkoms daarvan.