Category Archives: 1 Konings

1 Konings 19

‘n Mens se hart gaan regtig uit na Elia as jy hierdie gedeelte lees.

Waar hy in die vorige hoofstuk ‘n reuse oorwinning oor die profete van Baäl behaal het, bevind hy hom in hierdie hoofstuk onder die besembos. Hy is bang vir Isebel en mens kry nogal die indruk dat Elia moeg is. Hy is geestelik gedreineer.

Dit is opvallend om te sien dat hy twee keer by die Here protesteer:

Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” (vers 10 en vers 14)

Die Here was nie onsimpatiek teenoor Elia nie. Die Here hoor hom, want die Here verkwik hom met kos, skuilplek en ‘n vars teofanie (Godsverskyning). Toe Elia egter daarna nóg protesteer, antwoord die Here deur te sê:

“Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe…” en toe kom Elia se nuwe opdrag.

Wat leer ek uit hierdie gedeelte oor geestelike leierskap? Wel, eerstens dat uitbranding ‘n realiteit is. Tweedens dat die Here nie onsimpatiek teenoor dit staan nie. Maar derdens sien ek ook dat die beste manier om weer op die been te kom, is om weer jou opdrag gehoorsaam uit te voer.

Glo my, ek was al daar. Dit is goed om ‘n blaaskans te vat soos Elia onder die besembos. Maar dit is ‘n ander storie om in die woestyn aan te bly. Hoe langer jy “in die woestyn” agterbly, hoe moeiliker raak dit om weer terug te keer.

1 Konings 18

Sjoe, vandag se stuk laat ‘n mens se tone krul van lekkerkry. Die kragtige manier waarop die Here die Baälprofete verneder het, het geen twyfel in mense se gemoed gelos of die Here ernstig geneem moet word nie.

Partykeer wens mens dat die Here vandag weer so klinkklaar sal afreken met almal wat Hom bespot. Oms wil dan ook soos Elia vuur vanuit die hemel uit afroep.

Maar dan word ons herinner aan die geleentheid toe Jesus se dissipels vuur uit die hemel op die Samaritane wou afroep. Jesus het egter nie met dit akkoord gegaan nie. Ky net wat het gebeur:

Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek. (Luk 9:55-56)

Sou ons kon sê dat die manier waarop God sy grootheid in Ou Testament aan mense bewys, verskil van die manier waarop Hy dit in die Nuwe Testament doen? In die Ou Testament was dit met kragdadige wonders. Maar in die Nuwe Testament bewys die Here sy grootheid deur sy liefde. 

As ons dus vir die wêreld wil wys dat ons God “eg” is (soos Elia gedoen het), dan moet ons nie vuur afroep soos die dissipels nie, maar die Here se liefde aan mense openbaar.

1 Konings 17

Die weduwee se kruik wat nie opraak nie, is ‘n lekker uitdagende storie…

Uit die staanspoor aanvaar ons dat die verhaal oor die Here se voorsiening handel, daar waar Hy gedien en gehoorsaam word. Maar met ‘n nadere kyk van die teks sien ons dat die gebied waar die weduwee haarself bevind het, Sarfat was (vers 10). Sarfat was ‘n streek waar Baäl gedien was. Die veronderstelling is dus dat die weduwee eintlik ‘n heiden was.

Dit laat mens nogal met ander oë na die teks kyk, en ook ander vrae aan die teks vra. Soos hoe vêr strek die allesbeskikking van die Here? Want híer beheer Hy duidelik die denke en gedrag van selfs ‘n heidense vrou. Hy gebruik háár om vir sy dienaar te sorg.

Dit herinner my aan wat Martin Luther gesê het. Hy het gesê dat selfs die Bose nie in staat is om iets te doen, as die Here dit nie beskik nie. Satan is vir God soos ‘n klein skoothondjie. Dit is verder as wat ek persoonlik sou gaan as ons praat oor allesbeskikking, maar die feit bly staan dat niks vir God buite beheer of selfs buite bereik is nie. Selfs nie Sarfat nie.

1 Konings 15

Om ‘n leier van integriteit te wees, vra dat jy deurgaans die regte ding doen – selfs as die regte ding die moeilike ding is.

Asa was so’n koning oor Juda. 1 Konings 15 sê dat hy in die voetspore van sy voorvader Dawid geloop het (vers 11) en vertel dan ook verder wat hy alles gedoen het. Onder andere staan daar…

Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy ‘n Asjerabeeld, ‘n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand. (1 Kon 15:13)

Dit moes baie moeilik wees om teen jou eie familie op te tree. Maar dit was die regte ding om te doen.

Op die oomblik vang die geweldige leierskapskrisis van Suid Afrika my baie. Dit is onstellend om te sien hoe leiers een ding sê en ‘n ander ding doen. Ons het leiers van integriteit nodig.

Vandag is daar oral oor Suid Afrika optogte om te protesteer teen president Zuma. Kom ons maak ‘n punt om spesifiek vandag vir ons land te bid.

Maar kom ons waak ook daarteen om te dink dat ‘n geestelike verdieping net by ander mense nodig is. Kom ons bid ook dat onsself mense van integriteit sal wees. Kom ons bid dat verandering by ons sal begin.

1 Kon 14

In vandag se hoofstuk neem ons afskeid van beide Jerobeam en Rehabeam. Altwee se dood word in hierdie gedeelte verhaal.

Mens moet regtig besef hoe groot was rimpeleffek van hierdie twee konings regeringstyd. Te danke aan hulle, sou God se volk voortaan geskeur wees. As jy die geskiedenis van God se volk wil verstaan, moet jy besef dat ná hierdie 2 konings was daar nooit weer ‘n verenigde volk nie.

Die 12 seuns van Jakob het elk ‘n stamvader geword. Saam was die 12 stamme die volk van God. Saul, Dawid en Salomo het nog oor ‘n verenigde volg regeer. Maar Salomo se seun Rehabeam, se swak leierskap het die volk genoop om te skei. En Jerobeam was gewillig om die leiding te neem van die stamme wat weggebreek het.

Voortaan het jy 2 koninkryke gekry: Die Noordryk en die Suidryk. Die Suidryk was die stam Juda en hulle was steeds gesetel in Jerusalem. Die Noordryk se hoofstad was Samaria en het die res van die stamme verteenwoordig.

Wat nou gaan volg in die volgende hoofstukke is die geskiedenis van die konings wat mekaar opvolg. Onderskei elke keer van watter koninkryk hulle was, want dit het ‘n effek. 

Uiteindelik is die Noordryk in 722vC in ballingskap weggevoer en die Suidryk in 586vC.

Terug by vandag se hoofstuk sien ons Jerobeam en Rehabeam het afvallig geword. Die enigste een wat getrou bly is die Here. Hoewel sy volk Hom gelos het, bly Hy getrou aan sy belofte aan Dawid. Dit is eintlik ‘n roerende prentjie van genade. 

Vandag nog beleef ek dat die Here ‘n nouer pad met my loop as wat ek met Hom loop. Sy getrouheid aan my is hoër as myne aan Hom. Daarvoor kan ek net die Here dank.

1 Konings 13

Sjoe, vandag lees ons weer ‘n teks wat nogal moeilik sit in jou gemoed. Wat met die jong profeet gebeur voel so onregverdig…

Sien, hy moes na koning Jerobeam toe gaan om God se misnoë aan te kondig oor die afgode wat aanbid word. Oppad terug na Juda, kom daar ‘n ou profeet van die gebied en nooi hom om eers by hom te kom eet. Die jong profeet wys die uitnodiging van die hand en sê dat die Here uitdruklik vir Hom gesê het om nie in hierdie gebied eers iets te eet of te drink nie.

Maar dan doen die ou profeet ‘n gemene, geslepe ding…

Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook ‘n profeet net soos jy, en ‘n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!” Maar die óú profeet het vir hom gelieg. (1 Kon 13:18)

Die jong profeet “val” vir die liegstorie van die ou profeet en dit kos hom uiteindelik sy lewe.

Mens se eerste reaksie is om die jonger profeet jammer te kry. Jou simpatie lê by hom omdat hy bedrieg is. En was dit nou regtig só erg om iets te eet en drink by ‘n mede-profeet? Is daar nie ‘n klomp ander dinge wat erger sondes is nie? Is dit nie bietjie onbillik van die Here om dan te beskik dat die profeet tot sterwe moet kom nie? Dit is inderdaad my eerste reaksie.

Maar ek word herinner aan die woorde van Tim Keller – en ek parafraseer nou – “As die God wat jy aanbid nooit jou lewensuitkyk uitdaag of selfs jou aanstoot gee nie, dan is die kans goed dat die God wat jy aanbid net die produk van jou eie verbeelding is”. As ons immers ‘n God aanbid wat eg is, dan moet Hy tog sekerlik op sekere punte van ons verskil.

En dit lyk my hier verskil God van my. Dit lyk my God plaas ‘n hoër premie op gehoorsaamheid as wat ek gedink het Hy hoef. 

En nou is die vraag waar los dit my? Dink ek maar net Hy is “kleinlik en onbillik” om soveel gehoorsaamheid te vereis, en daarom hou ek aan om my eie kop te volg oor wat ék dink reg en billik is? Ék sal besluit wat reg en verkeerd is, wat sonde is en wat nie! Of laat ek toe dat die teks my verander? Hoor ek dat die Here waarlik nougesette gehoorsaamheid van my verwag?

Dit plaas die indrukke in ons lewe, wat ons ervaar as die Here se stem, in ‘n totaal ander lig. Dit noop my om absoluut getrou te bly aan dit wat ek glo die Here vir my gesê het.

1 Konings 12

Vererg jy jou ook soms vir iemand wat jou te nakom? Miskien was die persoon ongevoelig in sy opmerkings teenoor jou? Of miskien voel jy die persoon het nie aandag aan jou gegee nie. Jy voel dalk jy is op meer respek geregtig. Jy voel daar was onbedagsaam teenoor jou opgetree.

Dit is alles tekens van ‘n gekwesde ego. Ons liggeraaktheid verklap aan ons dat ons waardeloos voel, en as ander se optrede daardie persepsie bevestig, dan wil ons onsself handhaaf deur groter respek te vereis of deur daarop aan te dring dat ons méér waardevol is as wat ons voel.

Ons almal lei daaraan tot ‘n meerdere of ‘n mindere mate. Ek inkluis. Ek skrik dikwels vir hoe kwesbaar my eie ego is. Hoe maklik ek seergemaak voel. Hoe maklik ek bedreig voel. Hoe vinnig ek jaloers op iemand anders voel.

Rehabeam en Jerobeam was nie anders nie. Rehabeam was koning Salomo se seun. 

Hy probeer sy gevoel van minderwaardigheid wegsteek, deur te oorkompenseer. Hy sê vir die volk: “Julle het gedink my Pa was erg. Wag tot julle my sien” (vers 10). Sy oordrewe manhaftigheid bereik toe presies die teenoorgestelde as waarvoor hy gehoop het. Die volk verwerp hom en skeur weg! Hoe’s dit vir ‘n ego wat alreeds seer is?!

Die volk kroon toe vir Jerobeam as koning. Maar Jerobeam sit nie in Jerusalem nie, maar in Sigem. Sy ego vrees ook verwerping. Hy is bang dat as die volk 3 keer per jaar Jerusalem toe moet gaan om te offer, dat hulle spyt kry en weer Rehabeam begin aanhang.

Om sý ego te beskerm, bou hy toe twee goue kalwerbeelde (vers 28) aan wie die volk kan offers bring. Sodoende hoef hul nooit weer Jerusalem toe te gaan nie.

So die een leier skeur God se volk. Die ander leier lei hulle van die wal in die sloot. Alles net oor ego’s. 

Hoeveel keer kry die saak van die Here skade omdat my ego ook in die pad kom? Hoeveel keer kry my getuienis skade omdat ek optree vanuit my minderwaardigheid?

1 Konings 11

Salomo is aan ons bekend oor die swakplek wat hy vir vrouens uit ander volke gehad het.

Die Bybel sê “Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue“. (1 Kon 11:3)

Die rede hoekom hy so baie vrouens gehad het, was waarskynlik nie vanweë wellus of so iets nie. Dit was meer waarskynlik omdat dogters destyds gegee is as die seël op handelsbetrekkinge. Dit was dus nie sy liefde vir vroue nie, maar sy liefde vir geld, waarom hy uiteindelik so baie vrouens gehad het.

Nogtans sê die Bybel dan…

Dit was sy vrouens wat hom verlei het. Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. (1 Konings” 11:3–4)

Lewensmaats smeer aan mekaar af. Ons beïnvloed mekaar se uitkyk op die lewe en die prioriteite wat ons najaag.

  • As jy met iemand getroud is wat nie jou liefde vir die Here deel nie, vra vandag die Here om jou staande te hou – en ook dat jou lewensmaat eendag aangeraak sal word deur die Heilige Gees.
  • As jy nie getroud is nie, vra die Here om vir jou eendag ‘n lewensmaat te gee wat vir Hom ken en lief is.
  • As jy getroud is met iemand wat die Here ken, dank Hom daarvoor en vra Hom dat julle saam geestelik sal groei.
  • As jy kinders het, kan jy ook bid dat die Here eendag vir jou kinders ‘n lewensmaat sal gee wat hul verhouding met die Here sal goed doen.

1 Konings 10

Is rykdom ‘n teken van God se seën omdat Hy in sy skik is met jou? Is welvaart ‘n aanduiding van God se guns omdat Hy met die persoon tevrede is?

Ons dink dikwels so, ne? Ons bid dit ook. Wanneer ons bid “Here, seën ons“, verwag ons dat die Here vir ons finansieel sal goed wees.

In die Bybelse tyd het mense ook so gedink. Die outeur van 1 Konings kruis swaarde met hierdie siening. Eers sleur Hy ons mee om ook te begin dink dat die Here se guns ongetwyfeld op Salomo was, omdat dat dit op materiële vlak so goed met hom gegaan het. Hy noem een welvaartseëning na die ander op. Selfs die koningin van Skeba gee aan God die eer toe sy Salomo se rykdom sien (vers 4 en 9)

Twee keer in die hoofstuk sê hy iets in die lyn van: “Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.” (1 Konings 10:21; 27)

Maar dan in die tweede laaste vers sê hy: “Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. Om ‘n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en ‘n perd ongeveer een en ‘n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.” (1Konings 10:28-28)

Nou, vir ons ongeoefende oog lyk dit maar net na nog ‘n opmerking oor Salomo se buitengewone goeie handelsvernuf. Maar die eerste lesers het die Wet geken. Hulle het raakgesien dat hierdie opmerking onheil voorspel. Hulle het geweet dat God se Wet dit uitdruklik verbied. In Deuteronomium staan daar:
Hy (die koning) mag nie baie perde aanhou nie en hy mag ook nie die volk na Egipte toe laat teruggaan om vir hulle baie perde aan te skaf nie. Die Here het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer daarheen teruggaan nie.’ (Deut 17:16)

Salomo se rykdom was dus glad nie tekenend van sy vroomheid nie. Sy finansiële voorspoed het niks gesê oor sy geestelike diepte nie.

Mag ek ook daarteen waak om nooit welvaart as maatstaf te gebruik om geestelike diepte te peil nie.

1 Konings 9

Bitter-soet. Dit is die gevoel wat jy kry as jy hierdie hoofstuk lees. Wat veronderstel is om ‘n hoogtepunt te wees word gevolg deur ‘n rits opmerkings wat ‘n frank smaak in jou mond laat.

Die hoogtepunt was toe die Here vir Salomo oor die nuwe tempel sê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.” (1 Kon 9:3)

Maar dan vervolg die hoofstuk met lys dinge wat Salomo gedoen het wat mens eintlik dwars in die keel steek. Die teks praat van dwangarbeid wat hy gebruik het, jy lei verder af daar was swaar belastings op die volk gehef en verder sien jy sy verbintenis met die Farao se dogter wat onheil voorspel.

Mens kry die heeltyd die idee dat Salomo dit oordoen. Dat sy bouprogram die finansiële vermoë van sy volk oorspan. Dit word wel vir Here gedoen, maar ek kan nie help om te vra of daar nie ook ‘n goeie dosis ego in sy bouwerk opgesluit lê nie. Die krake in Salomo se voete van klei begin alreeds wys (en in die volgende hoofstuk word dit nog meer sigbaar)

As mens die ou met die nuwe verbond kontrasteer, dan weet mens ons het soveel om voor dankbaar te wees. Waar God se Gees in die verlede sy intrek in ‘n gebou geneem het, vind ons vandag die Gees se teenwoordigheid in mense. Die kruis van Jesus het ons waardig gemaak ek versoening met God moontlik gemaak.

Ek kan ook nie anders as om dan vir die Heilige Gees te vra dat Hy my motiewe sal deursoek nie. Mag Hy my help dat ego, skein en bedekte agendas en motiewe nooit die dryfveer sal wees waarom ek iets “in die naam van die Here” doen nie.