Category Archives: 5.) Deuteronomium

Deuteronomium 35

Deuteronomium 35 beskryf Moses se dood. Vers 10 lui:

Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.

Wat Moses met ander woorde van ander leiers onderskei het, was sy verhouding met die Here. Ons sou kon sê dit was eerstehands. Dit was eg.

Dit is so belangrik om te onthou dat wanneer ons sê ons “God dien”, ons nie daarmee bedoel dat ons ‘n stel reëls onderhou, of ‘n dogma onderskryf of aan ‘n soort klub behoort nie.

Allereers beteken dit om God te dien, dan ons Hom persoonlik ken.

My hart dors na hierdie. Ek wil God beter ken. Ek begeer ‘n gebedslewe waar ek nie met myself praat nie, maar waarlik met God. As hy my in die proses wil gebruik, of wonders deur my wil doen, is Hy welkom. Maar dit is ‘n bysaak. Die hoofsaak is om intimiteit met Hom te beleef.

Deuteronomium 31

Daar is 2 dinge wat my tref as ek hierdie gedeelte lees…

“Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met ’n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek. Wanneer baie plae en rampe hom dan tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy nageslag vergeet word nie. Ek weet wat daar vandag in Israel se hart omgaan, hier net voordat Ek hom inbring in die land waaroor Ek ’n eed afgelê het.”” Deut 31:20-22

In die eerste plek is dit vir my opvallend dat die Here geweet het dat die volk ontrou sou word sodra hulle die beloofde land sou ingaan – en tog help Hy hulle steeds. Hy wys ‘n goeie leier vir hulle aan en staan hulle by.

Dit moes sy hart gebreek het om te weet dat hulle Hom sou vergeet sodra dit met hulle begin goed gaan. En nogtans gaan Hy voort om hulle te help…

Is dit nie ‘n wonderlike voorbeeld van die vryheid wat God vir die mens gee nie? Hy beheer nie ons besluite en aksies om Hom te pas nie. Al ken Hy die toekoms, meng Hy nie in met ons selfstandigheid nie.

Wat ‘n wonderlike voorreg is dit darem om só ‘n God wat soveel respek vir sy skepping toon, te dien!

Die tweede wat my opval is die gevaar van voorspoed. In ons dag en tyd is ons dikwels bekommerd oor lyding. “Gaan swaarkry nie dalk veroorsaak dat mense in God begin twyfel nie?”, wonder ons.

Dit gebeur natuurlik! Maar moenie dink dat voorspoed die antwoord vir ‘n stewige geloof is nie. Dit hou sy eie gevaar in. Hier – soos elders ook in die Skrif – skuif God se volk Hom op die agterste sitplek toe dit begin goed gaan.

Wat is die kans dat my gemak, gerief en luukshede struikelblokke in my proses om God te volg, word?

Deuteronomium 30

Vanoggend dink ek na oor die Skrifgedeelte wat lui: “Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.” Deut 30:11-14

Die woordjie “naby” val my op. Moses het gesê God se gebod is naby aan die volk. Die geskiedenis het getoon dat dit steeds te vêr (moeilik) vir die volk was om te onderhou.

Maar Jesus het God se wil werklik naby gebring. Tot binne ons. Hy leef in ons.

En hoe waar is dit darem nie, as vers 20 lui: “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee”

‘n Lewe wat God verwerp, beleef die konsekwensies daarvan. Maar as ons Jesus toelaat om déúr ons God se wil te leef, bring dit waarlik lewe.

Deuteronomium 16

In hoofstuk 16 word die bepalinge vir 3 feeste gegee: die Paasfees, die fees van weke en die huttefees.

Die fees van weke is die een wat my vandag baie opval. Dit het ook bekend gestaan as die Oesfees, omdat dit aan die inbring van die graanoes gekoppel was. Die ander doel van die fees was om die dag waarop die Wet in ontvangs geneem is, jaarliks te vier. Dit moes presies 7 weke na afloop van die Paasfees gevier word. Vandaar het dit dan ook begin bekendstaan as “Pinkster”, want die “penta” het na die 50 dae verwys.

In die Nuwe Testament word die Heilige Gees interessant genoeg op die vyftigste dag na die Paasfees uitgestort. ‘n Ander ooreenkoms is dat die uitstorting van die Gees, ten nouste betrekking het met die insameling van die oes.

Maar daar is ook ‘n skrille kontras tussen die pinkster van die ou testament en díe van die Nuwe Testament: In die Ou Testament het 3000 mense gesterf die dag toe hulle die Wet in ontvangs geneem het. Die dag toe die Heilige Gees egter gegee is, het 3000 mense tot bekering gekom.

Daarom kan Paulus sê dat die Wet gekom het deur die dood, maar dat die Gees lewe bring. Die nuwe bedeling is dus in elke opsig beter.

Daar is dus belangrike ooreenkomste en verskille tussen die fees van weke en die pinksterfees van die Nuwe Testament. Wat my spesifiek vandag opval, is die beweegrede waarom die fees in die Ou Testament gevier moes word.

Vers 10 sê dat jy die fees moes onderhou en ‘n vrywillige offer moes bring, tot die mate waartoe die Here jou met voorspoed geseën het. Dit is vir my interessant dat dankbaarheid die beweegrede moes wees, en dat daar nie ‘n spesifieke voorskrif aan die offer gekoppel was nie. Dit was vrywillig. Jy kon self besluit. In vandag se tyd sou ons sê jy kon jou deur die Gees laat lei. Dit is vir my so tipies en gepas van ‘n fees wat sinspeel op die bedeling van die Gees.

Maar hoe evalueer jy hoe goed die Here vir jou was? Ek meen, sodra jy aan iets dink wat Hy vir jou gedoen het, dan lei jou gedagtes na nog iets, en nog iets en nog iets. Na ‘n ruk besef jy dat alles wat jy het – jou hele bestaan – aan Hom te danke is. Hoe gee mens ‘n offer wat hieraan reg laat geskied? Al wat jy eintlik kan doen – wil doen – is om alles te gee. Jouself te gee. Oor te gee.