All posts by nati@stander.co.za

Het jy al die pakkie oopgemaak?

Ek het nou lekker gelag vir hierdie oulike videogreep!

Dit is ‘n gespottery met die fliek “Cast Away“. Dit was mos die film wat gehandel het oor die FedEx werker wie se vliegtuig geval het, en toe moes hy vir wie weet hoe lank op ‘n eiland oorleef in die aller verskriklikste toestande… Kyk na die video en geniet dit saam.

Ek het gedink dit is ‘n baie skerp advertensie. Daardie man wou seker homself skop toe hy sien wat alles in die FedEx-pakkie was wat hy al die jare in sy sorg gehad het. As hy dit maar net op daardie eiland oopgemaak het, dan sou sy lewe darem baie makliker gewees het!

Ek het ‘n idee dat baie van ons as Christene ook so is. Ons sit met ‘n pakkie in ons hand wat die lewe hier, aansienlik vir ons kan verander – as ons  dit maar net sou oopmaak!

Daardie pakkie is natuurlik die Bybel. Dit bevat God se Woorde vir ons lewe – lewensbelangrike instruksies wat waarlik jou bestaan kan verander.

Ek is so  bly dat jy besluit het om “die pakkie” oop te maak en saam met ons ‘n reis deur God se Woord te onderneem. Ons begin amptelik met jaar 1 se leesrooster op 1 Februarie 2016.

Ek wil jou uitnooi om die Bybelskoolsessie van 28 Januarie 2016 by te woon. Nie net gaan dit vir jou die agtergrond van Februarie se leesstukke verduidelik nie, maar ook iets meer oor hoe die leesrooster saamgestel is en wat jy kan verwag in die jaar. Ons kom 18:00 by NG Witrivier bymekaar.

Indien jy nie die Bybelskool kan bywoon nie, kan jy die media op hierdie webtuiste aftrek. Ek vermoed ons sal dit vir jou rondom 31 Januarie gereed hê.

Die beoogde Bybelskooldatums vir die res van die jaar, lyk as volg:

  • Don 25 Feb 2016
  • Don 31 Mrt 2016
  • Don 21 April 2016
  • Don 26 Mei 2016
  • Don 23 Jun 2016
  • Don 28 Jul 2016
  • Don 25 Aug 2016
  • Don 29 Sept 2016
  • Don 27 Okt 2016
  • Don 17 Nov 2016
  • Don 1 Des 2016
  • Don 26 Jan 2017

Ons sal telkens om 18:00 begin. Die media van die onderskeie sessies behoort 3 dae na die Bybelskoolsessie op die webtuiste beskikbaar te wees.

Ek glo jy gaan die reis lewensveranderend beleef! Mag die Here jou seën.

In Jesus

Nati