All posts by nati@stander.co.za

Psalm 9 & 10 (11 Maart)

Vandag lees ons Psalm 9 en 10.

Dit wil blyk asof hierdie 2 Psalms destyds saam gebundel was, nog lank voordat die Psalmboek soos ons dit vandag ken, totstand gekom het. Een van die redes waarom geleerdes hierdie mening huldig, is omdat Psalm 9 afsluit met die gebed dat die Here Homself sal openbaar, en Psalm 10 begin met dieselfde pleidooi.

Psalm 10 se struktuur is opmerklik. Daar is duidelike ontwikkeling. Ons sou baie kon leer by die digter: Sy aanvanklike verwyt wat hy in eerlikheid teenoor die Here rig; maar ook die progressie sodat hy kies om sy Psalm te eindig met ‘n geloofsuitspraak. Ons sal goed doen as ons dit sou kon aanleer. Ja, ons mag eerlike moeilike vrae aan die Here rig. Maar daar is niks prysenswaardig daaraan om daar te stop nie. Die kuns is om ons vertwyfeling te laat oorgaan in ‘n keuse vír vetroue.

Wat my egter vandag opval, is die eenvoudige sinnetjie van Psalm 9:11 “… U Here laat díe wat vra na U wil, nie in die steek nie.”

Prewel dit vir jouself ‘n paar keer oor en oor. Dink daaroor. Wat beteken dit vir jou? Miskien staan jy voor besluite op die oomblik. Vra jy genoeg na die Here se wil?  Of miskien het jy nodig om vandag te hoor dat die Here nie jou in die steek gaan laat nie.

Neem hierdie sin saam met jou vandag en bid dit soos wat jy deur die dag gaan. Kom ons ken Hom in elke besluit wat ons moet maak.

Eksodus 24 (10 Mrt)

Eks 24:10-11 Hier is ‘n voorbeeld van ‘n Ou Testamentiese “teofanie”, oftewel “Godsverskyning”. Wat treffend is van hierdie voorbeeld, is dat dit gevolg word deur ‘n maaltyd.

Levitikus 3 se maaltydoffer (waaroor ons later hierdie maand gaan lees) bevat dieselfde gedagte, naamlik dat verhouding met die Here uitgebeeld word deur saam te eet in sy teenwoordigheid. Dit verwoord ‘n diepe intimiteit – die soort verhouding wat onder lede van dieselfde gesin bestaan.

Om dit prakties te maak, kan jy vir ‘n oomblik jou oë toemaak en visualiseer hoe Jesus langs jou sit en met jou praat – en jy met Hom. Ons verhouding met God is nie een van afstand nie, maar intimiteit. Kuier gewoon met die Here soos jy met iemand sou doen aan etenstafel.

Gebed: Word bewus van die teenwoordigheid van die Here net daar waar jy nou is – en geniet bloot verhouding met Hom.

Eksodus 23 (Mrt 9)

Ons almal hou van vinnige oplossings. Daarom wens ons so dikwels dat die Here ons gebede gouer antwoord.

Dalk sou die volk ook graag wou hoor dat die Here die ander volke in ‘n japtrap voor hulle gaan uit verdryf. Maar die Here sê:”Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie” (vers 29). Dit lyk my die Here dink ook aan alles! Hy sien die groter prentjie. En om daardie rede bepaal Hy die tempo waarteen die inname/oorwinning moet plaasvind. Hy sê: “Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” As die Here ‘n kits-inname bewerk het, het die volk net met ‘n ander probleem gesit.

As iemand wat obsessief daaroor is om in beheer te wees, kry ek moeilik reg wat ek nou gaan aanbeveel: Maar kom ons vertrou die Here dat Hy beter weet. Ons kan steeds net so passievol bid soos altyd. Maar kom ons los die uitkoms in die Here se hand. Hy sien die groter prentjie. Hy neem ander goed in ag wat ek en jy nie eers aan dink nie.

Gebed: Spreek vandag net weer jou vertroue teenoor die Here uit. Sê vir Hom dat jy weet dat jóú tyd nie sý tyd is nie. Maar dat jy nogtans jou vertroue op Hom plaas omdat jy glo dat Hy beter weet.

Eksodus 22 (8 Maart)

Die rits sosiaal-maatskaplike bepalings van hoofstuk 21, vervolg in hierdie hoofstuk. Dit is uiteenlopende regulasies. As ons egter een gemeenskaplike punt soek, sal dit wees dat al die regulasies oor horisontale verhoudings handel. In die volgende hoofstuk sal daar weer oor ons vertikale verhouding met God gepraat word. Maar in hierdie hoofstuk handel dit geheel en al oor my interaksie met ander mense. Laat niemand sê dat menseverhoudinge nie vir die Here belangrik is nie.

Kom ek gaan vandag met hierdie wete my dag tegemoet: Die Here is begaan oor hoe ek die mense behandel wat vandag my pad kruis…

Gebed: Dankie Here dat U my vandag herinner dat my menseverhoudings vir U belangrik is.

Eksodus 21 (Maart 7)

Na die einde van Eksodus 21 vind ons ‘n hele rits  sosiaal-maatskaplike bepalings, waaruit ons eintlik wonderlike beginsels kan haal. Neem byvoorbeeld die bepalings wat handel oor beeste wat ander mense kan beseer. Op die oog af lyk dit glad nie van toepassing op ons nie. Tog is die implisiete beginsel dat ons verantwoordelik moet optree – en dat ons ‘n verpligting het om toe te sien dat ons optrede niemand anders benadeel nie.

Meer onstellend is die eerste deel van die hoofstuk. Dit handel oor slawe en selfs as jy jou dogter as slavin sou verkoop. Ons eerste reaksie is een van walging. Ons dink: “Hoe kan die Bybel sulke goed sê?!”

Miskien is dit goed om in gedagte te hou dat die Bybel nie die gebruike propageer nie. Dit probeer dus nie iemand aanmoedig om sulke goed te doen nie. Dit speel eerder in op aanvaarde praktyke van die dag. Dat mense dus soms hulle dogters as slavinne verkoop het, was die gebruik van die dag. Wat nie die norm was nie, was om toe te sien dat die dogter ongedeerd kan terugkom as haar eienaar haar nie meer wil hê nie.

Waar die Bybel eers gelyk het of dit meedoen aan wanpraktyke, blyk dit nou dat die Bybel eintlik kontra die kultuur van sy tyd uitsprake maak – en as’ t ware ‘n baie vroeë kampvegter vir medemenslikheid en selfs vroueregte is.

Gebed: Kom ons vra die Here om ons te help om altyd met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid teenoor ander mense op te tree.

Eksodus 20 (5 Maart)

As jy Eksodus 20 lees, kan mens nie help om ‘n gevoel van eerbied te kry nie. Die gee van die Wet (20:1-17) word omarm deur 2 gedeeltes wat die volk se angs beklemtoon (19:20-25 en 20:18-21). Jy kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat jy hier met ‘n groot God te make net nie. Uiterste respek is die enigste gepaste reaksie.

En tog los Eksodus 20 jou ook met die gevoel van onvervulling. Enige wet is op die minimum vereiste ingestel. As jy byvoorbeeld net wil gehoor gee aan die wet om jou kinders skool toe te stuur, dan het jy nog nie by hulle die begeerte geskep om leergierig te wees nie. En op een vlak is dit oa ‘n verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond. In die Ou verbond sê die wet jy mag nie jou medemens vermoor nie (minimum vereiste). In die Nuwe verbond bemagtig die Heilige Gees ons om ons medemens lief te hê (maksimum prestasie). Dit is soos die teoloog Paul Zahl sê, dít wat die Wet vereis, kan die Wet nie by ons wek nie. Daarteenoor is dít wat die Gees in ons wek, geen Wet oor nie.

Die kort en die lank is dat Eksodus 20 vir ons God se heiligheid onderstreep. En ook ons aan die voorreg herinner om kinders van die Nuwe verbond te mag wees.

Gebed: Sê vir die Here dankie dat Hy sy Heilige Gees in ons harte gestort het, en dat jy jou lewe nou wil inrig aan die hand van hoe die Gees lei en volgens die vrug wat Hy in jou lewe wil bewerk.

Psalm 7 & 8 (Maart 6)

Ps 8:7 Die feit dat die Here die mens geskep het om te heers oor sy skepping, is ‘n tema wat veels te min ontgin word onder ons as gelowiges. Dit is ‘n massiewe tema in die Skrif wat ons onderbeklemtoon. Díe wat wel die tema opneem, maak weer te veel van die mens as ‘n soort “baasspelerige” figuur wat die natuur kan ontgin (lees uitbuit) tot sy eie voordeel. Die gedagte wat agter “heers” sit, is dienende leierskap. Uit diepe toewyding, is die mens veronderstel om die natuur se belange te bevoordeel.

Gebed: Kom ons vra die Here om ons te wys waar ons met dienende-besorgdheid oor die skepping kan heers. Dalk laat Hy ons diere sien wat mishandel word, of miskien druk die Here die geweldige krisis van vermorsing van water op jou hart in hierdie tyd. Wat dit ook al gaan wees, weet dat die welstand van die natuur vir God belangrik is, en daarom moet dit ook vir ons belangrik wees.

Eksodus 19 (Mrt 4)

In Eksodus 19 kom daar as’t ware ‘n nuwe volk totstand. Die Here roep die volk in die lewe en gee vir hulle bestaansreg. Hulle bestaansreg sou geskoei wees op hul identiteit: hul is die eiendom van Yahweh, ‘n koninklike priesterdom. Die idee was dat hulle op ‘n besondere manier afgegrens sou wees van al die ander heidense nasies, om sodoende God te verheerlik.

Petrus sê ons as kinders van die nuwe verbond is ook ‘n nuwe volk, ‘n koninklike priesterdom. Ons is ook op ‘n spesiale manier aan die Here gewy. My bestaansreg vind ek in hierdie nuwe identiteit.

Vind ek my identiteit in dit wat ek moet doen, of méér in dit wat die Here aan my gedoen het? Is die klem in my verhouding met die Here op dit wat ek moet wórd, of dit wat ek moet wéés?

Gebed: Vra die Here om ons te help om raak te sien dat die klem in ons verhouding, altyd meer moet val op dit wat Hy gedoen het en hoe hy ons aan Hom gewy het.

Eks 18 (Maart 3)

Eks 18:17 Die verhouding tussen Moses en sy skoonpa is verstommend. Daar is opregte belangstelling en betrokkenheid van die kant van Jetro. En by Moses is daar nie liggeraaktheid as hy deur die ouer (en wyser) persoon gekorrigeer word nie. Hy sien nie Jetro as ‘n bedreiging nie. Moses en Jetro stel vir ons die voorbeeld dat familieverhoudinge gesond kan wees.

Hoe lyk my familieverhoudings? Neem ek dalk soms te maklik aanstoot? Is ek te liggeraak? Laat ek toe dat mense in my lewe inspreek? Is die manier waarop ek in familie se lewe inspreek, sensitief genoeg? Steek ek nie soms my neus in sake wat nie op my betrekking het nie?

Gebed: Kom ons vra die Here om ons met wysheid te seën sodat ons sal weet hoe om in ons familieverhoudings op te tree met balans, erkenning van grense, en tonne respek en sensitiwiteit.

Eksodus 17 (2 Maart)

In Eks 17:15 vind ons nog ‘n eienaam van die Here wat met sy verbondsnaam Yahweh verbind. Dit is die naam “Yahweh-Nissi”. In die ou vetaling word dit weergegee as “Die Here is my banier” en in die nuwe vertaling as “Die Here gee my die oorwinning”.

Moses’hulle was oppad na die beloofde land onder die banier van Yahweh. Omdat hulle Hom gehoorsaam, gee Hy vir hulle die oorwinning.

Kan ek nie ook my dagtaak – en selfs my lewe – met hierdie eienaam van die Here tegemoet gaan nie? Wanneer ek voor moeilike situasies te staan kom, onthou ek Yahweh-Nissi. Mag alles wat ek doen en sê, wees asof ek onder die banier van my God leef. Dit moet aan Hom eer bring. En omdat ek Hom gehoorsaam, weet ek gaan ek met sy seën en beskerming.

Gebed:  Mag ek alles wat ek doen, U verheerlik.