All posts by nati@stander.co.za

Psalm 5

Psalm 5 skets deurgaans kontraste tussen goed en sleg: Mense wat God dien, en mense wat hulle nie aan Hom steur nie. Die Here se goeie gesindheid jeens sy dienaars, en sy afsku aan die goddelose.

Interessant genoeg, wannneer die digter sê dat Hy in die tempel mag ingaan, reken hy dat die rede vir daardie groot voorreg, die Here se liefde is en nie sy eie goeie dade nie. Hy trap dus nie in die strik van verdienstelikheid deur werke nie. Hy sê: “Maar ek, ek mag deur U groot liefde in U huis ingaan en in U tempel buig…” (vers 8)

Maar die frase wat vanoggend tot my hart spreek, vind ek in sy heel laaste sin as hy die lewe van iemand beskryf wat God dien: “…u goedheid beskerm hom soos ‘n skild.” (Vers 13)

Ten spyte van al my probleme en al my bekommernisse, identifiseer ek so sterk met daardie sin. Die Here se goedheid omvou my waarlik en draai my as’t ware toe in ‘n mantel van versorging, liefde, beskerming en voorsiening. Vanoggend gee ek opnuut aan Hom erkenning daarvoor.

Openbaring 7

Baie jare gelede het ek te make gekry met die argument dat Jesus nie regtig Homself as God beskou het nie. Sy dissipels het ook nie so aan Hom gedink nie, en die Bybel probeer ook nie die aanspraak maak dat Jesus God is nie. Die oortuiging dat Jesus God is, is kwansuis iets wat baie later deur Christene opgedis was en toe aan Jesus toegedig geword het.

Die groot gevaar van hierdie redenasie – bo en behalwe dat dit nie waar is nie – is dat dit van Jesus bloot ‘n morele voorbeeld maak. Hy is nie God nie, ook nie Verlosser nie, net ‘n voorbeeld van iemand wat in liefde geleef het.

Maar die stelling dat niemand Jesus as God beskou het nie, is natuurlik glad nie waar nie. Daar is baie voorbeelde waar Jesus self aanspraak maak op Godskap, en net so vind ons daardie oortuiging ook by die dissipels. Sedertdien het dit egter vir my groot lekkerte geword om plekke in die Skrif raak te sien waar die Bybel spesifiek oor die Godheid van Jesus praat.

Mens moet natuurlik weet waarvoor om te soek. Geen van die eerste eeuse outeurs – wat uit die Joodse agtergrond gekom het – sou dit verwoord soos ons dit vandag doen nie. As jy dus na frases soek soos: “Jesus is die tweede lid van die drie-eenheid”, gaan jy tevergeefs soek. Maar die afwesigheid van sulke dogmatiese stellings beteken nie dat hulle nie Jesus as God erken het nie.

Neem byvoorbeeld die vreeslike interessante opmerking in vers 17 van vandag se hoofstuk. Daar word in Openbaring 7 geskryf dat die Lam “in die middel van die troon” is.

Miskien gaan die grootsheid van hierdie opmerking heeltemal by ons verby omdat ons nie met koninklike troonkamers vandag meer bekend is nie.

‘n Troon is gereserveer vir een persoon en een persoon alleen: Die Koning. As enige iemand anders dit naby die troon sou waag, word dit beskou as ‘n aanslag op die Koning se outoriteit, en dit was strafbaar met die doodstraf (ons sien iets daarvan in die verhaal van Ester).

Maar hier in Openbaring 7:17 sien ons is die Lam (Jesus) doodluiters op die troon – en nogal nie wáár nie – in die middel van die troon! Hy het nie wankelrig aan die kant van die troon verbete probeer vasklou nie. Hy was stewig in die middel! Praat van Christo-sentries!

Openbaring 4

Die vierde hoofstuk van Openbaring beskryf die troonkamer van God.

Vers 6 val my in die besonder op: Voor die troon is dit ‘n spieëlgladde see. Die Jode was nie seevaarders nie. Die see met sy onstuimigheid was vir hulle die toonbeeld van alles wat onheilspellend is. Maar die wonder gebeur dat voor die troon van die Here verander dit wat vir hulle onheil in hou, in iets mooi. Die see verloor sy onstuimigheid en word kristalhelder en spieëlglad. Die Here sien dwarsdeur die dreigende gevaar. Vir Hom is dit niks.

Die ironie van die saak is dat mens so paar verse vooraf gelees het dat daar ook dreunings, weerligstrale en aardbewings van die troon uitgegaan het. Normaalweg sou mens dink dat hierdie natuurverskynsels juis onstuimige see sou veroorsaak.

Maar dit is natuurlik alles beelde. Hoewel hierdie natuurverskynsels vir ons weer angs veroorsaak, was dit alles in die Ou Testament tekens van Teofanie – van Godsverskyning.

En so vind ons in hierdie hoofstuk die paradoks dat beide die aardbewings en ook die spieëlgladde see, God se teenwoordigheid aankondig. God is midde in die gedruis en ook in die stilte. Nie die goeie of die slegte sal God kan onttroon nie.

Ook op hierdie oomblik – wat ook al die omstandighede in my en jou lewe is, bly God op die troon.

Eksodus 6

In vandag se hoofstuk lees ons hoe die Farao net nóg eise op die Israeliete laai. Van nou af moet hulle ook die stoppels bymekaar maak waarmee hulle die bakstene maak – maar die kwota bakstene bly dieselfde per dag. Dit is natuurlik totaal en al onhoudbaar…

Die Ou Testamentikus, Walter Brueggemann, sê dat die Farao in hierdie storie die verpersoonliking is van enige magsfiguur – of struktuur – in ons lewe. Hy is ons werk. Hy is ook ons kultuur – van nóg en nóg en nóg eise oplaai.

Jy moet aanhou lewer, aanhou presteer. Nooit kom jy op ‘n plek waar jy genoeg gedoen het nie.

Die tragiek is dat vir baie van ons, ons godsdiens ook ‘n Farao-vorm aanneem. Ons word gekondisioneer deur godsdiens dat ons moet aanhou dóén. Nooit kom jy op ‘n plek waar jy genoeg is en net aanvaar word vir wie jy is nie.

Die evangelie staan in skrille kontras hiermee. In die evangelie gaan dit nie oor wat ék doen nie, maar oor wat Jesus doen en gedoen het. Die evangelie is die goeie nuus dat ek uiteindelik hoor “genoeg is genoeg”.

‘n Nuwe siklus begin!

Liewe Bereaan

Ons het dit gedoen! Ons het die Bybel in 3 jaar deurgelees! Baie dankie vir elkeen wat saam lees en al die boodskappe wat julle vir my stuur. Dit beteken vir my baie.

Vandag begin ‘n splinternuwe 3-jaar siklus. Dit beteken jy benodig ‘n nuwe leesrooster wat jou deur die eerste jaar gaan neem.

Jy kan die leesrooster aflaai deur op hierdie skakel te klik

Ons herhaal met ander woorde nou die proses waarmee ons die afgelope 3 jaar mee besig was.

Dit sal vir my heerlik wees as jy kies om te bly en aan te hou met die saamreis. Maar as jy om een of ander rede wil ophou en eerder ‘n ander metode van Bybellees wil gebruik, dan verstaan ek heeltemal.

Onder aan hierdie epos is daar ‘n “unsubscribe” knoppie. Klik dit gewoon en jy sal ophou om die refleksievrae per epos te ontvang.

Indien jy kies om jou Bybel vir ‘n tweede keer deur te lees, dan is jy welkom om te bly! Dit sal vir my lekker wees as jy nog ‘n siklus saamreis deur God se Woord.

Dankie vir jou saamreis en al die vrae en insette deur die 3 jaar. Dit is werklik spesiaal vir my.

Jeremia 49

Ons boer vanoggend weer in Jeremia. In hierdie hoofstuk word die oordeel oor die Ammoniete en die Edomiete aangekondig. Hullenwas die vyande van Israel.

Wat interessant is, is dat die Edomiete se stede baie goed verskans was, en dat dit die indruk gegee het dat die stede oninneembaar was. Tog sê die Here…

“Die vrees wat ander vir jou het en jou vermetelheid het jou mislei. Jy woon teen die kranse, jy klou vas aan die hoë bergtoppe, maar al bou jy jou nes daar in die hoogte soos ’n aasvoël, Ek sal jou daar afhaal, sê die Here.” (vers 17)

Partykeer voel dit vir ons ook of die probleme wat ons in die gesig staar, onmoontlik is om te oorkom. Net soos wat die Here vir Israel se vyande egter sê: “Ek sal jou daar afhaal”, so is ons krisisse vir die Here ook nie onoorkombaar nie.

Dink vanoggend aan jou grootste probleem. Gee dit dan vir die Here en vra Hom om ‘n uitweg te skep waar daar nie een is nie.

2 Kronieke 34

Hierdie hoofstuk in die boek 2 Kronieke, is nogal ‘n belangrike hoofstuk omdat dit van ‘n belangrike moment in die geskiedenis van die volk vertel. Dit handel oor die keer toe ‘n gedeelte van die Wetboek (waarskynlik ‘n gedeelte van die eerste 5 boeke van die Ou Testament), na baie jare weer deur Josia gevind is.

Wat my vandag opval in hierdie hoofstuk, is hoe geestelike groei in ‘n mens se lewe werk. Die hoofstuk verhaal dat Josia 8 jaar oud was toe hy koning geword het, en 16 was toe hy die Here begin dien het. Toe hy 20 was, het hy begin om die afgodsaltare in die land te verwyder. Waarom eers toe? Waarom eers na 4 jaar?

Toe hy 26 is, het hy opdrag gegee dat die tempel wat al deur baie jare se verwaarlosing is, herstel moet word. Waarom eers toe? Waarom eers 10 jaar nadat hy die Here begin dien het?

Dit is eintlik baie menslik wat hier gebeur. Wanneer jy die Here begin dien, besef jy nog nie wat ál die konsekwensies gaan wees omdat jy Hom volg nie. Eers soos wat jou toewyding groei, begin jy besef dat verhouding met Hóm ‘n appél los op ander fasette van my lewe waaraan ek nie vroeër gedink het nie. Wie van ons sou immers aan die begin van ons verhouding met die Here kon raai, dat verhouding met Hom ‘n eis aan my etiek in die werksplek sou stel, die soort huwelik wat ek eendag wil hê, die manier waarop ek my kinders grootmaak, die toekomsdrome wat ek droom…

Dit is asof die appél wat verhouding met die Here op my lewe plaas, stelselmatig uitkring na meer en meer fasette van jou lewe. Dit is wat met Josia gebeur het en dit is goed.

Die probleem is dat dit nie altyd gebeur nie. Geestelike onmondigheid is wanneer ons weier dat verhouding met die Here die ander fasette van my lewe penetreer.

Kom ons stel vanoggend in gebed, elke faset van ons lewe oop aan die Here. Ons gee aan Hom Carte Blanche om te maak soos Hy wil in elke aspek van my lewe.

Hooglied 8

Sjoe, vandag se gedeelte in Hooglied is weereens treffend.

Vanaf vers 5 is die man en vrou uiteindelik by mekaar. Hulle liefde is brandend vir mekaar en dit is pragtig om te sien. Op ‘n stadium sê die vrou byvoorbeeld “Die liefde is sterker as die dood, hartstog magtiger as die doderyk” (vers 6).

Hulle liefkosing word ook weereens eksplisiet beskryf, wat vir my wys dat God se Woord glad nie verleë is oor seks nie. Dit moet net op die regte plek plaasvind – in ‘n huwelik.

Sy dink byvoorbeeld in vers 8 tot 9 terug aan ‘n tydperk in haar lewe toe haar broers oor haar wag gehou het. Hulle noem dat haar borste nog nie toe ontwikkeld was nie. Hulle sê as sy ‘n “muur” sou wees – bedoelend as sy sou weerstand bied teen seksuele versoekings – dan sal hulle silwertoring op haar bou. Waarskynlik is dit heenwysend na haar borste wat dan eendag baie kosbaar vir haar man gaan wees.

As sy egter ‘n deur gaan wees – bedoelend, as sy prematuur ontvanklik gaan wees vir seksuele omgang – gaan hulle stappe moet neem om haar te verhoed. (Die deur met sederbalke toesluit).

Dit is so ‘n treffende beeld oor die gepaste tyd en plek (huwelik) wat seks in jou lewe moet hê. Sy gaan dan voort om te sê dat sy wél ‘n muur was (weerstand gebied het), en daarom is haar borste nou torings wat haar man gelukkig maak (vers 10).

Dan gebruik haar man weer ‘n beeld van ‘n wingerdtuin. In so ‘n tuin wat jou eie is, is daar geen geheime plek waarvan jy nie weet nie. Die héle tuin is joune. Weereens pragtige beeldspraak oor seks. Binne die grense van die huwelik hoef ons niks vir mekaar terug te hou nie.

Dit lyk my die gedeelte maak jou attent op 2 gevare: Jy kan te veel maak van seks, of jy kan te min maak van die seksuele. As jy te veel maak daarvan, dan gee jy ‘n plek daaraan buite die raamwerk van die huwelik. As jy te min maak daarvan, dan is jy iemand wat ongemaklik raak met die beskrywings in hierdie hoofstuk. Dan moedig gedeeltes soos hierdie in God se Woord jou aan om eienaarskap te neem van jou eie seksualiteit (selfs iemand wat enkellopend is, kan met ander woorde by hierdie waarskuwing baat). Jou lyf – en seksualiteit is mooi en is nie iets waaroor jy skaam hoef te wees nie.

Mag die Here gee dat elkeen van ons die veilig tussen hierdie twee gevare sal deurloop.

Spreuke 31

Het jy hierdie mooi woorde gesien wat Lemuel se Ma vir hom gesê het? Dit praat vanoggend met my…

“Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan;” (Spr 31:8)

Praat namens hulle wat nie kan praat nie. Wees ‘n stem vir die stemlose. Dit vra van my om te vereenselwig met mense wat swaarder kry as wat ek doen. Dit vra ook dat wanneer ek in ‘n posisie van invloed is, ek nie die stemloses sal vergeet nie.

Kan jy dink hoe ‘n samelewing sal lyk as leiers nie op eie gewin uit is nie, maar waarlik uitkyk vir die belange van onderdrukte persone? Dit help nie ek sit en wag vir so ‘n samelewing om ééndag te vorm nie. Dit begin by my.

Openbaring 16

In gister se hoofstuk het ons gelees dat gelowiges nie bang hoef te wees vir God se komende oordeel nie. Ook maar goed só, want as Openbaring 16 vandag uitbrei oor wat wag, is dit niks minder as vreesaanjaend nie.

En dan presies in die middel van die 6 oordele, lees ons iets wat ons tot stilstand roep. Toe die derde engel die bak met God se oordeel moet omkeer, sê hy:

“Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: “U is regverdig,
U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het;” (vers 5)

Dit voel so vreemd om woorde soos “regverdig” in dieselfde sin as “oordeel” te lees – veral as mens in ag neem hoe geweldig fel God se oordeel in Openbaring 16 is.

Toe tref dit my: Glo ons nog hierin? Glo ons nog in ‘n God wat mag oordeel? Glo ons nog in ‘n God wat selfs mag straf as Hy so sou goed dink? Of het ons van God ‘n sagte teddiebeer gemaak wat eintlik net daar is vir my emosionele onderskraging?

‘n Paar jaar gelede het die sosioloog Christian Smith die term “moral therapeutic deism” geformuleer. Dit was na aanleiding van hulle observasies van ‘n nuwe geslag gelowiges.

Volgens “moral therapeutic deism” – oftewel “moralistiese terapeutiese deïsme” het God nie veel erg aan hoe ek (of ander mense) hulle lewens lei nie. Gevolglik moet ek ook nie ‘n te groot bohaai maak oor morele waardes en moraliteit nie. Nie net glo die nuwe generasie “gelowiges” nie aan iets soos straf nie, maar hulle glo ook nie dat God soms opofferinge van jou vereis nie. Verhouding met die Here word gereduseer tot ‘n terapeutiese rol. Hy is eintlik maar net daar om jou te bemoedig en aan te moedig soos jy deur die lewe gaan – dit is nou die lewe en lewenstyl wat jy vir jouself kies.

Dit is tragies, maar dit is ongelukkig waar talle Christene hulself vandag bevind. Maar dit is hoekom dit so belangrik is dat ons Bybel lees soos wat ons doen. Want sodoende konfronteer ons onsself met die feit dat God nie “neutraal” oor alles in die lewe voel nie. Inteendeel, soms voel Hy passievol toornig oor sonde.

Gaan ek die Bybel aanpas om by my “prentjie” van God in te pas? Of gaan ek my “prentjie” van God by die Bybel aanpas?