Nehemia 9

In hierdie hoofstuk word daar ‘n lang gebed weergegee wat die Leviete die volk in gelei het.

Daar is ‘n paar opvallendhede in die gebed. Een van die belangrikste waarnemings is dat die gebed – wat in effek die geskiedenis van die volk oorvertel – ‘n akkurate beskrywing van die gebeure is.

Die vedskillende misdrywe van die volk word nie sagter gestel as wat dit was nie. Dit word nie geregverdig of gerasionaliseer nie.

So dikwels wanneer ons vandag oor ons sonde praat, bied ons saam met ons skulderkenning ‘n verduideliking aan wat poog om ons oortreding te verskoon.

Meer nog as dit, vandag is dit hoogmode om God te blameer. Dikwels hoor ons hoe iemand God vir hulle sonde beskuldig. “U was so stil! Wat was ek veronderstel om te doen?!”

Maar Nehemia 9 se gebed ken niks hiervan nie. Die Leviete lei die volk om volkome eienaarskap te neem vir hulle benarde situasie. Op ‘n stadium lui die gebed selfs:

In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.
NEHEMIA 9:33

Partykeer doen mens ‘n seerplek op, en dan is jou natuurlike instink om die wond toe te hou. Maar as jy wil hê die wond moet gesond word, dan help dit nie jy hou dit net toe nie. Mens moet dit oopmaak en ontsmet. Wie ‘n wond net toehou moet niks goeds te wagte wees nie.

Dit werk op’n soortgelyke wyse ook so met sonde. Dit is nie lekker om te weet dat ons gebroke mense is wat oortree nie. Ons natuurlike instink is om dit te ontken. Ons wil die blaam skuif. Ons wil regverdiging kry vir ons optrede. Ons wil ons oortreding onderspeel.

Maar ware genesing kom eers as ons voor God erken: Alles wat U doen is reg. Alles wat ek doen is verkeerd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *