2 Kronieke 34

Hierdie hoofstuk in die boek 2 Kronieke, is nogal ‘n belangrike hoofstuk omdat dit van ‘n belangrike moment in die geskiedenis van die volk vertel. Dit handel oor die keer toe ‘n gedeelte van die Wetboek (waarskynlik ‘n gedeelte van die eerste 5 boeke van die Ou Testament), na baie jare weer deur Josia gevind is.

Wat my vandag opval in hierdie hoofstuk, is hoe geestelike groei in ‘n mens se lewe werk. Die hoofstuk verhaal dat Josia 8 jaar oud was toe hy koning geword het, en 16 was toe hy die Here begin dien het. Toe hy 20 was, het hy begin om die afgodsaltare in die land te verwyder. Waarom eers toe? Waarom eers na 4 jaar?

Toe hy 26 is, het hy opdrag gegee dat die tempel wat al deur baie jare se verwaarlosing is, herstel moet word. Waarom eers toe? Waarom eers 10 jaar nadat hy die Here begin dien het?

Dit is eintlik baie menslik wat hier gebeur. Wanneer jy die Here begin dien, besef jy nog nie wat ál die konsekwensies gaan wees omdat jy Hom volg nie. Eers soos wat jou toewyding groei, begin jy besef dat verhouding met Hóm ‘n appél los op ander fasette van my lewe waaraan ek nie vroeër gedink het nie. Wie van ons sou immers aan die begin van ons verhouding met die Here kon raai, dat verhouding met Hom ‘n eis aan my etiek in die werksplek sou stel, die soort huwelik wat ek eendag wil hê, die manier waarop ek my kinders grootmaak, die toekomsdrome wat ek droom…

Dit is asof die appél wat verhouding met die Here op my lewe plaas, stelselmatig uitkring na meer en meer fasette van jou lewe. Dit is wat met Josia gebeur het en dit is goed.

Die probleem is dat dit nie altyd gebeur nie. Geestelike onmondigheid is wanneer ons weier dat verhouding met die Here die ander fasette van my lewe penetreer.

Kom ons stel vanoggend in gebed, elke faset van ons lewe oop aan die Here. Ons gee aan Hom Carte Blanche om te maak soos Hy wil in elke aspek van my lewe.