2 Kronieke 28

Die geskiedenis van Koning Agas lees soos een groot mislukking na die ander. Hy, as koning van die Suidelike ryk, was selfs meer ontrou aan die Here as die goddelose mense van die Noordryk.

Die Noordelike stamme van Israel het ten minste nog gehoor gegee aan die profeet Obed (vers 9). Maar dit lyk of Agas sy brood aan alle kante gebotter wou hê. Hy laat mens dink aan die Engelse gesegde: “The person who does not stand for something, will fall for anything”. Dit het letterlik van Agas waar geword.

Hy soek selfs hulp by die Assiriese koning – maar ook dit boemerang op hom. Die Assiriërs kom, maar nie om hom te help nie maar om hom te plunder. In Agas se pleidooi aan hulle, het hulle waarskynlik gesien hier is ‘n sagte teiken wat geplunder kan word.

Asof dit nie genoeg is nie, begin Agas toe offers bring aan die afgode van die Assiriërs. Die Bybel beskryf dit as volg:

“Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here. Hy het offerandes gebring vir die gode van Damaskus wat hom verslaan het, met die redenasie: “Die gode van Aramese konings het hulle gehelp; nou bring ek vir daardie gode offerandes dat hulle my ook kan help.”” 2 Kron 28:23

‘n Regte manteldraaier! Hy is soos ‘n kat op ‘n warm stoofplaat wat benoude spronge in alle rigtings maak. Hy spring egter in alle rigtings behalwe terug na die Here. Hy probeer so hard om sy brood aan alle kante gebotter te hou, dat dit presies die teendeel bereik. Die mense (en afgode) wat hy gehoop het bring vir hom en sy mense verlossing, maak van hulle slawe.

Dit is net so met ons. Ons mensgemaakte “messiasse”, dwing ons mettertyd onder ‘n juk van hulle eie. Daarom is Agas se lewe vir ons ‘n wekroep om ons oë slegs op die Here te hou – en standvastig daarin te bly.