1 Konings 3

Klik hier om jou nuwe LEESROOSTER af te laai

Vanoggend lees ons van die keuse wat Salomo gemaak het. Die Here het vir hom in ‘n droom gesê: “Wat kan ek vir jou gee?” (vers 5)

Salomo het vir alle praktiese doeleindes ‘n blanko tjek van die Here ontvang. Wil hy die ondergang van sy vyande hê? Wil hy rykdom hê? ‘n Lang lewe?

Van alles wat Salomo kan kies, kies hy: “Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” (vers 9)

Dit is goed om Salomo se besluit te bestudeer – want dit het baie groot byval by die Here gevind.

Mens sou sekerlik kon sê dat hy karakter gekies het – bó besittings. Wat hy gekies het is iets wat nie gekoop kon word nie, maar wat sy identiteit sou word: ‘n Wyse koning.

Meer onderliggend aan sy keuse, is die feit dat hy nie iets kies vir homself nie maar vir sy mense. Hy sê as’t ware “maak my asseblief ‘n gehoorsame en wyse koning, sodat my mense beteraf sal wees”. Dit is ‘n merk van onselfsugtigheid in sy leierskap.

Mag die keuses wat ons vandag maak, ook geskoei wees op die gedagte van hoe ander mense daaruit voordeel kan trek.